Maroela Media-padtoets: Mazda MX-5 – Klein botteltjie, gróót gif

Mazda MX-5 (Foto: Mazda)

Mazda MX-5 (Foto: Mazda)

Daar is ʼn klein handjievol motors wat elke petrolkop graag sal wil ry. Daar is gewoonlik ʼn paar vereistes waaraan ʼn motor moet voldoen om in hierdie gewaardeerde klas te val. Een van daai vereistes is pret. As ʼn kar vol pret is, is die helfte van die stryd gewen.

Dié klein Mazda MX-5 is die wêreld se gewildste afslaankap-sportmotortjie as ons kyk na verkope. Daar is in April 2016 reeds 1 miljoen MX-5-sportmotors vervaardig sedert 1989! Mazda se resep is nie vreeslik ingewikkeld nie. Maak ʼn klein, ligte motortjie met net genoeg krag om mens te laat glimlag. In so ʼn klein wa sal ʼn mens verbaas wees hoe min krag dit verg om jou baie breed te laat glimlag.

Mazda het in ʼn stadium die pad byster geraak met die tweede generasie. Hulle wou hê hy moet meer soos die ook gewilde MX-6 van die spesifieke tyd lyk. Verkope was nie asemrowend nie, en klomp werk en tyd is bestee aan die derde generasie. Dié model het goed gevaar om Mazda se MX-5 weer gewild te maak.

Mazda MX-5 (Foto: Mazda)

Mazda MX-5 (Foto: Mazda)

Derek Jenkins, die vierde generasie se ontwerper, wou terugkeer na die DNS van die oorspronklike MX-5. Klein, lig en propvol pret. Aangesien die vierde generasie kleiner is as sy voorganger terwyl elke ander motor groter word van een model na die volgende, is bewys dat Mazda met die MX-5 op die regte pad is.

Die MX-5 volg ook soos al die huidige Mazdas die KODO-ontwerpstyl. Daar is allerhande lyne en hoeke, maar die MX-5 is geensins ʼn lelike eendjie nie. Een ding wat hy wel is, is klein. Bitter klein. Ek is glad nie groot nie, en dit neem ʼn paar keer se in en uit voordat jy gewoond raak daaraan. Cyril – een van ons Maroelegas – is aan die lelike kant van ses voet, en hy kon nie pas nie. Hy moes die dak oopmaak en bo-oor die windskerm loer om te kan sien.

Druk die aansitknoppie en die tweeliter-viersilinderenjin brul aan die lewe. Ek neem aan die enjin deel die meeste van sy onderdele met die tweeliter-viersilinder-enjin wat in die CX-3 en Mazda 3 te vinde is, maar wilder bonokasse en ʼn ander uitlaatpyp verander die MX-5 se karakter heeltemal. Dalk is dit omdat die uitlaatpyp maar ʼn meter van jou oor af is – maar die MX-5 brul en blaf, en gee vir jou daai glimlag as jy hom hard verby 7 000 toere druk. Die enjin bied steeds slegs 118 kW en 200 Nm wringkrag, maar die agterwielaandrywing en liggewig van slegs 1 075 kg maak hierdie MX-5 ʼn klein vuurpyl.

Mazda MX-5 (Foto: Mazda)

Mazda MX-5 (Foto: Mazda)

Die binneruim, hoewel klein, bied alles wat ʼn mens wil hê in ʼn tweesitplek-sportmotor. Die MX-5 kan selfs as luuks beskou word. Daar is kragstuur, klimaatbeheer, ʼn lekker klankstelsel, leersitplekke, navigasie en Bluetooth. Indien die binneruim knap raak, laat sak net die dak en dan, siedaar, is daar oorgenoeg kopruimte. Die rathefboom, of altans, boompie is lekker klein en bied ʼn asemrowende kort ratwisseling-aksie. As jy haastig deur die toere jaag en ratte gryp, bly die kierie positief en akkuraat.

0 – 100 km/h Duik op in slegs 7,3 sekondes – nie snikkend vinnig volgens vandag se standaarde nie maar heeltemal vinnig genoeg. Topsnelheid is 214 km/h, en dit met jou boude amper op die teerpad voel soos baie meer. Die MX-5 is eintlik nie net oor tye en topsnelhede van 0 – 100 km/h nie, dit gaan oor die gevoel. Die MX-5 voel asof jy 300 km/h ry. As jy hom hard in ʼn draai in gooi en hy beweeg bietjie rond, gee dit vir jou ʼn vryheid wat die meeste moderne motors van jou af wegneem. Motors is deesdae ontwerp om veilig te wees. Die MX-5 is ontwerp om jou koel te laat voel, al het jy ʼn bles en boepens.

Daar is slegs een model in die reeks:

MX-5 2.0 Roadster Coupé118 kW/ 200 Nm6.7 l/100 kmR441 700

Die MX-5 word gedek deur Mazda se standaard 3 jaar/onbeperkte km- waarborg en diensplan. Diensintervalle is elke 15 000 km.

Die kompetisie lyk so:

Toyota 86 2.0 High147 kW/ 205 Nm7.8 l/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

4 jaar/60 000 km- diensplan

R488 400
Audi TT 1.8TFSI132 kW/ 250 Nm5.7 l/100 km1 jaar/onbeperkte km- waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R563 500
Mercedes-Benz SLC200 AMG Line135 kW/ 300 Nm6.6 l/100 km2 jaar/onbeperkte km- waarborg

6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R718 476
Porsche 718 Boxster220 kW/ 380 Nm7.4 l/100 km2 jaar/onbeperkte km- waarborg

3 jaar/90 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R868 000
Jaguar F-Type250 kW/ 450 Nm8.4 l/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 089 106
Alfa Romeo 4C177 kW/ 350Nm6.9 l/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 340 900

Die twee goedkoopste mededingers se dakke kan nie afslaan nie, so hulle hoort eintlik nie in dié vergelyking nie – maar op prys ding hulle sterk mee. Ek sou elke dag van die week ʼn MX-5 koop…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Edmund ·

Hoekom nie ook die Mini Cabriolet insluit onder die mededingers nie? Baie dankie vir die artikel ek het dit geniet.

Paul ·

Die lys van mededingers is ietwat vreemd, want ‘n Jaguar F-type of ‘n Alfa Romeo 4C is nie werklik mededingers van die MX5 nie. Die 4C het boonop ‘n middelgemonteerde enjin, so dis ‘n perd van ‘n heel ander kleur. Dis so goed jy sê ‘n BMW 5-reeks is ‘n mededinger vir ‘n Mazda3, want beide het vier deure en vier sitplekke.
Die prys van R1.34 miljoen vir die 4C is vir die Spider, nie die hardekap-weergawe wat R1.16 miljoen kos nie.

Die Toyota 86 en die TT, en dalk die Boxter, is die ware mededingers. Ook natuurlik die Fiat 124 Spider, wat dieselfde onderstel as die Mazda het, maar met ‘n Fiat-enjin en stilering.

Brendon ·

Dagsê Paul,

Dankie vir jou kommentaar. Die mededingers gelys is spesifiek twee-sitplek afslaankap sportmotors. As die 4C nie mag meeding weens sy middelgemonteerde enjin nie, dan mag die Porsche 718 Boxster ook nie, sy enjin is ook middelgemonteer. Die 4C spider is spesifiek gebruik omdat hy afslaankap is. My redenasie met die lys mededingers was om te wys hoe wyd die pryse wissel.

Groetnis,
Brendon
NMS Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.