Maroela Motors-padtoets: Honda Civic 1.5T Sport

Honda Civic 1.5T Sport (Foto: Facebook)

Honda Civic 1.5T Sport (Foto: Facebook)

Die Honda Civic is ʼn finalis vir die Wesbank SA Motor van die Jaar. Die wenner van die kompetisie sal Woensdag 15 Maart aangekondig word. Toe die finaliste gekies is, het ek vir Honda gevra of ons een kan “leen” om te sien waaroor al die bohaai gaan.

Die nuwe Honda Civic is vir my bietjie van ʼn raaisel. Ek het al heelwat ervaring met Hondas deur die jare opgedoen. Nog nooit self een besit nie – maar my stiefma het. ʼn Ou Ballade 1.3. Seker so om en by ʼn vroeë 80’s-model. Hy’t nie ʼn voet verkeerd gesit nie en het heel lekker gery, vyfspoed-ratkas en al.

Daar is ʼn paar Hondas wat oor die jare my hartsnare getokkel het. Die eerste een was die vierde generasie Honda Ballade 1.6i DOHC. Dit was toe ek begin verlief raak op Honda se enjins wat so aptyt het vir toere. Die enjins het op hul lekkerste getrek bo 5 000 r/min. Die CR-X was ook ʼn interessante rakkertjie. Ek sal nou nog een koop as ek ʼn mooi een kon kry met lae kilo’s op.

Honda Civic 1.5T Sport (Foto: Facebook)

Honda Civic 1.5T Sport (Foto: Facebook)

Daarna was dit die sesde generasie Civic wat Honda se VTEC-stelsel wêreldberoemd gemaak het. Hier in Suid-Afrika, as jy jonk was met ʼn redelike inkomste, was daar drie karre op jou radar. ʼn Honda Civic VTEC, ʼn Golf III VR6 of ʼn Opel Astra tS. Drie heeltemal verskillende resepte vir die selfde dis, spoed.

Die nuutste Civic is glad nie die toere-mal atmosferiese Civics van destyds nie. Dit is ʼn baie groter kar, en is ook nou turbo-aangejaag. Dit is iets wat ek nie gedink het ons sou uit Honda se stal beleef nie.

Die Civic is vir my baie mooi van voor – maar agter is vir my nog bietjie vreemd. Die meeste menings in die kantoor is dat hulle baie daarvan hou. Die binneruim is regtig indrukwekkend ruim en gemaklik. Die bestuurder se sitplek kan heerlik laag stel en die stuurwiel kan nader aan jou getrek word. Die kajuit is ergonomies uitgelê en mens raak dit redelik vinnig baas.

Honda Civic 1.5T Sport (Foto: Facebook)

Honda Civic 1.5T Sport (Foto: Facebook)

Die Civic se klankstelsel is toegerus met Apple CarPlay, ʼn sisteem wat ek dink regtig indrukwekkend goed werk en ʼn “moet-hê”-opsie is vir Apple-gebruikers. Verder is die Civic toegerus met elke luuksheid wat jou hart sou begeer van outomatiese ligte en ruitveërs, klimaatbeheer, truratkamera en verhitte voorsitplekke tot spoedbeheer en talle meer.

Die Civic het nou ʼn 1.5 liter-viersilinder- turbo-aangejaagde VTEC-enjin. 127 kW teen 5 500 toere en 220 Nm tussen 1 700 en 5 500 toere. ʼn Meer lineêre kraglewering kan ʼn mens nie verwag nie. Die enjin is gepaard met Honda se CVT-ratkas. Ek hou nie van ʼn CVT-ratkas nie – maar ek kan sien hoekom dit gebruik word. Die ratkaste is baie ekonomies, maar ek hou nie van die “geen ratte”-gevoel en die geluid van die enjin waar die ratkas die toere bepaal. Die ratkas raak sy taak goed baas en slinger die Civic van 0 – 100 km in slegs 8,2 sekondes en sal aanhou tot 200 km/h.

Die Honda se vering en ritgehalte is indrukwekkend goed. Styf genoeg om enige onnodige bakrol te elimineer, maar nie ondeund en stamperig op minder as perfekte paaie nie. Die kattebak is reusagtig en sal met gemak ʼn gesin se bagasie insluk.

Ek sal die Civic so opsom: Indien jy in die mark is vir ʼn sedan wat heerlik ry, propvol tegnologie is en boonop vereerde betroubaarheid bied, is die Civic beslis ʼn opsie om na te kyk.

