Maroela Motors-padtoets: Nissan Leaf – Die tjoepstil toekoms

Die Nissan Leaf (Foto: Nissan)

Die Nissan Leaf (Foto: Nissan)

Ek gaan sommer uit die staanspoor my toekoms as motorjoernalis met brandstof wat deur my are vloei op die spel sit. Ek hou van elektriese motors. Daar – ek het dit gesê. Ek hou van die idee van die tegnologie. Ek hou van krag opwek deur die remme. Ek hou van die stilte. Ek hou van die moontlike betroubaarheid wat die tegnologie kan bied. Hoewel ek baie daarvan hou, is dit nie sonder uitdagings nie.

Is ʼn Nissan Leaf die perfekte voertuig vir almal? Beslis nie. Ek self sleep ʼn woonwa en ry gereeld dwarsoor Suid-Afrika. Die Leaf sal nie in hierdie gevalle werk nie. Die reikafstand is in die omgewing van 120 km, na gelang van hoe jy ry. Ons het onlangs die Leaf en BMW se i3 op toets gehad. Albei is elektriese motors, maar heeltemal verskillende benaderings bied twee uiters verskillende motors.

Die Leaf is nie die mooiste motor nie, maar – baie van die ontwerp is daar om ʼn doel te dien. Die vreemde hottentotsgot-voorligte is so ontwerp om aërodinamiese vloei oor die kantspieëltjies te verbeter. Verder is die Leaf ʼn gewone vierdeur-luikrug met ʼn verstommende groot kattebak.

Die Nissan Leaf (Foto: Nissan)

Die Nissan Leaf (Foto: Nissan)

Daar is vyf sitplekke binne, oorgetrek met luukse swart leer en elke truuk en speelding is beskikbaar van outomatiese ruitveërs en ligte tot klimaatbeheer; Bluetooth en ʼn raakskerm-klankstelsel bied elke gemak aan die bestuurder. Die bestuurder se sitplek kan wel nie vir my laag genoeg stel nie, so die bestuurposisie was vir my bietjie vreemd en het ʼn ruk geneem om aan gewoond en gemaklik mee te raak.

Die vering is ferm genoeg om oormatige bakrol te voorkom, maar lekker soepel sodat die slegste paaie steeds gemaklik is. Die afwesigheid van enige binnebrand is aanvanklik vreemd. Die motor beweeg sonder ʼn geluid. In trurat is daar ʼn pieng-geluid om voetgangers te waarsku – verder niks. Sodra jy vorentoe versnel, is daar ʼn interessante geluid wat my laat dink aan ʼn ruimtetuig en dit sou ʼn baie beter klankbaan gewees het vir Mannemarak se skip. Aan die beweeg is dit net windgeraas wat mens hoor soos dit oor die bakwerk suis.

Die Nissan Leaf (Foto: Nissan)

Die Nissan Leaf (Foto: Nissan)

Nou kom ons by die belangrike deel. Elektriese motors is vir seker in ons toekoms. As Nissan se eerste probeerslag so goed is, raak ek opgewonde oor toekomstige modelle. Die infrastruktuur is nog in sy kinderskoentjies en mettertyd sal dit al meer, beter, vinniger en makliker raak om te herlaai. Sewe Nissan-handelaars in Gauteng het laaiers wat gratis gebruik kan word en winkelsentrums begin ook nou laaiers installeer vir openbare gebruik.

Die Leaf dra sy beste skoene in die stad en op kort afstande, maar – met bietjie beplanning is dit heeltemal moontlik om Gauteng plat te ry – maak net seker waar jou naaste laaier is en op DC laai die battery tot 80% binne 20 minute. Die battery is ʼn 24 kWh-eenheid en bied ʼn reikafstand van ongeveer 120 km. Oorsee is daar nou ʼn 30 kWh-battery beskikbaar wat ʼn reikafstand in die omgewing van 200 km bied. Nissan SA kan nie in hierdie stadium bevestig wanneer die nuwe battery beskikbaar sal wees nie.

