Langtermyntoets: Katse tot Margate via Sanipas

Die Toyota Hilux 2.8 GD-6 dubbelkajuit 4×4 (Foto: Toyota)

Ná aankoms in Lesotho en die skokbesef dat daar geen Cell C-opvangs is nie, én dat mens seker “roaming” sou moes aanskakel voor mens Suid-Afrika verlaat het, is daar een ding wat heeltyd by my spook … Hoe gaan ons môre navigeer sonder Google Maps? Met aankoms by Katse Lodge sien ons daar is WIFI, so ek ontspan en besluit ek sal die volgende oggend met ontbyt die roete insit, en siedaar …

Wel, nie-so-siedaar-nie. Die WIFI is die volgende oggend af. My foon het Lesotho se kaarte tot ʼn mate afgelaai, so ek kan darem die paaie sien wat ek wil ry, al sal daar nie navigasie-instruksies wees nie. Ons is onverskrokke ontdekkingsreisigers! Ons is nie bang nie …

Kinders en tasse veilig terug in die Hilux, draai ons in Sanipas se rigting. Ná gister se pragtige natuurskoon sien ons uit na wat vandag inhou. Sommer vinnig ná ons Katse Lodge verlaat, draai ons regs op “die pad” na Sanipas. Dis grond. Redelik slegte grond, maar ons kan so tussen 30 en 60 km/h handhaaf. Ná ʼn geruime tyd, en ʼn paar gebede, kom ons by die volgende “dorpie” waar ons links moet draai.

Brendon Staniforth se toer van Katse tot Margate (Foto: Brendon Staniforth)

Dis teer! Vir so 150 m. Ai. Die polisie trek ons af, vra waar ons geslaap het, is dit mooi, waarheen is ons op pad en wens ons ʼn veilige reistog toe. Terug op die grond ploeter ons maar verder. Dit is wel regtig asemrowend mooi. Dit is onweer, so die son bak ons nie stukkend nie – en oor die pieke teen 3 200 m is die lug taamlik dun en koel.

Die grondpad word mooi, regtig mooi. Ons kan vir so 50 km oor 100 km/h ry. Ek dog, sien – daar was niks om voor bang te wees nie. Wel … eintlik was daar. Net soos die pad skielik mooi geword het, word hy sleg … regtig sleg. Ek probeer 1ste rat-hoëstrek, maar dit sukkel. Die slote en hobbels is net te erg en die tekort aan suurstof op 3 000 m beroof die Hilux van sy krag. Vroulief se sin vir humor het so twee uur en 50 km terug verdwyn, nes die mooi grondpad. Ek besluit toe, die enigste manier om nie met ʼn mes gesteek te word of die kar te beskadig nie is om in laestrek te ry.

Dit maak die hobbels nie kleiner nie, maar die gestamp is aansienlik minder. Ek begin wonder, hoe ver is dit padlangs. Google Maps wys omtrent 15 km soos die kraai vlieg, maar Lesotho se paaie wandel en draai só dat dit moontlik 100 km padlangs kan wees. In laestrek, teen 4 km/h. Eina. Gelukkig hou dit nie te lank aan nie. Ons weet ons moet regs draai op ʼn pad Sanipas toe. Ons kom by die T-aansluiting, en wonder bo wonders – dit is die mooiste teerpad wat jy al in jou hele lewe gesien het.

Die Sjinese het dié stuk pad vir Lesotho gebou. Die teer is seepglad, die strepe en padtekens duidelik – tot die veiligheidsrelings lyk perfek. Aangesien ons vyf uur geneem het om tot hier te kom, besluit ek om maar bietjie voet in die hoek te sit en te sien of ek vroulief se sin vir humor kan opspoor. Daar is egter een probleempie met my plan. Ons is met tye nog 2 800 m bo seespieël. Die lug is regtig dun, te dun om die remstelsel mooi af te koel. Teen so 120 km/h kom ons oor ʼn bult, en daar is ʼn waarskuwing dat die afdraand 1:6 daal. Dit is verskriklik steil. Ek sit die Hilux terug 5de toe en kyk of dit hom bietjie sal terughou. Toe nie. Ek kom terug 4de toe … steeds nie. Uhmmmm, reg. Nou moet ons mooi dink wat ons hier gaan doen. Ek gaan heel moontlik net een kans kry met die rem, ek moet dit op die regte tyd gebruik.

