Maroela Motors-padtoets: MINI Cooper S Clubman Outo

MINI Cooper S Clubman Foto: BMW

MINI Cooper S Clubman Foto: BMW

Straler-stasiewa

So deur die geskiedenis is daar baie slegte gebeurtenisse wat goeie uitkoms gelewer het. Vat byvoorbeeld die Tweede Wêreldoorlog. Dit het vir ons die straalmotor gegee. Ek is dankbaar daarvoor. Nou kan ons in 11 ure vanaf Johannesburg na Londen vlieg. Voor die straler-tyd het hierdie roete drie dae geneem!

So ook met die 1954-Suez-krisis. Dit het Engeland in ʼn brandstofkrisis gedompel en groot voertuie se verkope het getuimel. Leonard Lord, in daardie stadium die leier van die British Motor Company (BMC), was glad nie beïndruk met die Duitse ‘bubble cars’ van die tyd nie en het besluit om ʼn ander oplossing te bied: ʼn behoorlike mini-motor.

Lord het toe vir Alec Issigonis aangestel en in 1959 is die Austin MINI bekendgestel aan die publiek. Tussen 1959 en 2000 is die MINI vervaardig onder verskeie name en weergawes. In hierdie tydperk is ʼn totaal van 1 581 887 MINIS slegs in Brittanje verkoop. ʼn Reuse sukses oor die hele wêreld, tot in motorsport! In 1994 het ʼn sukkelende BMC die handelsmerk aan Duitse BMW verkoop. In 1995 het BMW begin werk aan die oorspronklike MINI se opvolger. In 2001 is die splinternuwe MINI bekendgestel, meer soos ons hom nou sal herken. BMW het alles ‘meer’ gemaak. Hy is toe veiliger, groter, nuwer, luukser en so voorts.

Vyftien jaar later in 2016 is ʼn nuwe MINI Clubman bekendgestel. Hierdie een spesifiek is die MINI Clubman Cooper S outo. Weer, groter; vinniger; luukser; mooier en so voorts. Ek gaan sommer uit die staanspoor vir julle sê: hierdie MINI is asemrowend lekker. Hy gooi die MINI-argument by die venster uit. Ek het drie kindertjies. Gewoonlik as ʼn karretjie bietjie knap raak, dan is dit ʼn vreeslike uitdaging om al die kindertjies en skooltasse in die motor te pas. Hierdie MINI Clubman het geen probleem met my drie kinders en hul skooltasse nie.

Die binneruim is ultra modern met elke ‘gadget’ wat jou hart begeer. Hier moet ek sê, ons toetsmotor is met al hierdie ‘gadgets’ gespesifiseer en dit het toe amper R200 000 se verwoesting aan die koopprys meegebring. Die sitplekke is heerlik en kan elektronies net reg gestel word soos wat jy daarvan hou. Beenruimte vir die agtersitplekke is regtig indrukwekkend vir ʼn MINI. Die ‘skuurdeure’ agter pla effens in die truspieëltjie, maar mens raak dit vinnig gewoond. Ons Clubman was met die opsionele Harman Kardon-klankstelsel toegerus – ʼn opsie wat ek nie sal ignoreer as ek my MINI bestel nie.

Die Cooper S-weergawe van die Clubman het ‘n ‘bom-klapper’ onder die enjinkap. Dit is BMW se 2 Liter viersilinder turbo-petrol met 141kW en 280Nm wringkrag, 300Nm op overboost – tesame met BMW se fantastiese 8-spoed outokas. Die MINI spring uit die blokke vinniger as Usain Bolt en los jou met ʼn glimlag wat na ʼn rukkie die wange seer maak. Die ritgehalte is weereens puik vir so ʼn lae motor met sportiewe intensies. Daar word beslis DNS gedeel met BMW, en dieselfde toordery wat hulle met die X1 gebruik het wat ons onlangs getoets het, geld hier ook. Run-flat-bande pla nie en die vering is hard genoeg om wilde bakrol te voorkom, maar sag genoeg dat jou niere dit kan hou op ʼn ondeunde pad.

