Maroela Motors-padtoets: Hilux is ʼn bielie van ʼn bakkie

Die Toyota Hilux 2.8 GD-6 4x4 outo (Foto: Toyota)

Die Toyota Hilux 2.8 GD-6 4×4 outo (Foto: Toyota)

Maroela Motors toetsbestuur die Toyota Hilux 2.8 GD-6 4×4 outo

Sekere dinge is eg Suid-Afrikaans. Indrukwekkend dat meeste van hierdie intrinsiek Suid-Afrikaanse dinge met B’s begin: boerewors, braaivleis, biltong, bier, brandewyn, bokkies (dames of die diersoort) – en dan bakkies.

Die huidige Toyota Hilux 2.8 GD-6 4×4 outo is lid van die bobaasbakkie-gesin. Toyota het in September altesaam 3 063 Hilux-bakkies verkoop. Dit is Suid-Afrika se algehele topverkoper. Volgende lê Volkswagen se Polo Vivo met 2 822 eenhede. Dit sê vir my net een ding: Toyota Hilux is die meester. Nie gebaseer op dit wat ek te sê het nie, maar wat jy – die eindverbruiker sê as jy met jou rande praat. Ford se Ranger lê nie ver agter nie met 2 437 eenhede. As ons net na September se top-10 kyk, 17 886 eenhede – besit Hilux 17% van die markaandeel, en Ranger 13%. Ek kan jou waarborg Toyota se sompompe is baie tevrede met hierdie prestasie.

Menings wissel oor hoe mooi die nuwe Hilux is. Ek self is nie uit en uit ʼn Toyota-man nie. Ek stry gereeld dat hulle te duur is. Maar, ek kan nou sê, die manne met ou Hilux-bakkies wat sê die nuwe een is lelik, is net jaloers. Hulle gaan so ʼn Hilux aanskaf sodra die finansies dit toelaat.

Die Toyota Hilux 2.8 GD-6 4x4 outo (Foto: Toyota)

Die Toyota Hilux 2.8 GD-6 4×4 outo (Foto: Toyota)

Dit is ʼn mooi bakkie. Hy staan lekker breed en groot op sy spore en laat jou dadelik weet – hierdie bakkie is nie vir diegene wat flou van hart is nie. Gelukkig is die toetsmodel met treeplanke toegerus, want ek is maar kort – en die Hilux maar hoog. Die binneruim is vir my baie meer modern as sy voorganger. Netjies uitgelê en beter toegerus. Ek hou wel nie van die raakskerm se uitleg of funksionaliteit nie. Ek verkies knoppies waaraan mens gewoond raak, en nie daarna hoef te kyk om stellings te verander nie. Dit lyk asof die raakskerm na die tyd op die paneelbord vasgeboud is. Algeheel is die kwaliteit in die binneruim indrukwekkend. Stewige materiale is gebruik om duursaamheid te waarborg en mens voel lekker tuis. Die handrem-kous is vir my die enigste stukkie in die kajuit waar ek sal sê die gehalte kon beslis beter gewees het.

ʼn Ander funksie wat pla – maar op meeste Japannese voertuie gevind word, is as mens die elektriese vensters sluit met die knoppie aan die bestuurder se paneel – dan kan die voorste passasier se venster ook nie oop en toe nie. Ander voertuie sluit dan net die agterste ruite vir klein vingertjies wat knoppies druk. Mens sou seker gewoond raak daaraan, maar twee vriende se voertuie is ook so, en hulle sê dit maak hulle ook mal. Die Hilux is met ʼn truratkamera toegerus – en dit help goed met die groot lorrie agteruit skuif, maar ek sou steeds PDC wil hê. Die raakskerm is ook nie met navigasie toegewy nie – dalk spaar Toyota daai ene vir Legend 50?

Die Toyota Hilux 2.8 GD-6 4x4 outo (Foto: Toyota)

Die Toyota Hilux 2.8 GD-6 4×4 outo (Foto: Toyota)

