Maroela Motors-padtoets: Fortuner heeltemal vernuwe

Die Toyota Fortuner 2.5 D-4D (Foto: Toyota)

Die Toyota Fortuner (Foto: Toyota)

Ek besit tans ʼn Renault Grand Scenic 1.9 dCi Dynamique. Ek gebruik dié 7-sitplekbussie om my talle kinders rond te karwei en ook om my karavaan te sleep. Die Scénic het onlangs minder betroubaar begin raak en het nie ʼn 4×4 nie. Heel moontlik sal my volgende voertuig ʼn Toyota Fortuner 2.5 D-4D outomaties wees, wat ook 7 sitplekke het en my karavaan lag-lag sal sleep.

Ek is toe heel nuuskierig om meer uit te vind oor die nuwe Fortuner. Kom ek stel dit so: die vorige model kan nie kers vashou by die nuwe een nie. Die ritgehalte en gehalte van die binneruim is in ʼn ander liga.

Menings verskil oor die Fortuner se ontwerp. Ek dink dit is netjies, opvallend en mooi. Ander sê nou weer daar gaan te veel aan. Party mense gaan van hom hou, ander nie. As ons beweeg na die binneruim, is dit waar dinge interessant raak. My enigste klagte is die gelyktydige gebruik van bruin en swart leer. Ek sou dit verkies met net een kleur. Die houtinsetsels om die rathefboom lyk nou soos behoorlike hout, nie plastiek nie en dieselfde geld vir die hout op die stuurwiel.

Die Toyota Fortuner 2.5 D-4D (Foto: Toyota)

Die Toyota Fortuner (Foto: Toyota)

Die paneelbord, stuurwiel, rathefboom en al die kontroles is nuut. Dit is baie sagter op die hand en oog. Die handrem trek wel vir my smaak heeltemal te ver op, soos op die Hilux wat ons verlede week getoets het. Ek hou van ʼn handrem wat so drie keer klik voordat hy styf opgetrek is.  Indrukwekkende lugverkoeling hou die insittendes vars en gemaklik, al raak dit taamlik warm. Die Fortuner se binneruim het min geraas, vibrasie- en verfyndheidsvlakke, wat sorg dat die passasiers en bestuurder die langpad geniet sonder om te moeg te word. Die derde ry sitplekke slaan ook nou makliker op en af, as op die vorige model.

Soos met die Hilux, is die nuwe 2.8 GD-6 dieselenjin van die Hilux ʼn juweel. Stil, sterk en lig op diesel. Hierdie spesifieke toetseenheid is met die 6-gang handrat toegerus. Die handrat bied positiewe ratwisseling en die rathefboom se aksie is vir my lekker, maar ek verkies self die outomatiese model. Die nuwe 6-spoed outomatiese ratkas is puik en bied ʼn gemakliker bestuurservaring. Ritgehalte is indrukwekkend goed en sag genoeg sodat dit nie jou niere beskadig nie, maar hard genoeg om oormatige bakrol te voorkom.

Die Toyota Fortuner 2.5 D-4D (Foto: Toyota)

Die Toyota Fortuner (Foto: Toyota)

Die nuwe Fortuner is puik, veral vir my doeleindes. Sewe sitplekke met ʼn stewige standaard-toerustingvlak. Ek dink wel Toyota kon vir R596 100 navigasie ingesluit het en die raakskerm lyk baie beter tuis in die Fortuner se paneelbord as by die Hilux. Die handrat het ʼn raps minder wringkrag, met 420Nm tussen 1 400 en 2 600 r/min, teen die outomatiese model se 450Nm. Die lugverkoeling vir die agterste passasiers is vir my kinders die beste funksie ooit. Die Fortuner spog ook met ʼn 3 000kg sleepkapasiteit, dus is amper alles, duskant die bote wat ernstige hengelaars gebruik om marlyn uit Natal se noordkus te trek, heeltemal in die haak. Daar is ʼn sekere lewenstyl wat ʼn 4×4-sportnutsvoertuig jou bied en dit kos ʼn paar rand. Ek sit ook nou met die penarie dat die vorige 2.5 outomatiese Fortuner nie meer goed genoeg is nie.

