Maroela Motors-padtoets: Chery J2 rook nie die pyp nie

Chery J2 Swag Foto: Chery

Chery J2 Swag Foto: Chery

Die Chery J2 Swag is onlangs by die Maroela Media-kantoor afgelewer. Ek’t so week voor die tyd na Chery se webwerf gaan loer en was heel nuuskierig om te sien hoe die Chinese motor vaar.

Ek gaan sommer vroeg uit die blokke spring en vir jou sê: Die Chery J2 Swag is nog nie heeltemal op standaard nie. Chinese motors het in die Suid-Afrikaanse mark gekom as ‘n goedkoop alternatief. Die J2 Swag kos R159 995. In hierdie stadium is daar in my opinie beter opsies beskikbaar – veral kleiner karretjies, maar in hierdie grootte is daar drie baie sterk mededingers.

Die Chery J2 Swag lyk netjies van buite. Sy voorkoms sommer sportief met die silwer uitlaatpyp en groot 17” wiele. Aan die binnekant is dinge minder ‘mooi’. Die leer sitplekke is nie van die beste gehalte nie, ek sou eerder die gewone bekleedsel verkies. Die paneelbord is van harde plastiek gemaak, en dit kan effe raserig wees oor slegte paaie en gee sommer hoendervleis as jy jou naels daaroor krap. Ek het nou al ʼn paar keer in Chinese motors gery en ek het geen idee wat dit is nie, maar daar is ʼn vreeslike sterk chemikaliereuk van een of ander soort in die kajuit. Ek is nie seker of dit van die kunsleer of die paneelbord kom nie – maar dit maak die kajuit effe onaangenaam. Die klank en navigasiestelsel in die J2 Swag is een van die beter aspekte van die binneruim. Dit werk heel goed en die klank is van ʼn aanvaarbare kwaliteit. Die Bluetooth verbind heel gemaklik en mens kan goed genoeg hoor tydens ʼn oproep.

Chery J2 Swag Foto: Chery

Chery J2 Swag Foto: Chery

Die ritgehalte in die J2 is heel aanvaarbaar. Dit ry nie sleg oor slegte paaie nie, alhoewel daar redelike bakrol voorkom as mens bietjie vinniger in die draaie ry. Die klankdigtheid is nie fantasties nie. Teen 120 km/h op die snelweg is daar redelik baie windgeraas om die windskerm en deure. Die 1.5 viersilinder Mitsubishi-enjin in die J2 bied 72kW teen 6 000 toere en 140Nm wringkrag teen 4 500 toere. Die enjin trek goed genoeg, alhoewel as mens hard druk na 5 000 toere is die enjin onverfynd. Die aanboord-rekenaar wys ook net oombliklike brandstofverbruik, en nie gemiddeld nie, so dit is moeilik om te sê of hy enigsins lig of swaar op brandstof is.

Die Chery J2 Swag het nog nie die Euro NCAP veiligheidstoetse gedoen nie. Omdat my drie kindertjies elke dag saam met my ry, verwag ek van my eie motor om ʼn 5-ster Euro NCAP gradering te hê. Die J2 het glo al die Chinese NCAP geslaag, maar ek weet nie wat is die standaarde van die Chinese toets nie.

Om op te som sal ek sê, as mens vinnig kyk – is die J2 Swag ʼn heel aantreklike motor. Die spesifikasievlakke is indrukwekkend en die motor glad nie lelik nie. Hy prys ook nie baie duur nie, maar as mens naby kyk, eers ʼn stukkie met hom ry en regtig krities is voor jy jou R159 000 oorhandig – dan is daar beter, meer gevestigde opsies daar buite.

Chery J2 Swag Foto: Chery

Chery J2 Swag Foto: Chery

My kollegas meen:
Cyril Blackburn is redelik lank, en omdat die stoel nie laer kan stel nie, vryf sy kop teen die dak. Omdat hy ook nie heeltemal gemaklik gesit het nie, het hy ook onveilig gevoel. Die klank-isolasie is ook nie goed genoeg nie, so die motor voel blikkerig. Cyril voel daar is beter opsies vir R160 000.

