Ek het in die vroeë 90’s aan die Wesrand van Johannesburg groot geword. Daar was twee tipe ouens: VW-manne, of Opel-outjies. Ek het self die VW roete gevolg. Na my mening was Opel-eienaars skobbejakke. So het hierdie persepsie deur my tienerjare by my vasgesteek. Ek het nog nooit daaraan gedink om ʼn Opel te koop nie… tot nou.
Die nuwe Opel Astra 1.6T is een van daai dinge wat met ʼn mens gebeur wat jou persepsies verander. Die nuwe Astra is ʼn baie mooi motor. ʼn Versagtende ontwerpstyl gee mens geen idee van die tipe vuurvretende pret wat onder die Astra se enjinkap skuil nie. Die 18” sierwiele lyk nie te groot onder die Astra se mooi proporsies nie en verder is daar nie ʼn reuse drukvin of turbo-induksiepyp in sig nie.
Die kajuit van die Astra is ergonomies uitgelê en na ʼn paar sekondes met die elektries-beheerde sitplek is jy gemaklik. Ek hou baie van Opel se bestuursposisie. Ek kan my boude lekker laag kry en die stuurwiel nader aan my bring. Die sitplekke het fantastiese ondersteuning en mens voel heerlik beskerm en veilig. Opel het ook die uitleg van al die kontroles mooi uitgedink. Daar is nie ʼn magdom knoppies op een plek wat mens verwar nie. Eerder kleiner groepies knoppies op verskillende plekke, wat soortgelyke funksies beheer. Mens kan dit lekker vinnig baas raak.
Elke luuksheid waarna jou hart smag is hier. Klimaatbeheer, spoedbeheer, banddrukmonitors, baanbeheer, Bluetooth, outomatiese ligte en ruitveërs, truratkamera, elektriese handrem en vele meer. Een van my gunstelinge is natuurlik die Apple CarPlay. Ek dink dit is ʼn funksie wat opsioneel moet wees op alle voertuie wat met raakskerms toegerus is, vir diegene wat ʼn iPhone het. Opel se eie Intellilink-klankstelsel is uiters fantasties. Teen klipharde volume bly die gehalte suiwer en saam met Apple CarPlay is die stelsel regtig maklik om te bemeester. Ongelukkig is Android se Android Auto nie in Suid-Afrika beskikbaar nie.
Die brosjure dui aan die Astra het 147kW en 280Nm wringkrag. Mmmmm. Klink opwindend. Die enjin is tjoepstil en die kajuit goed geïsoleer, dus is daar steeds geen aanduiding dat hierdie ʼn gereg vol rissies is nie. Ek klim toe op die snelweg, rigting huiswaarts – begrawe my regtervoet in die matjie – en soos ʼn Gautengse donderstorm bekruip 197 perde my! Vir diegene wat are vol brandstof het, is daar min dinge wat so lekker voel soos ʼn kar warvan die versnelling mens laat glimlag nie. Die Astra doen presies dit. Dan stry jy met jouself en wonder hoe dit moontlik is dat die selfde skaap van 2km gelede skielik in ʼn wolf verander het.
Nietemin, die Astra ry soos ʼn droom. Hy’t hope krag en waar die Astra se 1.6 Ecotec-enjin my oorwin, is dat dit nie soos meeste moderne turbo-aangejaagde enjins te doeltreffend voel met ʼn perfekte lineêre wringkragkurwe nie. Hy begin met ʼn lekker oplewing, bietjie verder in die toerestrek bou hy nog en begin angstig raak – dan, op so 4 500r/min bars die bom en woeste versnelling slinger jou na die horison. Dit is hier, met ʼn vinnige ratwisseling van tweede na derde, waar jy jouself vang glimlag soos ʼn nar en wonder hoe die Opeltjie dit regkry om jou hartsnare so te roer. Gewoonlik vat dit meer as 200 perde om die hare in my nek te laat opstaan, maar nie hier nie…
Die ritgehalte is fantasties. Soepel, sonder enige bakrol en ʼn voorkant wat amper soos ʼn vlieg van rigting kan verander. Dit is vir Suid-Afrikaanse paaie ʼn asemrowende sinergie van sportiewe intensies en rygemak. My vorige ervarings met vinnige Opels is hul brandende dors. Vorige Opels was vinnig ja, maar verskriklik swaar op brandstof. Ek weet nie wat het die slim ingenieurs by Opel aangevang met die nuutste Ecotec-enjin nie – maar of dit nou tegnologie of toordery is, weet ek nie. Al wat ek wel weet is die enjin is fantasties lig op brandstof. Om 7.2l/100km te handhaaf met 147kW en ʼn kar van hierdie grootte is indrukwekkend, veral as mens in ag neem hoe ek die kar gery het. Opel gee ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 6.1l/100km en ek sou sê as mens mooi ry is dit geensins verregaande nie.
Dit is vir my maklik om hierdie Astra op te som. Indien jy ʼn vinnige luikrug wil hê wat fantasties toegerus is, veilig is, lekker ruim is binne en belangrikste van alles – jou laat glimlag, kan mens hier nie ʼn fout maak nie.