Hierdie MINI het my in die sop gelaat by mev. Staniforth. Ek ruk toe elke tweedehandsemotor-webtuiste oop en soek kliphard vir ʼn MINI van my eie. Mev. Staniforth meen ek het reeds drie MINI-mensies, en daar sal nie nog een wees nie.

Om op te som. Die Clubman is ʼn nisvoertuig in ʼn klas van sy eie. Hy is mooi genoeg ten spyte van die ‘no-fear’ agterligte, sportief, jonk en propvol pret. Die bom-klapper-enjin gee vir jou ʼn behoorlike kardio-oefening en mens glimlag soos ʼn nar by ʼn kinderpartytjie. Vir diegene van ons in wie se are brandstof vloei, is daar min karre waarmee mens net wil rits, want dit is lekker. Hierdie Clubman is só ʼn motor.

Ek moes die sleutels vir die MINI met geweld by my kollegas gryp.

Die volgende liedjie het by my kollega Annelize opgekom:

Mamma, ek wil ʼn kar hê! 
Watse kar my liewe kind? Wil jy dalk ʼn Mini hê?
Ja, mamma, ja!

Sy voel dit is een van die ongelooflikste motors waarmee sy nog gery het. Sy is tans in die mark vir ʼn nuwe motor en huil krokodiltrane omdat sy nie ʼn nuwe Clubman kan bekostig nie. Hy is dan net reg. Veilig, luuks, vas op die pad, zippy, koel, stunning en vinnig genoeg vir wanneer dit nodig is. Daar is tot genoeg plek vir haar kinders en hul tasse ook!

Nico, ons nuusredakteur, het ʼn baie kort spin gevat in die MINI en hy meen die Clubman ry baie sag al het hy baie krag. Dit is wel moeilik om gewoond te raak aan al die vreemde knoppies in ʼn paar minute.

Cyril was die gelukkige kollega wat die MINI vir die naweek gehad het. Hy voel die Clubman kort niks. Jy kan hom handrat of outomaties ry. Die leersitplekke voel soos goeie kwaliteit egte leer. Cyril is baie lank en kon die stoel stel dat hy gemaklik voel. Die knoppies is almal binne reikafstand en jy hoef nie jou oë van die pad af te haal om die kontroles te beheer nie. Die klank van die Harman Kardon is fenomenaal. Die kajuit is tjoepstil binne en die 8-spoedratkas maak langafstandreis heerlik. Hy sê as jy nie gewoond is aan sportiewe sitplekke nie, kan jy aanvanklik voel of die banke smal is, maar jy raak dit vinnig gewoond. Die motor is ook baie laag en hy was bang dit sleep onder in sy oprit. Gelukkig is Cyril ook tegno-slim, so al die truuks het hom nie verwar nie.

Om af te sluit. Die MINI is beslis nie na almal se smaak nie, maar almal hier by Maroela is mal oor hom. Hy is duur, maar in hierdie nis is daar min voertuie wat nie duur is nie. Kies jou opsies versigtig en geniet hom elke dag. Dit is wel ʼn veiliger en goedkoper opsie vir ʼn middeljarekrisis as die sekretaresse.

Die reeks lyk so:

Cooper Clubman100kW/ 220NmR362 570
Cooper Clubman Outo100kW/ 220NmR380 570
Cooper S Clubman141kW/ 280NmR441 192
Cooper S Clubman Outo141kW/ 280NmR459 552

Die kompetisie lyk so: (Alhoewel daar nie direkte mededingers vir die Clubman is nie).

Volvo V40 T4 Inscription Outo140kW/ 300NmR443 312
Audi Sportback 1.8T SE Outo132kW/ 250NmR452 500

Prys soos getoets:  R636 486.40

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

M A ·

Ai, in die 70s het ons twee minis besit maar hulle het nie eers soos familie van hierdie Coopers gelyk nie. Arm mense se karretjies en hel op wiele as jy klein kinders gehad het. Die nuwes is luukse voertuie wat ek nooit in my lewe sal kan bekostig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.