Mazda geniet tans reusesukses in Suid-Afrika. Hulle het ʼn rekord-2016 losgeslaan en oor die 12 000 eenhede vir die jaar verkoop. David Hughes, Mazda SA se besturende direkteur, sal einde Maart die leisels oorhandig aan Craig Roberts, ʼn Suid-Afrikaner. David is ingevoer van Australië om Mazda Suid-Afrika op sy eie voete te laat staan ná die egskeiding met Ford.
Die Mazda 3 2.0 Astina is ʼn baie mooi kar. Mazda se KODO-ontwerpstyl verseker dat die proporsies net reg is. Die luikrug sit ook nog op mooi 18”-wiele wat net reg lyk. Toe die Mazda by die kantoor opdaag, was ons skoon opgewonde…
Aan die binneruim raak dit vir my nog meer aantreklik. Ek hou van die volwasse pak wat die binneruim aanhet. Heerlik gemaklike leersitplekke vir vyf insittendes en ʼn behoorlike klankstelsel maak die meeste reise gemaklik. Al die speelgoed is in die buksie gepak. Klimaatbeheer, navigasie, spoedbeheer, Bluetooth, outomatiese ligte en ruitveërs en nog verhitte sitplekke voor. Om jou veilig te hou is daar ʼn baanbeheerstelsel en ooghoogteprojeksie (HUD).
Die Mazda se vering is gemaklik genoeg, hoewel nie vreeslik sportief nie, maar kan op baie slegte paaie bietjie ondeund raak weens die groot 18”-wiele met laeprofiel-bande. Klankdigtheid is heeltemal goed en die Mazda 3 is regtig ʼn aangename plek om te wees.
Helaas kom ons by die enjin. Ongelukkig, soos met die CX-3 wat ons onlangs getoets het, stel die enjin teleur. Die Mazda 3 het ʼn tweeliter-viersilinder-masjien wat 121 kW en 210 Nm bied. Op papier lyk dit heel goed, maar in werklikheid is die enjin se kraglewering effe plat en kom nooit op ʼn punt waar dit 121 kW sterk voel nie. Die klein MX-5 gebruik ook die tweeliter-enjin, maar daar is met sy bonokas getokkel en hy sing. Die hele karakter van die enjin is verander, maar hier is hy net te vaal.
Die enjin is gepaard met Mazda se ingewikkelde outomatiese ratkas. Die ratkas is ʼn kombinasie tussen ʼn gewone outokas met ʼn wringkragomsitter, die nuutmodieuse dubbelkoppelaar en ʼn CVT (Continuously Variable Transmission). Hierdie ingewikkelde stuk ingenieurswese bied ʼn goeie kompromis tussen al die outokaste. Net jammer die enjin kan nie die ratkas se volle potensiaal ontbied nie.
Dit is moeilik om die Mazda 3 op te som. Ek hou baie van die ontwerp. Die kar is indrukwekkend goed toegerus. Die mark is wel taai in die kategorie en teen R385 900 verwag ek meer van die enjin en sal ongelukkig my geld elders bestee.
Die reeks lyk so:
Mazda 3 1.6 Original | 77 kW/144 Nm | 6.2 l/100 km | R264 000 |
Mazda 3 1.6 Active | 77 kW/144 Nm | 6.2 l/100 km | R277 200 |
Mazda 3 1.6 Dynamic | 77 kW/144 Nm | 6.2 l/100 km | R290 500 |
Mazda 3 1.6 Dynamic outo | 77 kW/144 Nm | 6.9 l/100 km | R302 200 |
Mazda 3 2.0 Individual | 121 kW/210 Nm | 6.2 l/100 km | R338 500 |
Mazda 3 2.0 Individual outo | 121 kW/210 Nm | 5.9 l/100 km | R350 700 |
Mazda 3 2.0 Astina | 121 kW/210 Nm | 5.9 l/100 km | R385 900 |
Mazda 3 2.0 Astina Plus | 121 kW/210 Nm | 5.9 l/100 km | R415 900 |
Die reeks word gedek deur Mazda se 3 jaar/onbeperkte km-waarborg en diensplan. Diensintervalle is elke 15 000 km.
Die kompetisie lyk so:
Ford Focus 1.5T Trend outo | 132 kW/240 Nm | 6.1 l/100 km | 4 jaar/120 000 km- waarborg 4 jaar/80 000 km- diensplan | R330 900 |
Volkswagen Golf 1.4TSI Comfortline outo | 92 kW/200 Nm | 5 l/100 km | 3 jaar/120 000 km- waarborg 5 jaar/90 000 km- diensplan | R359 900 |
Renault Megane GT Line outo | 97 kW/205 Nm | 5.4 l/100 km | 5 jaar/150 000 km- waarborg 5 jaar/90 000 km- diensplan | R368 900 |
Honda Civic 1.8 Executive outo | 104 kW/174 Nm | 6.5 l /100 km | 5 jaar/200 000 km- waarborg 5 jaar/90 000 km- diensplan | R370 200 |
Peugeot 308 GT Line outo | 96 kW/230 Nm | 5.2 l/100 km | 3 jaar/100 000 km- waarborg 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan | R371 900 |
Opel Astra 1.4T Sport outo | 110 kW/245 Nm | 5.5 l/100 km | 5 jaar/120 000 km- waarborg 5 jaar/90 000 km- diensplan | R389 200 |
Die Ford bied verreweg die meeste sous vir die minste geld. Hier is te veel mededingers om te kan sê watse een ek sou koop … Kies ʼn paar wat vir jou mooi is, ry hulle en besluit dan.
Heeltemaal n ander tipe voertuig, maar met Ford se huidige aanbod van R350k vir n auto 2.2 dubbelkajuit hoef mens nie baie lank te dink nie. Ek is rêrig mal oor die Mazda en sou dit graag wou besit, maar die prys is regtig vir mense met meer geld as verstand.