Ek’t van 12 Desember 2017 tot 12 Januarie 2018 met ʼn Toyota Hilux 2.8 GD-6 dubbelkajuit 4×4 handrat gery. Ek’t in totaal 4 116km gery en R4 947.49 se brandstof ingegooi. Daar was drie verskillende bene op ons reistog.
Die eerste been is van my huis in Pretoria na die Katse dam in Lesotho. Dit is 544km, alles teerpad. Sulke vankansiereistogte is lieflik met ʼn dubbelkajuit. Mens hoef nie te kommer oor pakplek nie. Die bagasie, lyfplanke, noodhulptrommel en wie weet wat nog alles is agter op die bakkie gepak, kinders vasgegespe en die Hilux is in Lesotho se rigting gewys.
Die eerste paar honderd kilometer verdwyn in ʼn oogwink met die spoedbeheer op 120km/h gestel. Dit is eintlik lieflik om ander paaie te ry, nie die doodgewone ou N3 nie. By Villiers vat mens die R26 na Frankfort, Tweeling, Reitz, Bethlehem en eindelik Fouriesburg. Ons bly in ʼn bitter mooi land. As ʼn jong lat het ek altyd gedink die Vrystaat is die lelikste provinsie. Nie so nie. Die Oos-Vrystaat is bitter mooi. By Caledonspoort is ons in ʼn oogwink deur die grenspos.
Lesotho is regtigwaar prentjie-mooi. Die paaie lyk soos repies spaghetti wat teen die berg geplaas is. Net binne die grens leer ons bitter vinnig dat daar nie Cell C opvangs is in Lesotho nie. Slimjan het ook nie gedink dat Google Maps moontlik ʼn probleem kan word sonder selfoonopvangs nie. Nietemin, oor berge en deur dale is elke aangesig mooier as die vorige een. Die Hilux se padhouvermoë indrukwekkend op die kronkelpaaie. Die hoë bestuursposisie verseker dat mens alles mooi kan sien. Die eerste dag sien ons ʼn piek van 3 090m. Tot die Hilux se 2.8 GD-6 enjin voel asmaties op dié hoogte.
Ons is 07:30 by die huis weg, 12:00 deur die grens en het 14:30 by Katse Lodge gearriveer. 544km en ʼn paar bergpasse later sien ons die asemrowende Katse dam voor ons. Die Hilux het sonder een enkele protes ons veilig tot ons eerste bestemming gebring.
Die Hilux waarmee ons ry is ʼn 2.8 GD-6 dubbelkajuit 4×4 Raider. Die bakkie kos R576 400. Die enjin bied 130kW en 420Nm. Die Hilux het 7-lugsakke en ʼn magdom ander veiligheidstelsels. Die bakkie kan 3 500kg sleep, maar meer daaroor in die volgende artikel oor ons sleeptog met die Hilux.
Odometer begin | 1 246km |
Odometer nou | 2 499km |
Afstand afgelê | 1 253km |
Brandstof ingegooi | 105ℓ |
Brandstof koste | R1 526.17 |
Brandstof verbruik | 8.4ℓ/100km |
Die volgende been van Katse Lodge oor Sanipas tot in Margate is waar dinge interessant raak. Daai storie volg oor ʼn paar dae.
Hoeveel keer het die Hilux gerol!
Dagsê FF
Baie dankie vir jou kommentaar. Nie een keer in 4 116km nie. Omtrent 250km daarvan op grondpaaie. Tensy jy self al een gerol het onder normale toestande sal ek stry dat dit totale bog is dat Hilux bakkies net omval. Jy sal in die volgende storie lees hoekom ek só sê.
Groetnis
Brendon
nms Maroela Media
‘n Interessante tog in ‘n goeie voertuig, dankie vir die oorsig en foto’s.
Hi Brendon
Ek stem saam jou.
Ons het Pretoria,Kaapstsd,Weskus,Kgalagadi in Desember gedoen total 4730 km met 2.8
Hilux 4×4.
Ry soos n droom.
Groete
Francois