Nou kom ons by die lekker dele. Die nuwe 2.8 viersilinder dieselmasjien wat in die Hilux te vinde is, is in een woord – uitstekend. Hy lewer 130kW teen 3 400 toere en 450Nm tussen 1 600 en 2 400 toere. Vir ʼn groot kapasiteit dieselenjin luier die masjien gemaklik tot verby 4 000 omwentelinge en trek baie sterk van baie laag in die toerestrek. Gekoppel aan Toyota se nuwe sesgang-outokas bied die Hilux ʼn moeitevrye bestuurservaring. Die Hilux wat ons op toets gehad het, was splinternuut met slegs 400 km op en die masjien was nog baie styf. Die Hilux het so 1 300 km op gehad toe ons hom terugstuur en mens kon reeds voel hoe die enjin beter begin trek. Brandstofverbruik is ook puik vir so groot lorrie, met ʼn outomatiese ratkas en 4×4. Ons het oor die 900 km 9.2ℓ/100 km bereik en glo dit sal verbeter soos die enjin inloop. Die rempedaal op die Hilux het ook ʼn spesifieke gevoel en terugvoer wat ek verkies. ʼn Lekker harde pedaal wat hard rem sonder om skrikkerig te wees. Baie voertuie se rempedale is deesdae vaag, of die ABS skop heeltemal te gou in. Ek hou niks daarvan nie. Die Toyota s’n is vir my net reg.

Die ritgehalte in die nuwe Hilux is ook in ʼn ander liga teenoor die vorige Hilux. Aanvanklik het ek gedink, “o aarde, wat het Toyota hier aangevang” – maar toe is al die bande net bietjie pap. Bande opgepomp, en siedaar – toe loop hy weer mooi. Die kajuit is lekker stil en vering baie sagter op die niere. Die kragstuur is vir my bietjie swaar gestel – maar terselfdertyd is die stuurwiel lekker akkuraat om die Hilux mooi op die pad te plaas net waar jy hom wil hê. Langafstand is ʼn plesier in die Hilux, stel die spoedbeheer op 120 km/h en mens hoor skaars die enjin. Die ratverhoudings is baie lank, dit hou die toere baie laag teen 120 km/h, ongeveer so 1 800 toere. Dit is seker waar daai goeie brandstofverbruik vandaan kom.

Die Toyota Hilux 2.8 GD-6 4x4 outo (Foto: Toyota)

Die Toyota Hilux 2.8 GD-6 4×4 outo (Foto: Toyota)

Ek en my gesin het ʼn hele dag in die Pilanesberg Nasionale Park spandeer en die Hilux was net die voertuig om dit mee te doen. Oorgenoeg plek in die agtersitplek vir my drie kinders, ma en pa lekker gemaklik voor. Die lugreëling werk puik en hou die stof buite. Al styg die kwik by 36 grade, bly dit heerlik koel binne die Hilux. Ek kan nie regtig kommentaar lewer oor die Hilux se 4×4-vermoë nie, maar ek kan jou waarborg hy sal ʼn meneer wees. Die 286 mm grondvryhoogte is indrukwekkend, behalwe as jy nou vergelyk teen ʼn monstertrok met 36”-wiele. Die Hilux is standaard toegerus met ʼn ewenaarslot en afdraandebeheer (DAC) asook laestrek op die ratkas. Daar word ook nuwe hoëvermoë-vastrapewenaars (LSD) in die voor- en agterewenaars gebruik.

Susan, Maroela Media se groot baas – nes die Hilux sê:

Ek moet bieg dat ek nie baie lus was om die Hilux te bestuur nie – dis groot en lomp en het vir my na baie moeite gelyk. Met die uitry by die kantoor se sekuriteitshek moes ek reeds ʼn sespuntdraai maak om nie die sekuriteitsman om te ry nie. My vooroordele het egter blitsig verdwyn. Die Hilux ry soos ʼn droom en bestuur gemaklik. Ek het veilig en in beheer gevoel, ten spyte van die bakkie se grootte. So ʼn bietjie asof ek op vakansie op ʼn passasierskip is en net kan terugsit – al die werk word namens my gedoen terwyl ek rustig heen en weer skommel en die landskap bekyk.

Die Toyota Hilux 2.8 GD-6 4x4 outo (Foto: Toyota)

Die Toyota Hilux 2.8 GD-6 4×4 outo (Foto: Toyota)

Parkeer is ʼn bietjie meer moeite, en as ek regtig krities moet wees, is die blindehoek links ʼn bietjie van ʼn probleem, omdat die agterste paneel aan die linkerkant nogal breed is en die uitsig versper. ʼn Wyehoekspieëltjie kan dalk hiervoor help.

Die bakkie is baie lank, maar die kamera agter maak dit baie maklik om te sien wat agter jou gebeur as jy in trurat is. Die bakkie het nie ʼn veilige plek om ʼn skootrekenaar te bêre nie, en ek het ʼn spieëltjie in die bestuurder se sonskerm gemis toe ek my grimering wou opknap voor ʼn vergadering. Maar ek besef dat die teikenmark van dié bakkie waarskynlik eerder ʼn bees as ʼn skootrekenaar wil oplaai, en dat hy soggens eerder ʼn veeg baardolie deur sy ruie baard vryf as om sy grimering op te knap. Dis dus nie die bakkie se skuld nie.