Daar is ʼn reuse-wanindruk van elektriese voertuie. Die kraglewering is asemrowend. Al die elektriese motor se wringkrag is beskikbaar van 0 rpm. 254 Nm is oombliklik beskikbaar. Daar is min voertuie duskant ʼn warm luikrug wat gaan saamdraf van 0–100 km/h. Nee, jy sal nie Kaap toe kan ry met hom nie – maar, daar is baie van ons wat nooit baie ver ry nie … en dit kos omtrent R24 om hom by my huis van leeg vol te laai oornag. Dit is indrukwekkend.

Die Nissan Leaf (Foto: Nissan)

Die Nissan Leaf (Foto: Nissan)

Nico, Maroela Media se nuusredakteur, meen die Leaf ry lekker stil en sag. Die sitplekke is vir hom gemaklik en die binneruim mooi. Hy wonder wel of die infrastruktuur al voldoende is.

Kobus, Maroela Media se webwerfskepper, was so opgewonde soos ʼn tweejarige in ʼn lekkergoedwinkel toe ek vir hom sê van die Leaf. Hy sê: Die Nissan Leaf was die eerste elektriese motor wat ek self bestuur het. Ek was baie bekommerd oor die kilometers wat aftel soos jy ry, maar ek was verras toe ek besef dat die reikafstand heeltemal voldoende is vir rondry in die stad. Dit was egter ʼn vereiste vir my om elke dag die motor te herlaai ter wille van rustigheid in my gemoed. Dis darem maklik om by die huis en by die meeste Nissan-handelaars te herlaai waar die publiek jou nuuskierig oor die voertuig uitvra. Belangstellendes het ʼn buitewêreldse motor verwag met allerhande vreemde katoeters. Hulle was verbaas toe hulle agterkom hierdie motor sit en lyk soos ʼn doodgewone motor.

Die Nissan Leaf (Foto: Nissan)

Die Nissan Leaf (Foto: Nissan)

Die Nissan Leaf voel baie vas op die pad, sy draaisirkel is piepklein vir die motor se grootte en die versnelling wanneer jy die krane oopdraai, laat jou van oor tot oor glimlag. Mede-motoriste wat haastig wegtrek by ʼn verkeerslig kyk oorbluf na jou wanneer jy met hulle byhou selfs in die Leaf se mees ekonomiese verstelling. Die Leaf het my oortuig dat elektriese voertuie hier is om te bly. Met die tegnologie wat so vinnig ontwikkel, gaan dit al meer ʼn praktiese alternatief word – die feit dat dit die natuur geen skade berokken nie, is ʼn bysaak.

Om op te som: Mense is bang vir die vreemdheid van elektriese motors. Hulle hoef nie te wees nie. Batterytegnologie verbeter daagliks en die laai-infrastruktuur ook. Die Leaf ry net so lekker soos enige ander luikrug, indien nie lekkerder nie. Dit is duur, maar jy gaan vreeslik spaar op brandstof. Ek sou nie kon sê hoe die herverkoopwaarde gaan vaar oor ʼn paar jaar nie. Ek hou van ʼn Leaf – gaan toetsbestuur een, ek dink jy sal aangenaam verras wees.

Daar is slegs een model in die reeks.

Nissan Leaf80 kW/254 Nm15 kWh/100 km*R474 900

Die Leaf word gedek deur ʼn 3 jaar/90 000 km-diensplan en 3 jaar/100 000 km-waarborg en padbystand. Diensintervalle is elke 15 000 km. *Maroela Media se gemiddelde kragverbruik soos aangedui deur die aanboordrekenaar is 15 kWh per 100 km.

Daar is slegs een mededinger:

BMW i3125 kW/250 Nm13 kWh/100 km*2 jaar/onbeperkte km-waarborg op motor

8 jaar/100 000 km- waarborg op battery

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R597 800

*Dit is die kragverbruik wat Maroela Media gehandhaaf het in Eco Pro + bestuurmodus.

Hier is ʼn kort video wat wys hoe maklik dit is om by ʼn handelaar te laat laai:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Brabus ·

Alles goed en wel. Kan herlaai oornag by jou huis…vir R24!
My vraag is of daar gaan krag wees om die kar the herlaai?? Ek twyfel in n land soos ons s’n tans met al sy krag probleme of dit werklik n goeie idee is. Ek twyfel dat dit my net R24 sal kos om hom met my opwekker te herlaai hahahaha

Paul ·

Brabus noem een van die probleme – as die krag af is, sit jy met moeilikheid.
Verder is dit ook problematies in SA om sonder krag te gaan staan langs ‘n gevaarlike pad.
Vraag is ook – met al die lekker versnelling (oorsese “real world testing” sê 0 tot 100 in 7 sekondes), watter invloed het dit op die alreeds kort reikafstand?
Watter invloed het lugversorging op die reikafstand?

