Maroela Motors-padtoets: Citroën C4 Cactus 1.2 e-THP Shine

Foto: Citroën C4 Cactus (Foto: Citroën)

Foto: Citroën C4 Cactus (Foto: Citroën)

Citroën was nog altyd baie trots op die feit dat hulle vreemde motors vervaardig. Een van die oudste motor-vervaardigers en ʼn geskiedenis besaai met prettige motors soos die DS van die vyftig- en sestigerjare asook die 2CV. Baie mense sal stry dat die Citroën DS een van die mooiste motors ooit is – maar ek voel almal verskil en hou van verskillende ontwerpe.

Citroën het ʼn paar “maer jare” beleef – en in die vroeë 2000’s besluit om weer prettige motors te bou. Hieruit is die C4 Cactus gebore. Hy volg sy eie unieke ontwerpstyl met Mark Lloyd se Airbump® tegnologie. Hy vra: “Hoekom sou jy jou slimfoon beskerm – maar nie jou motor nie?” Ek moet bieg, die eerste keer wat ek die rubberpanele op die Cactus gesien het, was ek verstom. Ek kon nie verstaan hoekom ʼn mens ʼn motor só sou opfoeter nie. Dis net die Franse wat so stamp-stamp parkeer, wat so iets sou kon uitdink. Wel, dit is nou amper ʼn jaar later en die Airbump® pla my glad nie. Ek hou eintlik daarvan. My persoonlike motor se deure lyk soos asof dit van kleistene gemaak is. Pleks dat my eie motor bietjie Airbump® gehad het!

Die C4 Cactus geniet ʼn ruwe ontwerp en lyk asof hy ʼn taai oorkruismotor kan wees. Hy is wel slegs voorwielaangedrewe met ʼn vyfganghandrat en ʼn piepklein 1.2 liter 3-silinder enjin onder die kap. Daai enjintjie kan wel skop met 81kW en 205Nm wringkrag teen ʼn baie lae 1 500r/min. Sy ratverhoudings is verskriklik lank en die Cactus sal 98 km/h draf in tweede rat! ʼn Groot teleurstelling vir my is egter die afwesigheid van ʼn toereteller. Die Cactus wys net op die digitale skerm wanneer hy dink dit tyd is vir die volgende rat.

Foto: Citroën C4 Cactus (Foto: Citroën)

Foto: Citroën C4 Cactus (Foto: Citroën)

Die 1.2 e-THP 3-silinder enjin grom lekker en trek baie sterk as dit nodig is. As dit nie nodig is om soos ʼn hanswors te jaag nie – dan gee hy wonderlike brandstofverbruik. My beste verbruik was 4.6 liter/100 km. Dié verbruik sal baie moeilik wees om oor ʼn lang afstand te handhaaf – maar as jy liggies met hom werk is dit nie buite die kwessie nie. Daar het vir my hier en daar vreemde gaatjies in die kragkurwe voorgekom – maar dit is slegs as mens hard versnel en ook nie elke keer nie.

Die kajuit is lekker ruim en tipies Citroën. Net sodat hulle die paneelbord simmetries kon laat lyk, is die passasierlugsak geskuif tot in die dak agter die sonskerm. Dit beteken dat die passasiersonskerm nie ʼn spieëltjie in het nie, maar dit is ʼn Citroën – kyk eerder vir die mooi paneelbord en sit jou lipstiffie by die huis aan. Die voorste sitplekke is lekker breed en mens raak vinnig gemaklik.

Foto: Citroën C4 Cactus (Foto: Citroën)

Foto: Citroën C4 Cactus (Foto: Citroën)

Soos met baie nuwe motors het Citroën ook ʼn raakskerm gekies om al die verstellings op die Cactus te beheer. Ek persoonlik hou nie daarvan nie. Dit lyk dalk mooi, maar in Suid-Afrika bestuur ons aan die regterkant van die motor, en meeste mense moet dan met hulle “dom hand” deur talle skerms navigeer om byvoorbeeld die lugversorging en radio se volume te stel. Dalk raak ek oud, maar gee asseblief net vir my eerder ʼn paar knoppies om te draai.

ʼn Fantastiese funksie van die Cactus wat ek voel sommer dadelik op elke voertuig gedoen moet word, is die ruitwassers. Dit spuit nie twee straaltjies van die enjinkap af in elke rigting behalwe die ruit nie, dit is op die ruitveër self aangebring! Ek kon aanvanklik vir lewe en dood nie sien waar die water vandaan kom nie – maar die ruit is skoon! Dit is hierdie tipe innovasie wat Citroën beroemd gemaak het.

ʼn Funksie wat wel beskikbaar is op my persoonlike Citroën is outomatiese elektriese vensters. Druk of trek die knoppie lekker hard en hy gaan of heeltemal oop, of heeltemal toe. Nie so op die C4 Cactus nie. Die rathefboom is vir my baie vaag en rubberagtig, nie iets waaraan mens nie gewoond sal raak nie. Moet net nie soos ʼn renjaer probeer ratte wissel nie.