Die reeks lyk so:
1.0T Essentia | 77kW/ 170Nm | 4.4l/100km | R264 300 |
1.0T Enjoy | 77kW/ 170Nm | 4.4l/100km | R295 800 |
1.4T Enjoy | 110kW/ 230Nm | 5.1l/100km | R341 300 |
1.4T Enjoy outo | 110kW/ 245Nm | 5.5l/100km | R351 700 |
1.4T Sport | 110kW/ 230Nm | 5.1l/100km | R368 400 |
1.4T Sport outo | 110kW/ 245Nm | 5.5l/100km | R389 200 |
1.6T Sport | 147kW/ 280Nm | 6.1l/100km | R402 700 |
1.6T Sport Plus | 147kW/ 280Nm | 6.1l/100km | R423 600 |
Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 90 000km diensplan en ʼn 5 jaar/ 120 000km waarborg. Diensintervalle is 15 000km.
Die kompetisie lyk so:
Audi A3 Sportback 2.0TFSI | 140kW/ 320Nm | 5.6l/100km | 5 jaar/ 100 000km omvattende instandhoudingsplan 1 jaar/ onbeperkte km waarborg | R437 000 |
Volvo V40 T4 Inscription | 140kW/ 300Nm | 6l/100km | 5 jaar/ 100 000km omvattende instandhoudingsplan 5 jaar/ 100 000km waarborg | R439 898 |
Renault Megane 151kW GT | 151kW/ 280Nm | 5.5l/100km | 5 jaar/ 90 000km diensplan 5 jaar/ 150 000km waarborg | R452 900 |
Volkswagen Golf Gti | 162kW/ 350Nm | 6l/100km | 5 jaar/ 90 000km diensplan 3 jaar/ 120 000km waarborg | R479 900 |
Al vergelyk mens die Astra met duurder mededingers, glo ek steeds hy kan sy man staan.
Dis ongelooflik om te dink dat 10 jaar terug 147kw uit ‘n 2 liter enjin getap is (Golf GTI, Opel Astra Ford Focus ST(bietjie meer 165kw)) vandag kry ‘n mens soveel meer krag uit kleiner enjins!
Bietjie tong in die kies, Furd Kugas is ook 1.6 en word ook eco genoee(ecoboost). Hoop nie die selfde gebeur met Opels nie!
Ek kan net nie saam stem met die skrywer oor die brandstof verbruik van ouer Opels nie. My 1.6 2003 Astra doen 11km per liter in die stad en tussen 16-17 km per liter op die langpad. Dis baie indrukwekkend!
Verder is ek baie beindruk met die nuwe Astra.
Wat vir my onverstaandbaar is , is dat Audi 1 jaar waarborg het en Volkswagen 3 jaar waarborg, terwyl al die ander vervaardigers 5 jaar waarborge het. Hyundai het selfs deesdae 7 jaar waarborg. Het Audi en Volkswagen nie vertroue in hul eie produkte nie ?
Lees bietjie op op Audi se webwerf oor hulle standaard 5j /100000 km motorplan, dan sal jy beter verstaan.
Stem heeltemal saam met jou. Mercedes het maar 2j waarborg.
Opel word in Duitsland vervaardig en nie met bloudraad aanmekaar gesit nie, so hulle sal nie brand nie. Ek ry die Opel Astra 1.4T sport A/T en dit is is FANTASIESE KAR . Ook die nuwe een.
Brendon, hierdie was nou voorwaar n heerlike stuk om te lees. Ek het dit 3 keer oorgelees.! Hou so aan
Dagsê Erik,
Baie dankie vir die kompliment, dit word opreg waardeer.
Groetnis
Brendon Staniforth
Wat kan mens ry in die klas as jy elke dah 25km lelike gronpad ry, dan werk die elektronika glad nie, dit stamp uitmekaar
Dagsê Daan,
Ek is bevrees, in die klas is daar nie ‘n voertuig wat ‘n 25km lelike grondpad gaan kan baasraak nie. Ek dink die naaste wat jy sal kom is ‘n BMW X1/ Audi Q3/ Mercedes-Benz GLA?
Groetnis,
Brendon Staniforth
NMS Maroela Media
Daan Hilux my maat. Dit hou vir ewig. Tot 800 000 km. Reg vir enige grondpad. Baie taaierer as enige ander bakkie.
Verkoop jy hulle? Sekerlik.
Ek het n 2000 model Astra 320kkm (Mm?) gery en nooit enige probleme nie, die volgende model (opc??) was net heeltemal te duur en het ek vir iets anders (Suzuki, wat n goeie motor) gegaan. Hoop Opel kan weer bietjie waarde vir geld uitbring. Maar om eerlik te wees dink ek my volgende kar gaan n “EV” wees, hoop Suzuki bring n lekker e-swift SA toe???
Brendon, ek weet nie waar jy aan die stelling kom dat vorige Opels swaar op brandstof is nie. Die 1 600cc Opels enjin is sedert 1990 die ligste 1600 op brandstof. Hul ondergang is swak gehalte. Bakwerk val vroeg uitmekaar, rammel baie en die verfwerk is pateties. Beter ontwerp as VW maar swakker gehalte. Dis Opel en so ook die ekwivalente Vauxhall wat in Brittanje verkoop word.
Dagsê Pietsepan,
Baie dankie vir jou kommentaar. Ek verwys spesifiek na vinnige, turbo-aangedrewe Opels. Ek het so 8 jaar terug ‘n Opel Corsa OPC op toets gehad. Dit was ‘n 1.6 turbo met 141kW en 230Nm. Daai Corsa het gesukkel om 200km op 45l tenk te bied. Ek is seker die atmosferiese enjins was baie beter.
Groetnis,
Brendon
NMS Maroela Media