Verder word hier nie juis oor die relatief hoë prys uitgewei nie. As sommer net een voorbeeld – ‘n Toyota Corolla 1.4 diesel met ‘n vyfjaardiensplan kos R295 000 (goedkoper op spesiale aanbod) en verbruik optimisties geskat 4.5 liter per 100km en pessimisties geskat 5.6 liter per 100km. Prysverskil is R180 000. Vir R180 000 kan jy rofweg (pessimisties oor pryse) 11 500 liter diesel koop. Daarmee ry jy dus 205 000 tot 255 000 kilometer. Teen 20 000 kilos per jaar kan jy dus meer as ‘n dekade met die Corolla ry voor jy meer betaal as vir die Leaf in totaal. En so ‘n Corolla is nie eers naastenby die mees ekonomiese of goedkoopste ekonomiese motor wat beskikbaar is nie.

In Suid-Afrika maak die Leaf nie juis sin vir enigiemand se enigste motor nie. Vir ‘n stadsgesin se tweede motor, waarmee een gesinslid net werk toe en terug ry, maak dit wel meer sin, maar dit maak steeds in 2017 nog glad nie finansieel sin nie. Dis meer vir groenes as spaarders.

Johann ·

So ruk terug bietjie gekyk, battery vir die Leaf was so 50% van die aankoop prys. Die battery hou so 5 tot 7 jaar. Sal nooit jou geld terug kry nie.

Paul ·

Met die elektriese karre kan mens wel soms, met die Toyota Prius, in elk geval, slegs sommige selle van die battery vervang eerder as die hele battery. So dis nie noodwendig so vreeslike groot koste nie.
Ek weet nie of dit met die Leaf ook moontlik is, soos met die Prius, nie.

Hoe dit ook al sy, die opskrif van die artikel hou meer praktiese raad as die artikel self. Dis miskien ‘n motor van die toekoms, maar dis definitief nie ‘n motor vir die hede nie.

Stormrider ·

Enkele vrae
Wat is die kragsel se leeftydperk
Wat kos ‘n nuwe battery
Is die koolstofvoetspoor van die motor minder as ‘n fossielbrandstof eweknie, gegee die herwinning van die battery aan die einde van sy leeftyd?
Grootste groet

Paul ·

Wat ek vergeet het om in te sluit: As dit tans in Pretoria R24 kos per 15 kilowatt-uur, waarmee mens (hopelik) 100 kilometer met die Leaf kan ry, dan gaan 20 000 kilometer per jaar jou R4800 kos.
Om dieselfde afstand af te lê met ‘n relatief ekonomiese binnebrand-enjin kar wat byvoorbeeld 5 liter per 100 kilometer kry, gaan jou tans ongeveer R13 500 kos. Dis net R8 700 per jaar meer.

In die pessimisties-geskatte voorbeeld met die Corolla wat ek genoem het, sou iemand met ‘n Leaf, gestel elektrisiteitspryse styg slegs met 6% per jaar, oor ‘n tydperk van ‘n dekade R63 300 kos. So die som hel dan nog meer oor na die binnebrandenjin se kant toe.

Selfs al vergeet mens van al die praktiese probleme, maak elektriese motors nog glad nie finansieel sin nie.

Japie ·

Dis hoe ek JanTaks sal terugkry! Ek sal n koneksie maak by my straatlig om my kar te laai.

Jorri ·

Die 15000km diens is natuurlik Nissan se geldmaakplan. Daar is dan niks om te diens nie! Geen filters, fonkproppe, olie, niks. Geen vervaardiger kyk eers na n kar se battery as hy dit diens nie.

Om die waarheid te sê, in die toekoms kan ouens soos LG en Samsung maklik elektriese karre begin bou – daar is hoeka baie meer elektronika in hierdie tegnologie as meganika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.