Maroela Motors-padtoets: Kia Soul – ideaal vir die oop pad

Kia Soul 1.6 CRDi SMART DCT Foto: Kia

Kia Soul 1.6 CRDi SMART DCT Foto: Kia

Maroela Motors toetsbestuur die Kia Soul 1.6 CRDi SMART DCT.

Kia werk die afgelope paar jaar hard daaraan om nuwe produkte te ontwikkel. Die nuwe Sedona en Sorento is vir my regtig mooi voertuie. Lekker groot, en ja – meer vir die Amerikaanse mark ontwerp, maar pas tog lekker in by ons sonnige Suid-Afrikaanse leefstyl.

Die Soul was ʼn vreemde rakker van die begin af. Toe kruismodelle op die mark verskyn het, kon ek hulle nie mooi verstaan nie. Ek het altyd gesê: koop ʼn sedan of ʼn luikrug of ʼn sportnutsvoertuig of ʼn bakkie. Waarvoor is al hierdie bussies en opgepompte luikrûe? Nou dat ek ʼn pappa is, verstaan ek baie mooi. Mens sit lekker hoog en die kajuit voel baie meer ruim as wat dit werklik is.

Kia het vir ons hulle nuutste Soul gebring, ʼn 1.6 diesel outomaties. My gunsteling enjin-ratkaskombinasie. Die 1.6 CRDi Soul het 100kW en 300Nm wringkrag. Dit is so te sê dieselfde krag wat my eie gesinsmotor lewer. Dit is meer as genoeg krag, selfs al sleep ek my karavaan. Die Soul is ʼn aantreklike motor, mooi in sy rooi jas met sy 18 duim ‘tekkies’. Selfs heel sportief.

Kia Soul 1.6 CRDi SMART DCT Foto: Kia

Kia Soul 1.6 CRDi SMART DCT Foto: Kia

Die kajuit is ergonomies uitgelê en goeie kwaliteit materiale word gebruik. Die leersitplekke is lekker gemaklik en kan elektries verstel word nes jy dit wil hê. Die stuurwiel kan vir hoogte en diepte gestel word, so mens kan in ʼn japtrap gemaklik raak in die Soul. Outomatiese ligte en ruitveërs met ʼn outomatiese verduisterende truspieëltjie is welkome luukshede. Daar is tot selfs ʼn truratkamera vir diegene wat nie aan die Soul se proporsies gewoond is nie. Die klankstelsel koppel vinnig met Bluetooth of ʼn USB-kabel aan jou slimfoon vir musiek of om veilig oproepe te maak.

Die enjin begin van sy krag op lae toere lewer en begin sterk trek net bo 2 000 r/min. As mens jou regtervoet in die mat begrawe, sal hy gemaklik trek tot net na 4 000 r/min waar die enjin op die ratkas wag vir die volgende rat. Ek moet bieg dat ek nie die grootste liefhebber is van ʼn dubbelkoppelaar-ratkas op ʼn dieselenjin nie. Met die wegtrek vind ek hulle bietjie traag en dit wil vir my voorkom of die ratkas bang is vir die wringkrag wat die enjin kan bied. Die motor sidder liggies terwyl die ratkas die koppelaar ontkoppel, maar as hy eers aan die gang is, sit hy seepglad ratte oor. Dit bied ʼn probleem in swaar verkeer waar mens heeltyd op die remme is. Die ratkas voer die koppelaar in en uit en naderhand word die ratkas verwar. So, lieflik op die oop pad, maar nie fantasties in wilde verkeer nie.

Kia Soul 1.6 CRDi SMART DCT Foto: Kia

Kia Soul 1.6 CRDi SMART DCT Foto: Kia

Brandstofverbruik is ook beter as petrolmodelle, maar nie fantasties nie. My eie 1.9 diesel is wel ʼn handrat, maar ʼn dubbelkoppelaar werk presies soos ʼn handrat, so dit is veronderstel om ligter op brandstof te wees. My eie voertuig het 96kW en 300Nm en met dieselfde roetes en bestuurstyl as die Soul, kry my eie motor so 6.2l/100km en die Soul het 7.8l/100km gebied. My motor is boonop groter en swaarder as die Soul.

Om op te som, die Kia Soul is iets anders. Dit lyk nie soos enige doodgewone luikrug nie. Hy is baie netjies gebou met goeie gehalte produkte en ry gerieflik. Daar is ook ʼn magdom lugsakke om jou te beskerm in ʼn botsing – alhoewel die Soul maar ʼn 4-ster Euro NCAP-gradering kry. Vreemd, want die vorige model het vyf sterre gehad. Die spesifikasievlak in die Soul is indrukwekkend, al het sy prys aanvanklik bietjie styf gevoel op R418 995, maar dit is in lyn met sy mededingers. Kia het ook sopas sy splinternuwe 8-gang outokas vir voorwielaangedrewe motors oorsee bekendgestel. Dit sal moontlik ʼn beter ratkaskombinasie bied. Die vyf jaar- onbeperkte waarborg spreek boekdele oor Kia se vertroue in hulle produk.

Die reeks lyk so:

Soul 1.6 Start91kW/ 152Nm7.9l/100kmR299 995
Soul 1.6 Start Outo91kW/ 152Nm7.5l/100kmR312 995
Soul 2.0 Street116kW/ 192Nm7.5l/100kmR336 995
Soul 1.6D Street94kW/ 260Nm5.2l/100kmR364 995
Soul 2.0 Smart Outo116kW/ 192Nm7.9l/100kmR379 995
Soul 1.6D Smart Outo100kW/ 300Nm5.4l/100kmR418 995

Die hele Soul reeks word gedek deur ʼn vier jaar/90 000 km-diensplan en ʼn vyf jaar- onbeperkte km-waarborg.

Die kompetisie lyk so:

Mini Cooper S Countryman Outo140kW/ 240Nm7.5l/100km3 jaar omvattende instandhoudingsplan

2 jaar/onbeperkte km-waarborg

R413 043
Nissan Qashqai 1.6dCi Acenta Outo96kW/ 320Nm4.9l/100km3 jaar/90 000 km-diensplan

6 jaar/150 000 km-waarborg

R426 900
Renault Kadjar 81kW dCi Dynamique81kW/ 260Nm4.7l/100km5 jaar/90 000 km-diensplan

5 jaar/150 000 km-waarborg

R414 900

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.