Maroela Motor-padtoets: Kia Sportage 2.4 SX AWD Outo

Die Kia Sportage 2.4 SX AWD Outo (Foto: Kia)

Die Kia Sportage het al ʼn baie ver pad gestap in Suid-Afrika van die eerste weergawe wat hier bekendgestel is in 1998. Die nuwe Sportage het ʼn uiters modieuse pak aan. Dit is vir my verskriklik aantreklik van agter af terwyl die voorkant nog bietjie tyd vat om aan gewoond te raak.

Die mark vir mediumgrootte sportnutsvoertuie bars uit sy nate. Die prysklas is wyd en daar is verskeie keuses in oorvloed. Die Sportage wat ons vir ʼn toets gehad het, is nie die topmodel nie, maar amper. Ons het die 2.4GDI SX AWD outo gehad. Daar is ook ʼn 2.0 CRDi AWD outo en dan ook die reeksleier – die 1.6T GT-Line AWD.

Van buite is die Sportage regtig mooi. Hoe sê hulle, hoe rooier hoe mooier? Die Sportage se buiteproporsies is netjies. Die paneelgapings is klein en die Sportage gee ʼn algehele gevoel van gehalte. Groot sierwiele rond die pakket mooi af.

Aan die binneruim is waar die Sportage my regtig beïndruk. Egte leerbekleedsel en banke met ʼn heerlike vorm wat lekker aan die lyf pas. Die sitplekke is elektries verstelbaar en sit sommer gou-gou perfek. Die sitplekke is verhit of verkoel – nes jy daarvan hou.

Die paneelbord het ʼn netjiese ontwerp. Ek hou van die uitleg. Dit is eg-Kia en uiters stylvol. Al die truuks word beheer deur die raakskerm in die middel van die paneelbord. Die kontroles vir die klimaatbeheer is ergonomies geplaas reg voor die rathefboom en maklik hanteerbaar.

Die 2.4-viersilinder-enjin in die spesifieke Sportage sou nie my eerste keuse wees nie. Hoewel hy hom goed van sy taak kwyt, dink ek die 2.0 CRDi-diesel is ʼn beter opsie ten opsigte van brandstofverbruik en kraglewering. Nou ja, 2.4-viersilinder-enjins is nie my gunsteling nie, hulle is gewoonlik nie veel sterker as ʼn 2.0 nie maar wel heel swaarder op brandstof. Die 2.4 SX bied 135 kW en 237 Nm en Kia beweer ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 8.5 l/100 km.

Die Sportage se ritgehalte is heeltemal gemaklik sonder om slordig te raak. Slegte paaie word maklik navigeer terwyl daar min bakrol is. Ek dink wel die agterste vering is moontlik effe sag. Indien daar vir langnaweke of vakansies gepak word of ʼn swaar sleepwa of selfs ʼn woonwa gesleep word, gaan die Sportage se vering dit voel.

Die Kia Sportage 2.4 SX AWD Outo (Foto: Kia)

Die Sportage is nie meer in dieselfde klas as sy voorganger nie. Die nuwe Sportage is uiters luuks en baie mooi. Daar is verskeie enjins om van te kies, so jy kan koop waarvan jy hou. Daar is handrat- en outomatiese, asook petrol- en dieselmodelle beskikbaar in voor- en allewielaandrywing. Die Koreane se waarborge is deesdae markleidend en Kia is bitter gewild. Jy sal dus nie sukkel om hom in te ruil in die toekoms nie; hoewel die intreemodel bekostigbaar is, is die topmodel vir my effe duur.

In die segment is die kompetisie wild – so jy gaan ʼn kortlys moet maak van dié wat vir jou mooi is, hulle almal gaan toetsbestuur en jou geld gee vir die een wat jou hart steel.

Die reeks lyk so:

Sportage 2.0 Ignite114 kW/192 Nm7.9 l/100 kmR369 995
Sportage 2.0CRDi EX130 kW/400 Nm6.8 l/100 kmR487 995
Sportage 2.4GDI SX AWD135 kW/237 Nm8.5 l/100 kmR557 995
2.0CRDI SX AWD130 kW/400 Nm6.8 l/100 kmR567 995
1.6T GT-Line AWD130 kW/265 Nm7.5 l/100 kmR599 995

Die kompetisie lyk so:

Nissan X-Trail 2.5 4×4 SE126 kW/233 Nm8.3 l/100 km6 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/90 000 km- diensplan

R417 900
Ford Kuga 1.5T AWD Trend132 kW/240 Nm7.7 l/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

4 jaar/80 000 km-diensplan

R467 900
Mazda CX-5 2.5 Individual141 kW/256 Nm6.9 l/100 km3 jaar/ onbeperkte km- diensplan en waarborgR475 300
Toyota Rav4 2.5 AWD VX132 kW/233 Nm8.5 l/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R515 600
Hyundai Tucson 1.6 Turbo 4WD Elite130 kW/265 Nm8.5 l/100 km5 jaar/150 000 km-waarborg

7 jaar/200 000 km-waarborg op dryfstelsel

5 jaar/90 000 km- diensplan

R534 900
Volkswagen Tiguan 2.0TSI 4Motion Highline R-Line162 kW/350 Nm7.8 l/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R560 200

In die klas kry die Sportage bietjie pak oor sy prys in vergelyking met soortgelyke petrol-, outomatiese en allewielaangedrewe modelle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Paul ·

Daar word sewe keer in 9 kort paragrawe genoem hoe “mooi” die kar is. Het dit dan soveel aanprysing nodig?

Ek stem saam, sedert Gregory Guillaume Peter en Schreyer (en nou ook Luc Donckerwolke!) by Kia betrokke geraak het, lyk Kia se ontwerpe net beter en beter. Kyk na die nuwe Kia Stinger GT as die jongste voorbeeld.

Maar, is dit nodig om dit soveel keer in een “padtoets” te sê?

Paul ·

Dit moet natuurlik “en Peter Schreyer” wees, nie “Peter en Schreyer” nie.

Hendrik ·

Die Koreane het die Japanese vervaardigers lankal verby gesteek tov kwaliteit, tegnologie ens. Ek laaik kwaai, maar die pryse raak belaglik….

Johan ·

Baie indrukwekkende kar! Ek dink egter sterk drank en dwelms was betrokke in KIA SA se raadsaal toe die pryse uitgedink was… Die woorde “KIA” en “waarde vir geld” kan beslis nie meer in dieselfde sin gebruik word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.