Maroela Motors-padtoets: Styl, kwaliteit en ritgehalte in die Renault Kadjar

Renault Kadjar (Foto: Renault)

Renault Kadjar (Foto: Renault)

Maroela Motors toetsbestuur die Renault Kadjar 81kW 1.5 dCi EDC

Dit is weer tyd vir die SAGMJ Motor van die jaar-kompetisie. Die Renault Kadjar is een van die finaliste, en na ʼn week met die Kadjar kan ek maklik sien hoekom.

Die diesel outo Kadjar het by ons kantoor opgedaag in die mooiste rooi. Hoe sê hulle? Hoe rooier hoe mooier? Ek sê ook altyd, rooi motors is vinniger – al staan hulle stil. Die Kadjar is glad nie ʼn lelike eendjie nie. Mooi lyne, ʼn mooi kleur en lekker groot tekkies laat die Renault doelgerig lyk.

Renault Kadjar (Foto: Renault)

Renault Kadjar (Foto: Renault)

Die binneruim is ook waar hierdie Renault regtig ʼn mens se asem begin wegslaan. ʼn Enorme panoramiese dak is bitter mooi in die vroeë oggend of aand – maar nie so slim as die Pretoria-son die kwik by 37 stoot nie. Dan word die weelderige swart leerbanke so effe warm! Die banke raak ook warm as jou eggenoot gedurig die sitplekverwarmers aansit! Die bestuurdersitplek stel elektries nes jy hom wil hê. Die paneelbord is netjies uitgelê en die inligting-instrumenthuisies gee vir mens al die inligting wat jy benodig. Selfs ʼn groeiende boompie as mens mooi ekonomies ry. Daar is navigasie, spoedbeheer, Bluetooth, kontroles op die stuurwiel vir elke stelsel wat jy sou wil beheer en dan kan die Kadjar homself nog parkeer ook! Ek het die funksie probeer – maar kon dit nie mooi baas raak nie. Ek is seker die slim manne by die handelaar sal mens touwys kan maak.

Renault Kadjar (Foto: Renault)

Renault Kadjar (Foto: Renault)

Die 81kW viersilinder dieselmasjien in die Kadjar is Renault se topverkoper dieselenjin. Glad nie vir verkeerslig-tot-verkeerslig-resies nie, maar hy sluk liggies aan die brandstof. Die enjin is lekker glad en lewer sy krag eweredig deur die toerestrek. Gekoppel aan die 1.5 diesel-oondjie is Renault se nuwe 6-gang EDC (Efficient Dual Clutch) dubbelkoppelaar-ratkas. Die ratkas wissel glad deur die ratte en hou die toere laag vir daai ontwykende brandstofverbruik. Soos alle dubbelkoppelaars, is dit moontlik om die ratkas wel uit te vang as jy hard probeer – dan kan hy in verkeer bietjie deurmekaar raak – maar hy is by verre een van die beter voorbeelde waarmee ons nou onlangs te doen gehad het.

Die Kadjar met sy indrukwekkende 200 mm grondvryhoogte en ruim proporsies verseker ʼn volkome swerwer. Die 1.5 outo is nie met allewielaandrywing toegerus nie, so erge pogings in die bos gaan nie gebeur nie – en die 19”-sierwiele gaan nie van slegte paaie hou nie, maar op die oop pad is die Kadjar uiters gemaklik. Daar is oorgenoeg krag om só vinnig te ry dat mens in die tronk sou beland, en indien jy wil, kan hy indrukwekkend ekonomies wees.

Om op te som:
R414 900 is ʼn stewige bedrag geld. Maar, hierdie styl, kwaliteit en ritgehalte is nie maklik bekombaar teen daai prys nie. Dan praat ons nie eers van al die tegno-toerusting nie. Navigasie is standaard, asook die leer en die panoramiese dak. My enigste klagte is dat die 19”-wiele met laeprofielbande die ritgehalte belemmer op slegte paaie. Ek sou ʼn kleiner wiel met ʼn groter profiel band verkies – maar dit sou nie so mooi lyk nie. Ek hou van Franse motors, ek het al vyf besit. Ek is tans nog op nommer vier en vyf. Verleng die diensplan en waarborg en wees versigtig vir inruilwaardes. Ek dink hy staan ʼn goeie kans in die SAGMJ Motor van die jaar-kompetisie.

Die reeks lyk so:

96kW TCe Expression96kW/205Nm5.7ℓ/100 kmR364 900
96kW TCe Dynamique96kW/205Nm5.7ℓ/100 kmR389 900
81kW dCi Dynamique81kW/260Nm4.6ℓ/100 kmR394 900
96kW TCe Dynamique EDC96kW/205Nm5.5ℓ/100 kmR399 900
81kW dCi Dynamique EDC81kW/260Nm4.7ℓ/100 kmR414 900
96kW dCi Dynamique 4WD96kW/320Nm5.4ℓ/100 kmR454 900

Die Kadjar-reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan. Diensintervalle is 15 000 km.

In die prysklas is daar ʼn magdom keuses. Min sal by die Renault kom wat standaardtoerusting betref. Nie een van die mededingers sal egter by die Rav4 kan hou wat herverkoopwaarde betref nie.

Die kompetisie lyk so:

Nissan Qashqai 1.6dCi Acenta Outo96kW/ 320Nm4.9ℓ/100km6 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/90 000 km-diensplan

R448 900
MINI Cooper Countryman Outo140kW/ 240Nm7.5ℓ/100km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar-instandhoudingsplan

R413 043
Kia Sould 1.6D Smart Outo100kW/ 300Nm5.4ℓ/100km5 jaar/onbeperkte km-waarborg

4 jaar/90 000 km-diensplan

R418 995
Toyota Rav4 2.2 D-4D AWD GX110kW/ 340Nm5.6ℓ/100km5 jaar/onbeperkte km-waarborg

4 jaar/90 000 km-diensplan

R459 900

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

Hou net in gedagte dat daar nie so ding soos ñ onderhoudsplan vir Renault is nie, dis ñ die diensplan en waarborg. Bietjie hier en bietjie daar altyd uit jou sak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.