Ek moet bieg dat ek, stadsjapie, so ʼn bietjie my hart verloor het op dié groot bakkie met die sagte hart. Ek sou nie omgegee het om deel van die Hilux se teikenmark te wees nie. Totsiens, Toyota Hilux. Tot ons weer ontmoet.

Om op te som:

Die Toyota Hilux 2.8 GD-6 4x4 outo (Foto: Toyota)

Die Toyota Hilux 2.8 GD-6 4×4 outo (Foto: Toyota)

Ek is ‘n Suid-Afrikaner – nes julle. Ek smag na ʼn lekker groot dubbelkajuit om my gesin en woonwa die land mee vol te toer. Amper elke Suid-Afrikaanse gesin het iewers al met ʼn Toyota te doen gehad. Hulle betroubaarheid is wêreldbekend.

Ek het verlede week lekker gelag toe ek ʼn ding raaklees van, You can go into the Outback with any car. If you want to come out – go in with a Toyota. Hulle handelaarsnetwerk is ook die grootste in Suid-Afrika met 191 handelaars landwyd. So – laat die langpad jou lei – maak nie saak waar jy jou in Suid-Afrika vind nie, daar is ʼn handelaar om jou by te staan. Die prys is kwaai, maar Toyota se herverkoopwaarde verskriklik sterk. Skelms hou ook baie van ʼn Hilux – so maak seker jou versekering is in orde. Ek was nie regtig ʼn Toyota-man nie, maar ek wil graag wees.

Die reeks lyk so:

ModelKragGeremde-sleepkapasiteitBrandstofverbruikPrys
2.7 VVTi RB SRX handrat122kW/245Nm2 500 kg10.6ℓ/100 kmR385 800
2.4 GD-6 RB SRX handrat110kW/400Nm2 750 kg7.1 ℓ/100 kmR442 700
2.4 GD-6 4×4 SR handrat110kW/400Nm3 200 kg7.3 ℓ/100 kmR462 500
2.4 GD-6 4×4 SRX handrat110kW/400Nm3 200 kg7.3 ℓ/100 kmR468 800
2.8 GD-6 RB Raider handrat130kW/420Nm2 750 kg7.6 ℓ/100 kmR490 700
2.8 GD-6 RB Raider outo130kW/450Nm2 750 kg8 ℓ/100 kmR508 500
4.0 V6 RB Raider outo175kW/376Nm2 750 kg11.7 ℓ/100 kmR527 400
2.8 GD-6 4×4 Raider handrat130kW/420Nm3 500 kg7.6 ℓ/100 kmR554 600
2.8 GD-6 4×4 Raider outo130kW/450Nm3 500 kg8.5 ℓ/100 kmR573 500
4.0 V6 4×4 Raider outo175kW/376Nm3 000 kg11.7 ℓ/100 kmR621 600

*Slegs dubbelkajuitmodelle gelys. Die reeks is gedek deur Toyota se 3 jaar/100 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.

Die kompetisie is lekker sterk. Manne is erg passievol oor hulle bakkies. Gaan kyk mooi na direkte mededingers en ry met hulle almal. Tussen hierdie Hilux, Ranger, Amarok of KB is daar amper nie ʼn verskil in prys, waarborg, sleepkapasiteit of vermoë nie. Een gaan jou pas – en geniet hom.

Die kompetisie lyk so:

ModelKragGeremde-sleepkapasiteitBrandstof-verbruikWaarborgPrys
Isuzu KB 300       D-teq 4×4 LX Outo130kw/ 380Nm3 500 kg7.9 ℓ/100km5 jaar/120 000km-waarborg

5 jaar/90 000km-diensplan

15 000 km-diensintervalle

R563 500
Ford Ranger 3.2 4×4 outo147kw/ 470Nm3 500 kg9 ℓ/100km4 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/100 000 km-diensplan

20 000km diensintervalle

R577 900
Volkswagen Amarok 2.0 BiTDI Highline 4Motion outo132kW/ 420Nm3 000 kg8.3 ℓ/100km3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

15 000 km-diensintervalle

R580 200

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Kapenaar ·

Dit is net jammer van die toetse wat in Duitsland uitgevoer is, die Hilux is op dieselfde pad as die eerste Fortuners….. wil net rol… swak onderstel waarteen mense nou gewaarsku word. Dit my dit gaan ook n vlakvark genoem word……
Die eerste Fortuners, het die mense daar in die Noorde gepraat van ‘n vlakvark…. as hy grond sien, wil hy net rol!!!

