Maroela Motors-padtoets: Die Mazda2 1.5 DE Hazumi outo beïndruk

Mazda2 (Foto: Mazda)

Mazda2 (Foto: Mazda)

Baie Suid-Afrikaanse huishoudings geniet twee voertuie en gereeld is hulle dan twee verskillende tipe motors. ʼn Bakkie en ʼn luikrug, of ʼn sedan en ʼn bus en so aan. Wat wel in meeste huishoudings voorkom, is die kleiner luikrug.

Die spoggerige Mazda2 is presies só ʼn luikrug. Die Mazda2 1.5 diesel outo is ook die goedkoopste diesel, outomatiese motor op die pad. Daar is baie ander opsies, maar almal is petrol of handrat. Ek persoonlik verkies ʼn diesel outo. As dit ook jou voorkeur is, is jou enigste opsie ʼn Mazda 2 1.5 DE Hazumi outo. En dit is glad nie ʼn slegte opsie nie.

ʼn Verskriklik aantreklike motor aan die buitekant: mooi lyne sonder om vervelig te wees, maar ook nie so uitspattig dat mens skaam kry om met hom te ry nie. Die 16” sierwiele rond die pakket mooi af, en ons toetsmotor was die mooiste rooi.

Mazda2 (Foto: Mazda)

Mazda2 (Foto: Mazda)

Die binneruim is egter waar die Mazda2 my beïndruk. Gehalte materiale en ʼn stylvol maar eenvoudige ontwerp word ingespan. Dit is boonop skoon en ergonomies uitgelê. Die Mazda2 spog ook met ʼn magdom funksies as standaardtoerusting. Outomatiese ruitveërs en ligte, navigasie en Bluetooth met ʼn indrukwekkende klankstelsel asook kontroles op die stuurwiel om die musiek en telefoon te beheer. Ek mis net een funksie, en dit is spoedbeheer. Alles is mooi byderhand, en die kajuit se fokus is op die bestuurder, soos dit hoort.

Die sitplekke is helfte leer, helfte lap – en dit sit lekker gemaklik. Voor in die kajuit is dit lekker gemaklik en ruim, en beenspasie vir die kinders agter heel goed vir ʼn klein motor. Die bagasiebak is ook nie te versmaai nie. Ritgehalte in die Mazda2 is ook meer gerig op gemak as baanbrekerpadhouvermoë. Ek ruil Formule 1-padhouvermoë-eienskappe vir ritgehalte enige dag in ʼn gewone gesinsmotor.

Mazda2 (Foto: Mazda)

Mazda2 (Foto: Mazda)

Die enjin-ratkas kombinasie is baie goed. Mazda het baie slim geraak met hulle dieseltegnologie. Hulle het die kompressieverhouding verlaag om geraas te verminder en die masjien gladder te laat loop. Die ratkas is ʼn baie ingewikkelde kombinasie tussen ʼn gewone outo, ʼn CVT (Continuously Variable Transmission) en ʼn handrat. Mazda het ʼn indrukwekkende balans tussen rygemak, brandstofverbruik en ratwisselingspoed bereik. Die 1.5 diesel-enjin bied 77kW en 220Nm. Dit is oorgenoeg woema, en die wringkrag laat die outomatiese ratkas net soveel meer sin maak.

Om op te som: Die Mazda2 het nie ʼn direkte mededinger nie. Dit is die enigste diesel outo in sy klas. Hy is ook R125 000 goedkoper as die volgende diesel outomatiese motor. Sy petrol mededingers kan ook nie werklik die brandstofverbruik bied wat die Mazda 2 kan nie en nie een van hulle het navigasie as standaardspesifikasie nie. Mazda bou al baie jare puik motors wat nie probleme het nie. Hulle staan agter hulle motors met ʼn klasleidende 3 jaar onbeperkte km-waarborg en 3 jaar onbeperkte km-diensplan. Diensintervalle is elke 15 000 km, so as jy baie ry – kan ek nie aan ʼn beter opsie dink nie. Ek wil self my kleiner motor ruil vir net so ʼn rooi Mazda 2 1.5 DE Hazumi outo.

Die reeks lyk so:

1.5 Active82kW/145Nm5.5ℓ/100 kmR209 800
1.5 Dynamic82kW/145Nm5.5ℓ/100 kmR222 800
1.5 Dynamic outo82kW/145Nm5.7ℓ/100 kmR235 500
1.5 Individual82kW/145Nm5.5ℓ/100 kmR235 600
1.5 Individual outo82kW/145Nm5.7ℓ/100 kmR248 300
1.5DE Hazumi outo77kW/220Nm4.4ℓ/100 kmR294 600

Die kompetisie lyk so:

Toyota Yaris Hybrid74kW/111NM3.6ℓ/100km3 jaar/100 000 km-waarborg
4 jaar/60 000 km-diensplan
8 jaar/195 000 km-waarborg op battery
R304 000
Ford Fiesta 1.0T Titanium outo74kW/ 170Nm4.9ℓ/100km4 jaar/120 000 km-waarborg
5 jaar/60 000 km-diensplan
R269 900
Volkswagen Polo 1.2TSI Highline outo81kW/ 175Nm5.1ℓ/100km3 jaar/120 000 km-waarborg
3 jaar/45 000 km-diensplan
R285 400
Honda Jazz 1.5 Dynamic outo88kW/ 145Nm5.8ℓ/100km5 jaar/200 000 km-waarborg
4 jaar/60 000 km-diensplan
R301 000

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.