Die reeks lyk so:

Civic 1.8 Comfort104 kW/174 Nm6.3 l/100 kmR330 000
Civic 1.8 Elegance104 kW/174 Nm6.3 l/100 kmR370 000
Civic 1.5T Sport127 kW/220 Nm5.9 l/100 kmR430 000
Civic 1.5T Executive127 kW/220 Nm5.9 l/100 kmR460 000

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/200 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan. Diensintervalle is elke 10 000 km.

Die kompetisie lyk so:

Ford Focus 1.5T Trend Outo132 kW/240 Nm6.1 l/100 km4 jaar/ 120 000 km-waarborg

4 jaar/ 80 000 km-diensplan

R327 900
Toyota Corolla 1.8 Exclusive Outo103 kW/173 Nm6.4 l/100 km3 jaar/ 100 000 km-waarborg

5 jaar/ 90 000 km-diensplan

R349 400
Volkswagen Jetta 1.4 TSI Highline Outo110 kW/250 Nm5.2 l/100 km3 jaar/ 120 000 km-waarborg

5 jaar/ 90 000 km-diensplan

R397 200
Mazda 3 2.0 Astina Plus121 kW/210 Nm5.8 l/100 km3 jaar/ onbeperkte km- waarborg

3 jaar/ onbeperkte km- diensplan

R410 400

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pete ·

Amper dieselfde enjinkrag as dertig jaar gelede se drieliter Mercedes met die helfte tot ‘n derde van die brandstofverbruik,of selfs beter, afhangende van wie bestuur en hóé. Tegnologie is verstommend, deesdae. Honda het ons oor dertig jaar baie getrou gedien.

Paul ·

Die interessante is dat motorvervaardigers stadig maar seker weer begin wegbeweeg van die tendens om kleiner enjins met vet turbos te gebruik.
Die klein enjintjies in deesdae se karre stel in alledaagse gebruik meer skadelike dampe vry as groter enjins. In die regeringstoetse doen die klein enjintjies wel goed, maar in die werklike lewe glad nie so goed nie – dis iets wat met die Volkswagen “defeat device”-skandaal nou al meer aandag kry. Hoewel dit die een was wat aandag getrek het omdat dit onwettig was, het basies alle motorvervaardigers wettige maniere gebruik om dieselfde tipe ding te doen – enjins te bou wat in amptelike toetse min gasse vrystel, maar in die werklikheid meer besoedel as die ouer tweeliters en drieliters.

Die baas van VW, Herbert Diess, het vroeër die maand gesê “The trend of downsizing engines is over. As engine size goes down, emissions tend to go up.”
Basies sê die Duitser wat die Amerikaners nog altyd sê: “There’s no replacement for displacement.”

Hulle sal waarskynlik weer met tegnologie na vore kom wat kleiner enjins wat werklik meer omgewingsvriendelik is, moontlik maak, maar vir nou gaan enjins groei eerder as krimp.

M'Lady ·

Het self n Honda Ballade gery in die tagtigs toe hulle net op die mark gekom het. Nog R8,000.00 betaal. Nooit probleme gegee nie en na 17 jaar verkoop. Nog steed n sagte “spot” vir n Honda.

Paul ·

Om die verskil tussen die toetse vir brandstofverbruik en uitlaatgasse te verduidelik:

Die Europese toetse hiervoor, begin met ‘n koue enjin met die kar wat stilstaan op ‘n “dyno” en die toets loop vir ongeveer 20 minute lank met die enjin wat nooit enjinspoed van meer as 2400rpm bereik nie.

G’n mens in die werklike lewe, buiten dalk ‘n 80-jarige, bestuur so nie.

In werklikheid, wanneer hierdie klein enjintjies met turbos soos normaalweg bestuur word, genereer die turbo baie meer hitte as wat gegenereer word in die amptelike toets. Dit veroorsaak in dieselenjins baie meer stikstofoksiedvrystellings en in petrolenjins verhoogde partikel-vrystellings en hoër brandstofverbruik.

Sommige van hierdie klein turbo enjins spuit addisionele brandstof in die silinders in wanneer die enjin teen hoër toere loop, net om die silinders te verkoel – daardie brandstof gaan hoofsaaklik onverbrand by die uitlaatpyp uit. Renault se 0.9-liter enjin is een so voorbeeld.

JOHN COX ·

HONDAS IS PUIK EN WAARDE VI JOU GELD
GAAN KYK GERUS NA DIE BR-V

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.