Anton KLD ·

Dit is gewoonlik die “vlakvark bestuurders” wat die Fortuner probeer bestuur en dan die voertuig laat rol. Party ouens is altyd na-praters. Bring ‘n bietjie statistiek van hoeveelheid Fortuners verkoop sedert 2006 en die hoeveelheid gerol.

MCS ·

Ek dink nie dit is die voertuig wat die probleem is maar eerder die ou agter die stuur ! As n mens n windbol is dan het dit maar na gevolge!

Piet Pompies ·

Kapenaar se kommentaar is op feite gegrond, doen bietjie navorsing.

Johan ·

Ja die bakkies werk vir stedelinge. Maar die platteland se behoefte is aan ‘n voertuig wat die verswakte grondpaaie kan hanteer. Ek verstaan die boere in die Noord-Kaap beweeg weg van Toyota af, want die nuwe bakkies se bakwerk kraak. Meganies is Toyota baie goed. Die boere gaan vir Ford se beter bakwerk, al is hulle nie noodwendig meganies beter. Hulle motivering is Ford se bekostigbaarheid en daarop gee Ford die beste waarborg. Die punt is dat vir die prys en die gehalte wat Ford steeds bied, kan die bakkie breek, Ford sal herstel word…

Rupert Ashford ·

Moose test… nee wat enigiets anders as ‘n Rollux asseblief.

Hilux ·

Ja destyds toe die Hilux en die Fortuner (die motormark se oogappels) hulle voet effens skeef gesit het met die “moose” toets en die onervare bestuurders met die Fortuner , het daai twee voertuie , nes huidiglik , die top verkopers geword. MAW hulle is soveel beter as die ander voertuie dat dit GEEN verskil gemaak het aan die verkope nie, wat net onderstreep HOE FANTASTIES hulle is!

Marcel van Rossum ·

Nee wat hou maar daardie “bielie van ‘n bakkie” ek soek hom nie. Hulle maak lankal nie meer die bakkies vir die plaas nie. Gaan kyk maar by die skole wanneer die klok lui – die ryk mammies sit almal daar op die randstene met hulle. En gaan lees sommer ook in SA 4×4 (November 2016) hoe teleurgesteld Andre Ewe is met sy nuwe bakkie op sy overland roete deur Botswane, Namibie, Zambie en Zimbabwe. Die ding kan amper nie eers van die teerpad se lip af nie sonder om sy onderstel lelik te skraap. Oja en terloops sopas verneem van vriende van ons wat dieselfde roete met ‘n Land Cruiser gedoen het. En weet julle wat was sy brandstof verbruik liewe lesers? 3.1km/l. Ek herhaal 3.1km/l – – great bakkies ne!!!

Zack ·

Ek sê weer ‘n top verkoper is nie altyd die beste nie—kyk na ons goverment, Kyk hoe baie mense stem vir hulle en is hulle die beste???? I rest my case

Ververkoopswaarde???? Toyota se sogenaamde goeie verkoopswaarde moet seker maar opmaak vir toyota se belaglike hoe versekerings premies wat maandeliks betaal moet word deur die eienaars. Ek sal ook nie my familie toelaat om in een te ry nie agv die hoe risiko dat hulle ge “hijack” word.
Elkeen kan seker self besluit????

REAList ·

Die mense wat kommentaar lewer op die sg moose toets moet beslis kennis neem van die Toyota ongelukke op Namibia se reguit grondpaaie.
Die moose toetse het al ‘n paar vervaardigers op hulle neuse laat kyk.
Toyota is hier in goeie geselskap.

Chris ·

Was in die begin maar bra skepties oor die bakkie , het een aangeskap en ja wat n uitstekend voetuig nog geen ooblik spyt nie .

Johan ·

Het Toyota gekoop en binne 20000km weer verkoop weens clutches wat begin gly. Het 2 clutches vervang in 20000km. Het nog nooit die probleem met my Isuzu gehad nie. Ek is terug by Isuzu. Google maar Toyota clutch defects!

Christo ·

Besit nuwe 2016 model.Op 15000 km reeds injectors vervang.Baie teleurgesteld in Bidvest Toyota Lynnwood se swak diens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.