Aanvanklik het ek gesukkel om my stoel reggestel te kry sodat my linkervoet nie pla nie. Die voetrus is vir my vreemd geleë, maar so teen die einde van ons tyd saam, was ek dit gewoond. Of dit nou is dat my sitplek uiteindelik reg gestel was en of ek dit net gewoond geraak het, sal ek nooit kon sê nie. Die “stop & start”-tegnologie op die Cactus is regtig puik. Ek het in een reis van die huis af via die skool kantoor toe, 11 minute lank in stilstaande verkeer gesit, en nie een enkele gram uitlaatgas in die omgewing gestoot nie. Ek voel sulke tegnologie is nodig, as mens in ag neem daar is in 2014 meer as 1,2 miljard motors op die wêreld se paaie, maak elke sekonde ʼn verskil.

Foto: Citroën C4 Cactus (Foto: Citroën)

Foto: Citroën C4 Cactus (Foto: Citroën)

Phillip van Maroela meen:

Ek is mal oor dié Buksie en sal enige tyd my KIA Picanto vir hom inruil. Met die eerste oogopslag frons ʼn mens vir die blokkies op die deure en raak sommer lus vir sjokolade. Mens raak egter, soos ‘n sugar rush, vinnig gewoond aan die voorkoms. Dit lyk visueel gehard en stylvol gepantser en is dalk die uiteindelike antwoord vir winkelsentrumkrappies en brandewynvlekkies.

Die motor roep jou onderbewussyn om op ʼn avontuur te gaan en ʼn mens kan nie wag om in die pad te val nie, hetsy dit werk toe is, of via ʼn grondpad plaas toe. Die meneertjie sukkel nie teen ʼn opdraande uit nie. Die kajuit is ruim met meer as genoeg spasie vir die bestuurder en passasiers. ʼn Mens sit lekker hoog en die sitplekke is baie gemaklik en omvou jou amper soos ʼn gemakstoel.

Al wat pla is die raakskermpaneel wat onder andere die radio, lugversorging en sterrenavigasie beheer. ʼn Mens sukkel soms om die regte knop met jou linkerhand gedruk te kry, veral op ʼn sinkplaatpad of in verkeer. Maar dis ʼn geringe irritasie; oor die algemeen sorg die Cactus vir ʼn stroopsoet bestuurservaring.

Cyril van Maroela voel:

Die voetrus het ook vir Cyril aanvanklik gepla. Die middelste armleuning het hom ook belemmer om lekker ratte te wissel in die dorp. Die raakskerm is ook vir Cyril iets om aan gewoond te raak, maar hy het dit uiteindelik baas geraak.

Hy meen die ratverhoudings is lekker lank en ʼn sesde rat is nie nodig nie. Die 1.2 turbo skop behoorlik en voel maklik soos ʼn tweeliterenjin. Die Cactus het vir hom lekker gemaklik gevoel en die kajuit is baie ruim. Sy padhouvermoë is vir Cyril indrukwekkend. Ten spyte van enkele goedjies wat pla, sal Cyril steeds bereid wees om sy eie geld op ʼn Cactus te spandeer.

Om op te som:

Die C4 Cactus is nie almal se koppie rooibostee nie. Diegene wat van hom hou is gek daaroor en wil graag een hê. Die enjin is heeltemal sterk genoeg en lig op brandstof. Die kajuit is ruim en die ontwerp is ietsie anders. Franse voertuie vaar altyd goed in veligheidstoetse. Die Cactus het ook ʼn indrukwekkende spesifikasievlak. Wees net versigtig vir herverkoopwaardes in die toekoms.

Die reeks lyk so:

Citroën C4 Cactus 1.2 Feel60kW/ 118NmR259 900
Citroën C4 Cactus 1.2 e-THP Feel81kW/ 205NmR289 900
Citroën C4 Cactus 1.2 e-THP Shine81kW/ 205NmR314 900

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 5 jaar/100 000 km-diensplan. ʼn Omvattende instandhoudingsplan is opsioneel en diensintervalle is elke 20 000 km.

Die kompetisie lyk so:

Fiat 500X 1.4T Cross103kW/ 230Nm3 jaar/100 000 km-waarborg
3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan
R347 900
MINI Countryman90kW/ 160Nm2 jaar/onbeperkte km-waarborg
3 jaar/75 000 km- omvattende instandhoudingsplan
R368 648
Honda HR-V 1.5 Comfort88kW/ 145Nm5 jaar/200 000 km-waarborg
4 jaar/60 000 km-diensplan
R328 900

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Voorlaaier ·

Ok!!..Kom ek probeer i ander benadering aangesien my eerste kommentaar verwyder is.” Die Cactus lyk soos sy naam”..Hoop Maroela vind dit in orde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.