Lexus se nuwe IS-sportsedan ‘belowend’

(Foto: Verskaf)

Lexus het so pas sy nuutste IS-sportsedan digitaal aan die wêreld gewys. Oor die jare heen het Lexus al vir hom ʼn nis uitgekerf tussen die vier ander luukse handelsmerke in Suid-Afrika. Die IS se direkte mededingers is Audi se A4, BMW se 3-reeks, Jaguar se XE en Mercedes-Benz se C-klas. Ongelukkig kry ons nie meer ʼn Volvo S60 in Suid-Afrika nie.

Lexus was nog nooit die sportiefste van dié mededingers nie, maar Lexus se vakmanne bly getrou aan hul visie. Die nuwe IS sal in die VSA met ʼn 3.5 V6-petrolenjin en agterwielaandrywing so wel as vierwielaandrywing beskikbaar wees vir die kouer klimaatstoestande waar sneeu ʼn uitdaging is.

Die F-Sport‑weergawe het ʼn pakket beskikbaar met spesiale vering, liggewig wiele en ʼn beperkte glip-agterewenaar. Dit is alles bestanddele vir ʼn fantastiese ervaring. Dis egter in die binneruim waar Lexus my betower. Die meeste Lexus-voertuie se kajuit pas soos ʼn handskoen. Die materiale is voortreflik en die bougehalte eersteklas. Dan praat ons nie eers van die Mark Levinson-klankstelsel wat amper ongeëwenaard is nie.

Lexus Suid-Afrika beoog om die IS vroeg in 2021 bekend te stel, en kon nie nou die spesifikasies bevestig nie. As ek moet bespiegel, glo ek daar sal ʼn 2.0-viersilinderturbo-model wees, ʼn hibridiese model en dan die reeksleidende 350 met ʼn V6-petrolenjin.

Die Lexus onderneem om uitnemend te presteer in die afdeling vir padhouvermoë, te danke aan hul spoggerige nuwe Toyota Technical Centre Shimoyama. Hulle sal ʼn totaal van ¥300 biljoen belê in dié sentrum, en dit is waar van Toyota en Lexus se navorsing en ontwikkeling plaasvind. Op die 5,2 km-baan kan ingenieurs ʼn voertuig verfyn tot hy perfek is.

Ek sien daarna uit om in 2021 die nuwe Lexus IS plaaslik te toetsbestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.