Maroela Motors-padtoets: BMW X1 xDrive 20i

BMW X1 (Foto: BMW)

BMW X1 (Foto: BMW)

Kort na die Tweede Wêreldoorlog is die Duitsers verbied om vliegtuie en militêre tipe voertuie te bou. Ek is eintlik heel dankbaar daaroor. Die Duitsers het toe die slim besluit gemaak om weer motors te vervaardig. Nie motors wat deur riviere en oor landmyne kan ry nie, maar gewone gesinsmotors.

Nou kom ons wees eerlik, die Duitsers is ʼn ernstige klomp en hou daarvan om presies te wees. Niks minder as die beste is goed genoeg nie, en dit skyn deur in die nuwe BMW X1. Die nuwe X1 is vir my ʼn baie mooier voertuig as die vorige een.

Die kajuit binne is tipies BMW. Net die beste materiale word gebruik. Die paneelbord is ook nie gestrooi met ʼn halfmiljoen knoppies en goetertjies nie. Die iDrive knoppie is in die middel, net agter die rathefboom – en dit beheer baie van die motor se funksies. Die opsionele elektries-verstelbare voorsitplekke in die BMW is ʼn droom. Mens kan dit stel net soos jy dit verkies. Ook ʼn opsionele ekstra in die toetsmotor was die bobaas Harman Kardon-klankstelsel. As jy van goeie kwaliteit musiek hou in die verkeer, is dit ʼn ekstra om wel te neem!

Ritgehalte in die X1 is vir my ʼn raaisel. Dit is vir my verbasend hoe sag, maar ferm die BMW ry. Hy ry boonop ook nog op run-flat-bande. My ervaring met run-flat-bande is dat hulle walle baie hard is, en daarom trek hulle heen en weer oor ʼn ongelyke pad. Die stuurwiel sukkel gewoonlik om tot ruste te kom in mens se hande, maar BMW het een of ander toordery hier toegepas en die run-flat-bande pla glad nie. Die vering is hard genoeg om enige bakrol te voorkom, tog is dit nie ondeund as die pad sleg raak nie. Grondvryhoogte is iets wat vreeslik pla in my huidige persoonlike motor – maar op 183 mm is die X1 net hoog genoeg vir alledaagse uitdagings.

BMW X1 (Foto: BMW)

BMW X1 (Foto: BMW)

Die enjin- en ratkaskombinasie in die X1 xDrive 20i is puik. BMW se 8-spoed outokas wissel ratte sonder dat mens agterkom, jy sien net die toere-naaldjie skuif. Daar is ook drie verskillende ry-programme, Eco Pro, Comfort en Sport. Eco Pro is vir beter brandstofverbruik. Dit vertraag versnellerreaksie en hou die omwentelinge so laag moontlik. Dit stel ook die aandrywingstelsel slegs op die voorwiele. Comfort is weer terug na normale versnellerreaksie en permanente vierwielaandrywing. Sport maak weer die versneller se reaksie baie skerp en vinnig, hou ratte langer en stel die vering op vir ʼn meer sportiewe bestuurstyl.

Ek voel algeheel is die X1 puik. Ek hou van die baba-sportnuts-uitleg en voorkoms. Ek sou egter die 20d koop – BMW se dieselenjins is vir my klasleidend en ek krul van die lekker om in die omgewing van 5l/100 km te handhaaf. Die 20i het die krag, maar hy kan dors raak. Die X1 spog ook met ʼn 1 800 kg-sleepkapasiteit… Dit is enige sleepwa of karavaan tot net duskant ʼn Jurgens Exclusive…

BMW X1 (Foto: BMW)

BMW X1 (Foto: BMW)

Susan van Maroela Media meen:
Sy hou van die ruimte, spasie agter is lekker vir die kinders en ruim genoeg voor, alhoewel haar man hieroor van haar verskil. Die Bluetooth het lekker vinnig met haar foon verbind en die X1 se klankstelsel se kwaliteit is regtig puik. Sy meen egter die kontroles om die rathefboom is uit die oog terwyl mens bestuur, alhoewel mens waarskynlik daaraan gewoond sou raak. Susan is kort, en met die stoel op sy hoogste posisie gestel, is die sonskerms steeds ʼn raps te kort. Oor die algemeen het sy heerlik gery. Die X1 is groter en hoër as haar eie motor, maar het vir haar meer padvas gevoel en maklik om te beheer. Die X1 draai ook verbasend skerp vir sy grootte. Alhoewel daar baie knoppies en verstellings is, was dit maklik en instinktief om alles gestel en aan of af te skakel.

Cyril van Maroela Media meen:
Die kontroles is alles lekker naby aan mekaar en mens hoef nie ver te rek terwyl jy op die pad moet konsentreer nie. Die klank is fantasties. Alles wat mens se hart kan begeer ten opsigte van truuks is daar. Cyril is effe lank en het vinnig tuis gevoel met die sitplek se verstelbaarheid. Hy voel egter dat daar bietjie min ruimte is vir ʼn groot of lang persoon en dat daar soms bietjie min terugvoer van die stuurwiel is.