Phillip Bruwer voel die kajuit is gerieflik en ruim. Hy voel wel dat die raamwerk kraak en die enjin-geraas slaan deur. Dit pla wel nie te erg as mens die klankstelsel kliphard sit nie. Hy voel die motor is ideaal vir kort afstande werk toe en terug.

Christo Brits voel die ligte is van ʼn goeie kwaliteit en lewer puik lig in die nag. Die radio/navigasie/Bluetooth-stelsel is ʼn goeie toevoeging tot die motor. Die motor is ook mooi van buite alhoewel die kajuit plastiekerig voel en die enjingeraas is ʼn slegte punt.

Annelize Brits meen die bagasiebak is lekker ruim. Die remme was vir haar nie goed genoeg nie en het dus onveilig gevoel in die motor.

Die reeks lyk so:

J2 1.5 TX72kW/ 140NmR149 995
J2 Swag72kW/ 140NmR159 995

 

Die kompetisie lyk so:

Ford Figo 1.5 Ambiente82kW/ 136NmR169 600
Toyota Etios 1.5 Xi66kW/ 132NmR155 800
Nissan Micra 1.2 Visia+56kW/ 104NmR159 900
Volkswagen Polo Vivo 1.4 Conceptline55kW/ 132NmR168 800
Renault Sandero Dynamique66kW/ 135NmR157 900
Mitsubishi Mirage 1.2 GLS57kW/ 100NmR163 400

 

Alhoewel die kompetisie moontlik nie die spesifikasievlakke van die J2 Swag kan bybring nie, is hulle beter opsies in die langduur. Die Renault Sandero het ʼn 4-ster Euro NCAP, en hy kom met ʼn baie hoë spesifikasievlak. Sy enjin is ook geleen van die duurder Clio-boetie. My geld sou die Sandero, Figo of Etios koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Piet Pompies ·

Wat ‘n lekker stukkie motor verslag in Afrikaans en die inhoud is objektief wat die keuse van “wat ek gaan koop” aan die leser oorlaat.

Hans ·

Nee jinne, sommer met die intree slag word die kar sommer afgekraak. Nie die Sandero Etios of Figo is enigsens anders in enige van die aspekte wat jy genoem het nie. Jy kry waarvoor jy betaal in daai prysklas. Ook geen melding van waarborg of diensplan nie??

Wynand ·

Ek was n Cherry eienaar. En na my petroltank gesmelt en hulke erken dat hulle parte. My “CAT” was met n goedkoop “silencer” onder waarborg sonder my medewete geruil na die kar n paar weke in was. Dit het tot gevolg gehad dat na die petroltank gesmelt het en my kar n ruk by hulle was, hulle hulself gedistansieer het en gese het dis my skade want die kar het nie oorspronklike parte op nie. Hulle het erken hulle het die werk gedoen en afgeteken maar dit was my probleem en my skade…. Ek het na amper elke diens baie skade gehad, met eerste diens is my bande selfs vervang met deurgeloopte bande. Na ek privaat die voertuig laat herstel het, wou geen handelaal my relatiewe nuwe kar inruil nie. As mens se dis n Chery se hulle net jammer….Die kar het meer as 50% van sy waarde verloor in minder as 3 jaar. Goedkoop koop is duur koop. Uit ervaring weet ek hul bestuur gee niks vir hul kliente om nie en ook nie vir diens nie. Ek was maande sonder voertuig soos mens vir parte wat onder 30 000 km oppak en onder waarborg vervang moet word moet wag. En hoewel die waarborg se n sekere hoeveelheid kilometers, is ek ingelig baie parte se waarborg is net 10 000.
Wees gewaarsku die Chery voertuig gaan jou nie geluk gee nie, hou verby. Ek het die top Tiggo gery en dit was een van die duurste foute van my lewe. Ek loop liewers.

Paul ·

Ek verstaan nie hoe die omruil van ‘n katalitiese omsetter met ‘n klankdemper (silencer), die petroltenk kan laat smelt nie. ‘n Katalitiese omsetter genereer meer hitte as ‘n klankdemper. Buiten indien hulle ook hittebeskutting (heat shields) verwyder het.

In elk geval is dit belaglike diens. En dit toon aan hoekom mens maar nog steeds ‘n wye draai om hierdie ouens moet loop.