Christo, Maroela Media se besigheidsbestuurder se mening: Ek ry tans ʼn Fortuner en is 100% tevrede met alles en het nogal gewonder of die nuwe Fortuner iets gaan bied wat my opgewonde maak. Ek was baie verbaas toe die nuwe Fortuner vir my dieselfde gevoel gee, maar soveel beter is. Toyota het dit reggekry om my opgewonde te maak met hul nuwe ontwerp en uitleg, maar tog voel ek steeds deel van die Fortuner-familie.

Die Toyota Fortuner 2.5 D-4D (Foto: Toyota)

Die Toyota Fortuner (Foto: Toyota)

Kyk, die motor is van buite mooi, BAIE MOOI, maar as jy inklim, sien jy ʼn goed-ontwerpte voertuig. Die voertuig ry soveel sagter en is net soveel luukser binne. Opvallende verbeterings was die dubbel-paneelkissie wat meer pakplek bied, die motor wat elektronies aanskakel, met ʼn Start/ Stop knoppie en die agterste ry sitplekke wat so maklik opvou, my vrou hoef nie meer te vra dat ek kom help nie. Dit Fortuner wat ons toetsbestuur het se panele was swart, met donkerbruin leerbekleedsels. My eerste gedagte was waarom, maar toe ek die sleutel later teruggee, was ek oortuig. My volgende Fortuner gaan dieselfde kleurskema binne hê. Dit lyk LUUKS! Gepraat van my volgende voertuig: Daar is net een motor op my wenslys – Die nuwe Toyota Fortuner 2.8 GD-6.

Die reeks lyk so:

ModelKragGeremde-sleepkapasiteitBrandstofverbruikPrys
2.7 VVTi RB outo122kW/ 245Nm2 500kg10.5l/100kmR438 000
2.4 GD-6 RB handrat110kW/ 400Nm2 500kg7l/100kmR454 000
2.4 GD-6 RB outo110kW/ 400Nm2 500kg7.9l/100kmR471 800
2.8 GD-6 RB handrat130kW/ 420Nm2 500kg7.5l/100kmR535 800
2.8 GD-6 RB outo130kW/ 450Nm2 500kg8l/100kmR554 400
2.8 GD-6 4×4 handrat130kW/ 420Nm3 000kg7.8l/100kmR596 100
2.8 GD-6 4×4 outo130kW/ 450Nm3 000kg8.5l/100kmR614 800
4.0 V6 4×4 outo175kW/ 376Nm3 000kg12l/100kmR660 600

­­­­Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000km waarborg en 5 jaar/ 90 000km diensplan.

Die kompetisie lyk so:

ModelKragGeremde-sleepkapasiteitBrandstofverbruikWaarborgPrys
Chevrolet Trailblazer 2.8 4×4 LTZ outo144kW/ 500Nm2 965kg9.5l/100km5 jaar/ 120 000km waarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R613 200
Ford Everest 3.2 4WD XLT outo147kW/ 470Nm3 000kg8.2l/100km4 jaar/ 120 000km waarborg

5 jaar/ 100 000km diensplan

R634 900

Let wel dat die Everest en Trailblazer nie in groter kapasiteit enjinmodelle in 4×4 en handrat beskikbaar is nie. Albei is outomatiese modelle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anton KLD ·

Ditto! Het nou die vorige model en die nuwe model in ons motorhuis. Baie, baie tevrede met nuwe Fortuner 2.8 GD6-RB Auto, in alle opsigte. Indien ek sou kon kies sou ek die stuurwiel spane verruil vir navigasie of parkeer hulp .

Eienaar ·

Uitstekend!

Ek het die ook opgemerk: “Die handrem trek wel vir my smaak heeltemal te ver op” – dus het ek inderdaad my model terug geneem hiervoor na die handelaar, maar hulle wou nie verstel want hulle was bang dit ‘bind’ (9 – 10 klieks tans)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.