Annelize van Maroela Media meen:
Annelize reken mens moet gaan vir ʼn vinnige kursus voor die tyd om al die ‘goedjies’ te verstaan. Daar is vir haar net te veel knoppies en truuks. Daar is ook nie ʼn toegewyde plekkie vir die sleutel nie – so mens soek alewig waar jy die sleutel gelos het. Sy meen dit is ʼn lieflike motor. Perfek vir ʼn ma met ʼn paar kinders: alles kan inpas. Die oomblik wat mens in die X1 klim voel jy veilig en het vertroue in die motor se betroubaarheid. Alles is daar.

Ek moet byvoeg, toe BMW hulle pragtige X1 wou terug hê, het Annelize se hart sommer in stukke gebreek. Selfs myne was ook nie te gelukkig oor die X1 se terugkeer na die handelaar nie.

Die X1 wat ons getoets het, kom met ʼn hele paar ekstras. Duur ekstras. Prys soos getoets is ʼn koel R668 117.60. Standaard prys hy sonder ekstras R547 500. As jy in die mark is vir ʼn klein sportnutsvoertuig, moet beslis nie die X1 miskyk nie. Kies jou ekstras versigtig en geniet jare se ‘sheer driving pleasure’.

Die X1 kom standaard met ʼn 5 jaar/100 000 km-motorplan en padbystand.

Die reeks lyk so:
sDrive is gewone voorwielaandrywing.
xDrive is allewielaandrywing.

sDrive 18i100kW/ 220NmR476 400
sDrive 20d140kW/ 400NmR522 900
sDrive 20i141kW/ 280NmR536 400
xDrive 20i141kW/ 280NmR585 900
xDrive 20d140kW/ 400NmR604 900
xDrive 25i170kW/ 350NmR651 900

Die kompetisie lyk so:

Audi Q3 2.0T quattro132kW/ 320NmR553 000
Range Rover Evoque SE Si4177kW/ 340NmR798 722
Mercedes-Benz GLA 250 4Matic155kW/ 350NmR613 776
Lexus NX200t E175kW/ 350NmR603 300

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Koos1 ·

Dit is ‘n lieflike kar maar teen R670 000.00 kan ek my huis klaar betaal. Wat ek hierdeur wil se is dat, met die rand so swak, gaan die kar maar die meerste van ons nie beskore wees nie.

Paul ·

Bande het nie “walle” nie. Dit het “sykante” of gewoon “kante”.

Nes ‘n rivier in Afrikaans ook nie “banke” het nie.

Is maar ‘n tipiese Suid-Afrikaanse motorjoernalistiek-artikel. Wanneer ‘n Duitse of Japannese vervaardiger ‘n model tjok-en-blok vol ekstras gratis beskikbaar stel vir ‘n toetstydperk, dan is alles net wonderlik. Wanneer enige ander vervaardiger, uit Frankryk of Italië, ‘n motor aanbied, dan word daar gekla oor die kleinste dingetjies.

Johan ·

Paul, die rede waarom Franse en Italiaanse motors so gekritiseer word, is omrede hul loutere gemors is!

Hulle is mooi en het (meeste van die tyd) goeie verrigting, maar dis al. Hulle is onbetroubaar (alewige probleempies), baie duur om in stand te hou, wys vinnig “wear and tear” in die binneruim en het swak inruilwaarde!

Ek het lank genoeg in die gebruikte motorbedryf gewerk om ‘n gly te kry in Franse, Italiaanse, Engelse, Amerikaanse en Sweedse motors. ‘n Citroen, Renault, Peugeot, asook Land Rover, Volvo en Chrysler voertuig wat 300 000km op die klok het is ‘n rare wonderwerk.

Aan die anderkant is dit maklik bereikbaar (sonder dat alles op die kar vervang moes word) op ‘n Japanese, Koreaanse of Duitse motor!

Paul ·

Johan, die moeilikheid is dikwels dat, juis omdat die waardevermindering so erg is op karre wat nie uit Duitsland of Japan of Korea kom nie, dit tweedehands gekoop word deur mense wat nie geld het vir enige instandhouding nie. Dan hou die koper dit vir n jaar of twee en skeep dit af, en wanneer die derde eienaar dit vir nog ‘n groter “bargain” koop, dan breek alles omdat dit nooit in stand gehou is nie.

Maar die idee dat die Duitse karre altyd so wonderlik betroubaar is, is ook maar “neither here nor there”. Wat van VW se groot probleme met die 1.9 turbodiesel wat hulle vir jare nie wou erken nie. Of die 2.1 wat in die kombis gebruik is wat almal ‘n “conrod” deur die blok geslaan het. Of BMW se ellelange probleme met hul kleiner turbodiesels?

Edmund ·

MAROELA, Baie dankie vir die artikel. Ek het dit terdee geniet!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.