Mahindra Pik Up kry outo-ratkas 

Die Mahindra Pik Up. Foto: Verskaf

Mahindra is al 14 jaar in Suid-Afrika en noudat die handelsmerk heel goed hier gevestig is, is dit tyd om aan aanbieding te begin werk.

Mahindra het die puik XUV 300 verlede jaar bekendgestel, wat ʼn reusetree in gehalte vir Mahindra was.

Daar is nou ook geleentheid vir Mahindra om groot vordering te maak met sy Pik Up. Dit is nog altyd ʼn geen-nonsens-werkesel en ek was uiters beïndruk met die S10 Pik Up se 2.2 mHawk-enjin.

Die Mahindra Pik Up. Foto: Verskaf

Dié enjin bied 103 kW en 320 Nm wat nie noodwendig asemrowend klink nie, maar op die pad is die Pik Up regtig sterk. Die Pik Up sal nou ook aantrekliker wees vir leefstyl‑ kliënte met sy puik 6-spoed‑wringkragomsitter- outomatiese ratkas. Die outomatiese Pik Up het ses maande lank toetse by Gerotek hier in Suid-Afrika ondergaan.

Ek het laat in Desember ʼn homologasiemodel gery. Die ratkas beïndruk en verander die basiese gevoel van die voertuig van werkesel na ʼn dubbelkajuit waarmee ʼn mens sou kon saamleef.

Die Mahindra Pik Up. Foto: Verskaf

Ons het by Leribisi Lodge ʼn paar van hul hindernisbane gaan aandurf en ek sal sê die Pik Up sal sy man kan staan in die 4×4‑segment. Sodra ʼn mens gewoond is aan hoe elektroniese ewenaarslotte werk, is alles piekfyn.

Al voel die Pik Up effe werkesel is hy rateltaai. Die stuur kan effe direk voel as ʼn mens oor slegte paaie ry, maar wat hy bied teen die prys kan nie geïgnoreer word nie. Gaan toetsbestuur self een, jy is dalk aangenaam verras.

Die reeks lyk nou só:

Mahindra Pik Up 2.2CRDe S4R207 499
Mahindra Pik Up 2.2CRDe S4 valkantR219 499
Mahindra Pik Up 2.2CRDe S4 4×4R247 499
Mahindra Pik Up 2.2CRDe S6R257 499
Mahindra Pik Up 2.2CRDe S6 4×4R302 499
Mahindra Pik Up 2.2CRDe dubbelkajuit S6R312 499
Mahindra Pik Up 2.2CRDe dubbelkajuit S6 KarooR322 499
Mahindra Pik Up 2.2CRDe dubbelkajuit S6 4×4R342 499
Mahindra Pik Up 2.2CRDe dubbelkajuit S10R347 499
Mahindra Pik Up 2.2CRDe dubbelkajuit S6 4×4 KarooR352 499
Mahindra Pik Up 2.2CRDe dubbelkajuit S10 KarooR352 499
Mahindra Pik Up 2.2CRDe dubbelkajuit S10 4×4R377 499
Mahindra Pik Up 2.2CRDe dubbelkajuit S10 4×4 KarooR382 499
Mahindra Pik Up 2.2CRDe dubbelkajuit S11 outoR384 999
Mahindra Pik Up 2.2CRDe dubbelkajuit S11 outo KarooR399 999
Mahindra Pik Up 2.2CRDe dubbelkajuit S11 outo 4×4R414 999
Mahindra Pik Up 2.2CRDe dubbelkajuit S11 outo 4×4 KarooR429 999

Die reeks word gedek deur ʼn 4 jaar/120 000 km‑waarborg en 5 jaar/90 000 km‑diensplan.

Ons sal binnekort meer tyd met die Mahindra deurbring en dan verslag doen oor hoe die bakkie hom in die verkeer en roetine-ritte gedra. Ons sal hom dan ook teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

anton ·

Hierdie is volgens my ”Yster” bakkies en goeie waarde vir geld.
Automatiese ratkaste hoort volgens my by V8 en miskien sommige baie kragtige V6 voertuie en by ouer persone.
Ek persoonlik sal eers aan n Automatiese voertuig dink as ek 70 en ouer is. :-)

Chris ·

Net jammer Mahindra se 14 jaar hier doen geen verskil aan hul waarde nie. Ek ry reeds my derde maar verloor massief as dit by inruil waarde kom. Puik voertuie, geen waarde 2de hands,

Neehouverby ·

Het een gehad, wat ‘n stuk gemors. Alles rattle en val af. Gearbox breek gereeld en baie duur om te herstel. Nooit weer een van die goed op my werf nie!!

Dassie ·

Het jy dalk dag en nag vragte gedra en gesleep… Dis dalk die probleem, enige bakkie se ratkas pak op as hy konstant laai en sleep

Stof ·

Om die frase “4X4” en “outomaties” in dieselfde sin te gebruik, klink soos ‘n gramatikafout?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.