Luister: Alles loop reg, altyd reg vir Al-Attiyah

Nasser Al-Attiyah, Glyn Hall en Matthieu Baumel vier hul sege. Foto: ANA

’n Toyota Hilux wat in Suid-Afrika gebou is, is Donderdagmiddag eerste oor die wenstreep in vanjaar se moordende Dakar-veldwedren.

Die Katarese jaer Nasser Al-Attiyah het saam sy Franse navigator, Matthieu Baumel, met die louere weggery.

Dit was Al-Attiyah se derde Dakar-sege (hy was in 2011 en 2015 óók die wenner) en sy voorsprong van 51 minute het beteken dat dit nie nodig was om op die laaste dag die spoednaald in die rooi te druk nie. Dié skof is deur die 2018-wenner, Carlos Sainz, gewen.

Al-Attiyah het soos ’n Tour de France-geeltruifietsryer toegelaat dat ander die skof namens hom ry en toe hy uiteindelik in die 12de plek aangekruie kom, het hy steeds die kampioenskap met ’n algehele voorsprong van 46 minute gewen.

Al-Attiyah het sy derde Dakar-titel ingepalm. Foto: ANA.

Sy mederyer vir Toyota Gazoo Racing SA-renspan, die Suid-Afrikaanse held Giniel de Villiers, het die kampioenskap in die algehele negende plek afgesluit.

De Villiers, wat in ’n rits Dakar-wedrenne nog net een keer buite die eerste tien jaers klaargemaak het, het vanjaar in ’n stadium na die 45ste plek teruggesak nadat sy Hilux met die verkeerde kant van ’n klip kennis gemaak het.

Tog is hy baie tevrede met Al-Attiyah se prestasies.

“Hulle (Al-Attiyah en Baumel) het ’n uitstekende Dakar gehad. In al my jare wat ek al deel is van die Dakar het ek nog nie iemand gesien wat geen foute gemaak het nie. Hulle het dit absoluut verdien om te wen.”

Die vreugdevure het hoog in die Toyota-kamp gebrand en ’n oorstelpte spanhoof, Glynn Hall, kon sy emosies kwalik beteuel ná die spogsege. Toyota is al vir agt jaar deel van die Dakar-aksie en dit is die eerste keer dat dié vervaardiger met die titel wegstap.

“Wat ’n ongelooflike week! Nou het ons dit uiteindelik reggekry – ’n Suid-Afrikaans geboude Hilux eerste oor die wenstreep!”

In die motorfietsafdeling het Australië se Toby Price sy tweede titel ingepalm. Price was net een minuut voor Pablo Quintanilla, maar laasgenoemde het geval en kwaai teruggesak. Hoewel hy moedig teruggeveg het, was die agterstand van 19 minute net té groot om in te haal.

Algehele uitslae:

  1. Nassser Al-Attiyah (Toyota)
  2. Nani Roma (Mini)
  3. Sébastian Loeb (Peugeot)

9. Giniel de Villiers (Toyota)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Grens ·

Baie geluk aan die Suid Afrikaanse Toyota span. Dit is ‘n puik prestasie in een van die hardste Dakar’s ooit. Wys jou net, hoe harder die omstandighede, hoe beter doen ‘n Toyota Hilux!!!!

gindra ·

Toyota mooi man . ons gan seke nou weer moet hoor by die mane met die ford ranger 2.2 met n raptor kit en ollie kol spatsels met n plastic bonet cover hoe die Dakar maklik was om te wen .ek sien nogal uit om die stories te lees van die knape .

Toyota jou leke ding

Erich ·

Toyota het net gewen omdat die Dakar so kort was – was nie volle Dakar nie.

Vraagteken ·

Wat het afstand daarmee te doen? Almal het dieselfde afstand gery. Jy ry seker ‘n Ford?

Chris Ws ·

Wag nou manne!Los die gekibbel oor niks.Toyota het gewen en dis klaar. MAAR ‘n privaat ingeskrewe FORD RANGER RAPTOR het 7de algeheel geeindig wat ook merkwaardig is.
Wat wel saak maak is dat Toyota Gazoo Racing onder bestuur van Glyn Hall geskiedenis gemaak het want dis die eerste Suid Afrikaans vervaardigde voertuig van watter aard ook al wat ‘n Dakar kon wen.Ek wil graag weet hoe voel Toyota se hoofkantoor in Japan hieroor!
Geluk aan die Toyota Gazoo span.Julle is ysters!En aan Giniel kan ek net se uitstekend gedaan met jou 9de plek ,dit na jy na sneltrajek drie se drama in die 68ste posisie was en kon terug veg .Jy is ‘n merkwaardige man!

Mooi Ford ·

Ek is baie bly vir die Ford Ranger Raptor want dit vat baie as privaat inskrywing op in posisie 7 te eindig. Die inskrywings en ondersteunings gelde is buitensporig hoog vir ‘n privaat deelnemers. Dis ‘n groot jammerte dat Ford SA nie baie aandag en geld sponser vir wedrenne soos die Dakar nie.

Adri ·

Chris, dit is nou vir my nuus. Het Geniel dan nie in sy oorwinnings met Suid-Arfikaansvervaardigde voertuie gejaag nie? Hy hét mos al gewen, of hoe? Waarmee het hy dan deelgeneem?

Chris Ws ·

Mooi Ford ek stem saam met jou.Dis tyd dat Ford SA hul vingers uit hul g@tte trek en een of twee Rangers inskryf vir die Dakar.Plaaslik doen die 2 Rangers van die Woolridge broers baie goed so waarvoor is hulle bang??Altwee die broers is dekselse goeie tydren jaers waarom hulle in inskryf in fabrieks ondersteunde Raptors nie.Dit sal dinge BAIE interressant maak in die Dakar!Stel jou voor die eerste vier plekke word beklee deur Suid Afrikaan vervaardigde Toyotas en Rangers!Man DIT sal gaaf wees!

Francois Joubert ·

Geniel het gewen in ‘n Volkswagen Toareg, duitse voertuig en ook daar vervaardig en ondersteun deur die duitsers.

Chris Ws ·

Dankie Francois Joubert!Ek hoop Adri verstaan nou net hoe merkwaardig die’ Suid Afrikaans vervaardigde Toyota se wen van die Dakar werklik is.Dis ‘n eerste en regtig geskiedenis.

Nettie ·

Aaaaaaag, en ek het só duim-vasgehou vir Giniel & sy span, dat hulle sou wen – tot daai verdekselste klip …. wel, ‘n klip op hul pad geword het ……………

Chris Ws ·

ja Nettie, ek was net so teleurgesteld oor sy ongeluk.Hy het op daai stadium voor geloop en dit kon beteken hy en Al Attiyah sou 1ste en 2de geeindig het wat dit net meer merkwaardig sou maak.Kom ons kyk wat gebeur volgende jaar.Ek verwag Peugeot gaan dalk weer ‘n fabrieks ingeskrewe motor laat deelneem om hul naam te red!Maar die Toyotas is nou amper onkeerbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.