Maroela Motors-padtoets: Mazda 3 2.0 Astina, visueel belowend – lustelose hart

Die Mazda 3 2.0 Astina (Foto: Mazda)

Die Mazda 3 2.0 Astina (Foto: Mazda)

Mazda geniet tans reusesukses in Suid-Afrika. Hulle het ʼn rekord-2016 losgeslaan en oor die 12 000 eenhede vir die jaar verkoop. David Hughes, Mazda SA se besturende direkteur, sal einde Maart die leisels oorhandig aan Craig Roberts, ʼn Suid-Afrikaner. David is ingevoer van Australië om Mazda Suid-Afrika op sy eie voete te laat staan ná die egskeiding met Ford.

Die Mazda 3 2.0 Astina is ʼn baie mooi kar. Mazda se KODO-ontwerpstyl verseker dat die proporsies net reg is. Die luikrug sit ook nog op mooi 18”-wiele wat net reg lyk. Toe die Mazda by die kantoor opdaag, was ons skoon opgewonde…

Aan die binneruim raak dit vir my nog meer aantreklik. Ek hou van die volwasse pak wat die binneruim aanhet. Heerlik gemaklike leersitplekke vir vyf insittendes en ʼn behoorlike klankstelsel maak die meeste reise gemaklik. Al die speelgoed is in die buksie gepak. Klimaatbeheer, navigasie, spoedbeheer, Bluetooth, outomatiese ligte en ruitveërs en nog verhitte sitplekke voor. Om jou veilig te hou is daar ʼn baanbeheerstelsel en ooghoogteprojeksie (HUD).

Die Mazda se vering is gemaklik genoeg, hoewel nie vreeslik sportief nie, maar kan op baie slegte paaie bietjie ondeund raak weens die groot 18”-wiele met laeprofiel-bande. Klankdigtheid is heeltemal goed en die Mazda 3 is regtig ʼn aangename plek om te wees.

Die Mazda 3 2.0 Astina (Foto: Mazda)

Die Mazda 3 2.0 Astina (Foto: Mazda)

Helaas kom ons by die enjin. Ongelukkig, soos met die CX-3 wat ons onlangs getoets het, stel die enjin teleur. Die Mazda 3 het ʼn tweeliter-viersilinder-masjien wat 121 kW en 210 Nm bied. Op papier lyk dit heel goed, maar in werklikheid is die enjin se kraglewering effe plat en kom nooit op ʼn punt waar dit 121 kW sterk voel nie. Die klein MX-5 gebruik ook die tweeliter-enjin, maar daar is met sy bonokas getokkel en hy sing. Die hele karakter van die enjin is verander, maar hier is hy net te vaal.

Die enjin is gepaard met Mazda se ingewikkelde outomatiese ratkas. Die ratkas is ʼn kombinasie tussen ʼn gewone outokas met ʼn wringkragomsitter, die nuutmodieuse dubbelkoppelaar en ʼn CVT (Continuously Variable Transmission). Hierdie ingewikkelde stuk ingenieurswese bied ʼn goeie kompromis tussen al die outokaste. Net jammer die enjin kan nie die ratkas se volle potensiaal ontbied nie.

Dit is moeilik om die Mazda 3 op te som. Ek hou baie van die ontwerp. Die kar is indrukwekkend goed toegerus. Die mark is wel taai in die kategorie en teen R385 900 verwag ek meer van die enjin en sal ongelukkig my geld elders bestee.

Die reeks lyk so:

Mazda 3 1.6 Original77 kW/144 Nm6.2 l/100 kmR264 000
Mazda 3 1.6 Active77 kW/144 Nm6.2 l/100 kmR277 200
Mazda 3 1.6 Dynamic77 kW/144 Nm6.2 l/100 kmR290 500
Mazda 3 1.6 Dynamic outo77 kW/144 Nm6.9 l/100 kmR302 200
Mazda 3 2.0 Individual121 kW/210 Nm6.2 l/100 kmR338 500
Mazda 3 2.0 Individual outo121 kW/210 Nm5.9 l/100 kmR350 700
Mazda 3 2.0 Astina121 kW/210 Nm5.9 l/100 kmR385 900
Mazda 3 2.0 Astina Plus121 kW/210 Nm5.9 l/100 kmR415 900

Die reeks word gedek deur Mazda se 3 jaar/onbeperkte km-waarborg en diensplan. Diensintervalle is elke 15 000 km.

Die kompetisie lyk so:

Ford Focus 1.5T Trend outo132 kW/240 Nm6.1 l/100 km4 jaar/120 000 km- waarborg

4 jaar/80 000 km- diensplan

R330 900
Volkswagen Golf 1.4TSI Comfortline outo92 kW/200 Nm5 l/100 km3 jaar/120 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R359 900
Renault Megane GT Line outo97 kW/205 Nm5.4 l/100 km5 jaar/150 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R368 900
Honda Civic 1.8 Executive outo104 kW/174 Nm6.5 l /100 km5 jaar/200 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R370 200
Peugeot 308 GT Line outo96 kW/230 Nm5.2 l/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R371 900
Opel Astra 1.4T Sport outo110 kW/245 Nm5.5 l/100 km5 jaar/120 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R389 200

Die Ford bied verreweg die meeste sous vir die minste geld. Hier is te veel mededingers om te kan sê watse een ek sou koop … Kies ʼn paar wat vir jou mooi is, ry hulle en besluit dan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jorie ·

Heeltemaal n ander tipe voertuig, maar met Ford se huidige aanbod van R350k vir n auto 2.2 dubbelkajuit hoef mens nie baie lank te dink nie. Ek is rêrig mal oor die Mazda en sou dit graag wou besit, maar die prys is regtig vir mense met meer geld as verstand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.