Brendon Staniforth se toer van Katse tot Margate (Foto: Brendon Staniforth)

Soos ons nader aan die draai onder kom, sien ek die draai is nie ʼn haarnaald nie, maar ook nie net ʼn slap kink nie. Ek skat die 140 km/h wat ons nou ry, gaan heeltemal te veel wees. Ek wil afslek na so 80 km/h toe. Ek skat my spasie en wragtig, toe ek begin rem, raak die pedaal so vaag soos my vrou se geduld in hierdie stadium. Teen die tyd dat ons die draai vang, is ons nog op so 100 km/h en ek wil regtig nie die remstelsel beskadig nie, so ek vra my vrou om verskoning en vat die draai so 30 km/h te vinnig.

Die Hilux se bande protesteer ernstig, maar die vering en padhouvermoë is voorwaar indrukwekkend. Ek’t gedink die Hilux gaan niks hiervan hou nie, maar hy’t hom regtig puik gedra. Mense wat sê Hilux-bakkies val net om, weet nie waarvan hulle praat nie. By die hoogste kroeg in Afrika bo op Sanipas drink ons koffie, en ek is bly om te sien my vrou is opgewonde om amper terug te wees in Suid-Afrika by selfoonopvangs.

Brendon Staniforth se toer van Katse tot Margate (Foto: Brendon Staniforth)

Sanipas is pragtig. Die kinders is te bly om terug te wees op ʼn grondpad – hulle hou daarvan en wil heeltyd net 4×4. Ons stop halfpad af by een van die stroompies wat van die berg af kom en skep water. Dit is yskoud en seker die lekkerste water wat ek al ooit geproe het. Sanipas is kinderspeletjies vir die Hilux. Onderaan die pas so net voor die teerpad begin dit reën. Nee wag … Sous. Die ruitveërs is op hul vinnigste en ek kan steeds nie sien nie. Ek dank die Here dat dit nie só gereën het terwyl ons nog bo op die pas was nie.

ʼn Kort entjie later hou dit op reën, en ons stel die ou getroue Google Maps vir ons verblyfplek by die see. Dis al redelik laat, en ons het nog so 220 km om te gaan. Die vriende wat ons by die woonstel kry, wag vir ons daar. Natal se agterpaaie is netjies. Vroulief se sin vir humor is terug, en sy sê: Laat ons by die woonstel kom … my boude raak nou lam. Meer bewys dat die Hilux sal uithaal en wys, al vra jy baie van hom. Hy protesteer nie. Die brandstofverbruik is nou effe hoër, maar ons het aansienlik vinniger gery.

Ons het ʼn speletjie wat ons altyd met die kinders speel. Die een wat eerste die see sien, moet hardop gil. Ná ʼn paar SEE!-gille kom ons by die woonstel aan. Die Hilux is vuil, maar heel. Weereens staan ek en kyk met bewondering na die voertuig wat ons so ver gebring het, sonder protes – oor sulke terrein – en heel belangrikste, veilig.

Odometer begin1 246 km
Odometer nou3 168 km
Afstand afgelê1 922 km
Brandstof ingegooi167 ℓ
BrandstofkosteR2 420.82
Brandstofverbruik8.7 ℓ/100 km

Oor ʼn week sal ons die see groet, gou huis toe gaan – wasgoed was en die woonwa pak … Meer daaroor in die volgende aflewering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marcel ·

Ek kan nie glo Ford verkoop nog bakkies nie. Hoe koop iemand iets anders as ‘n Hilux.

Mornay ·

Ek was ook bevoor reg om die pragtige plek te sien te danke aan my aard van werk ek was altyd onder die indruk dat SA die pad katse dam toe ge bou het vir die water voor regte wat ons vandag geniet
Dit laat my baie ver terug dink
Brendon waar is die pryse van die ondier
groete

Dirk ·

Brendon, voel die binneruim nie ‘n bietjie goedkoop nie?

Ek het so vinnig in een gery en na een gaan kyk in die vertoonlokaal, en in beide gevalle het hy goedkoop gevoel – altans, nie so goed gebou soos die vorige model (legend 45) nie. Wat is jou opinie?

Groete

Brendon ·

Dagsê Dirk

Baie dankie vir jou kommentaar. Nee, glad nie vir my nie. Die handremkous se kwaliteit kan verbeter word, en die klankstelselskerm lyk of dit moontlik ‘n nagedagte was, maar die bougehalte van die binneruim is puik. Oor die slegte grondpaaie was daar geen ratels, en die sitplekke uiters gemaklik. Waarteen vergelyk jy hom?

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Daan ·

Die 2016 model se wiele het volgens my nie mooi gelyk nie maar die verbeterde model lyk puik ek ry net Toyota en was nog nie een dag spyt gewees nie.

Wouter ·

My Hilux 3.0 D4D 2013 het nou 740000 km op. Ek lek enige ander trokkie se gat wat dit doen met die min geld gespandeer en die toestand van die voertuig. Net jammer ons kan nie foto’s hier oplaai nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.