Wiebo ·

Ek het Chery motors verkoop vanaf dag 1 wat Chery in Suid Afrika was. Daar is geen naverkoop diens nie, verkoopsmense se demo voertuie word “gestrip” vir kliente se karre, want daar is nie parte nie. Help nie om Chery hoofkantoor te kontak met probleme nie. Dit is net n ou klein kantoortjie in Randburg met admin personeel wat die karre van China bestel, en na die handelaars allokeer. Die Chery Tiggo se rygerief is van die beste, maar met swaar brandstof gebruik. As jy n Chery koop, hoop net jy koop n “Maandag kar” Die “duds’ is maar die beste Chery”s, en hulle is min!

Sam ·

Dankie Wynand. Sjoe, NET betyds die verslae gelees. Ek het beplan om na die Chery J11 te kyk vir ‘n nuwe koop. Nou wonder ek, of ek nie dalk die nuwe Suzuki Swift moet aankoop nie? Kan iemand my help wat reeds ‘n J11 4×4 getoets bestuur het of dalk een besit het. Ps Wynand, wat se parte het gegroet? Wil ook net byvoeg, ek het vir my ‘n infra rooi UV pen gekoop en ALTYD my parte gemerk daarmee, en as ek vra dat ‘n part vervang word, dan KYK ek of hulle dit wel gedoen het. In RSA steel baie plekke mens se NUWE parte. SKELMS dink dis normaal. So het ek een jaar ‘n ou geroeste kar battery in my kar na ‘n diens gekry en my nuwe een van 2 maande gelede, is WEG. Stel voor julle merk julle parte met jul HANDTEKENING, want enige ou kan ‘n kruis met ‘n UV pen trek. O ja en een jaar na ‘n diens, kom ek agter die “wheel alignment” is erg uit. Sal hulle vir my vertel ek moet dit betaal dat hulle dit reg instel, toe pluk ek my en vertel in duidelike taal hoe ek voel. by die plek kom ek agter hulle het die wiele verkeerd terug geplaas op ‘n 10 000km diens!

Se maar net ·

En dan het jul van die Suzuki 1.2 GL vergeet.
63 KW/ 113 Torque, R164 300.00. En dit is ‘n Japanese produk…

Se maar net ·

En dan het jul van die Suzuki Swift 1.2 GL vergeet.
63 KW/ 113 Torque, R164 300.00. En dit is ‘n Japanese produk…

Alex ·

Besit suzuki desire swift 1.2 en ondervind dit as ‘n wonderlike voertuig. In my 2 jaar van eienaarskap nog geen probleme ondervind nie. Na verkope diens is ook fantasties

Se maar net ·

Hi Alex. Dankie vir jou kometaar. Ek is self ‘n trotse Suzuki eienaar. En my manlief het ook ‘n Suzuki. Sal nie somer van brands verander nie. Goeie brandstof gebruik en nog nooit eers een oomblik se probleme ondervind nie. Love my Suzuki….

Andre du Plessis ·

Ek stem saam oor die “chemikaliereuk in Chinese motors”. Wat de heng is dit?
Veral as die ding in die son staan, is dit erg en gee dit selfs mens kopseer. Die reuk is selfs op jou hande as mens ‘n Chinese kar bestuur het.
Miskien is die goed nog karsinogenies ook? Wat help die goedkoop prys met ‘n vernietigde gesondheid?

Paul ·

Jy is korrek – daardie reuk is nie goed vir jou gesondheid nie. Dis omdat hulle swak gehalte plastiek gebruik. Die reuk is vlugtige koolstofverbindings wat verdamp uit die plastiek – dit is sleg vir ‘n mens om dit in te asem, en hoe meer van die vlugtige stowwe uit die plastiek verdamp, hoe swakker en meer bros word dit.

Ander karre se “new car smell” bestaan ook hieruit, maar by ander karre gaan dit darem vinnig weg. Onthou jy nog in die 1980s toe die karre ook so lekker uit plastiek bestaan het – toe was die reuk in baie karre nogal erg “plastiek”. En jy kan ook sien hoe daardie plastiek swak vaar oor tyd – kyk na baie 1980s karre se plastiek deesdae en dis vol krake soos dit bros geword het oor tyd.

gugu ·

Bly maar weg van cherry af. Koop eerder meer gevestigde voertuie wat hulle self al bewys het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.