Maroela Motors-padtoets: Suzuki Jimny Outo – dinamiet kom in klein pakkies

Die Suzuki Jimny Outo 1.3 (Foto: Suzuki)

Die Suzuki Jimny Outo 1.3 (Foto: Suzuki)

Een van my gunstelingkarretjies is die Suzuki Jimny. Die Jimny maak geen verskonings vir sy grootte nie – maar in die veld is daar min wat hom baasraak. ʼn Klein, eerlike buksie wat menige mense se harte al geroer het.

Van buite is die Jimny ʼn klein vuurhoutjieboks-ontwerp. Vierkantige lyne sonder enige fieterjasies. Die spaarwiel op die kattebakdeur gee vir jou die eerste indruk dat die Jimny veronderstel is om die een of ander veldryvoertuig te wees. Daar is ʼn luginlaat op die enjinkap om verkoeling te verbeter, maar verder is dit ʼn geval van – wat jy sien, is wat jy kry.

Die binneruim is net so doelgerig. Daar is geen truuks wat nie daar hoort nie. Verbasend gemaklik – al is die kajuit bietjie nou. Die bestuursposisie is vir my lekker en die karretjie is klein genoeg dat alles ergonomies uitgelê is en dit val maklik binne reikafstand. Die Jimny se asafstand is so kort dat daar slegs plek is vir twee deure – so, indien jy groot of lank is, gaan toegang tot die agtersitplekke ʼn uitdaging wees.

Dit bring my eintlik by die punt van die artikel. Die Suzuki Jimny is eintlik ʼn rateltaai 4×4-voertuig, laestrek en al. Die afwesigheid van ewenaarslotte kan mens hier en daar pootjie – maar mens leer hoe om om dit te ry met die Jimny. In die model se geval help die outomatiese ratkas regtig baie teenoor die handrat. My gewone watergat vir veldrytoetse is die Groenkloof Natuurreservaat se 4×4-hindernisbaan. Daai is alles goed en wel. Toe besluit ek om ʼn Woensdagoggend voor werk gou te gaan draai.

Die Suzuki Jimny Outo 1.3 (Foto: Suzuki)

Die Suzuki Jimny Outo 1.3 (Foto: Suzuki)

In ʼn langbroek en knopieshemp. Hmm. Dit het die vorige aand bietjie gereën … en die afgelope paar maande het Gauteng ingehaal waarop hy verloor het tydens die afgelope paar jaar se droogte. Dit beteken dat die baan nou al mooi uitgetrap is deur 4×4’s met baie hoër grondvryhoogte en verskriklike bande.

Met die intreeslag is die watergat so 30 cm dieper as wat dit lyk. Sluk. Ek is met ʼn benoude oomblik deur die eerste hindernis en ek en die Jimny het dit oorleef. Net-net. Aan die ander kant van die dieper-as-diep watergat is die spore nou al flenters getrap. Die middelman is toe 30 cm hoër as wat hy moes wees en die modder laat nie die Jimny toe om bo-op hom te klim nie … Sluk. Ná ʼn broekskeur-oomblik is die Jimny omgedraai en ʼn ander paadjie gevolg.

Die baan het nie beter geword nie. Eintlik slegter. ʼn Reuse-oomblik met twee van die Jimny se wiele hoog in die lug het my toe oortuig. Dit was ʼn simpel idee. Myself gered, in my werksklere en toe maak ek met haas spore kantoor toe. Die Jimny is bedek met ʼn laag modder wat ʼn Sandton-tannie se hare sal laat rys, maar ek en die Jimny het dit oorleef. Net-net. ʼn Wenk – die Jimny mag, maar gaan in ʼn kortbroek en vat maats saam om te help as die modder spat.

Die Suzuki Jimny Outo 1.3 (Foto: Suzuki)

Die Suzuki Jimny Outo 1.3 (Foto: Suzuki)

Vir die geld is daar niks wat kan 4×4 soos ʼn Jimny nie. Dit is jammer dat daar nie ewenaarslotte is nie, dit sal die Jimny se veldryvernuf verskriklik bevorder. Ek neem aan ʼn stel ARB “lockers” is nie buite die kwessie nie. As jy ʼn groot gesinsmotor soek, is die Jimny nie vir jou nie.

As jy ʼn avontuurlustige leefstyl handhaaf – koop ʼn Jimny. Jy sal wragtig nie spyt wees nie. Die outo is dalk bietjie stadig vir party – maar ek was heel tevrede, en ek is ʼn spoedvraat. Die ratverhouding is lekker lank op die outo – so 120 km/h op die snelweg is meer draaglik as met die handrat-weergawe.

Die Jimny het ʼn 1.3 VVTi-viersilinder-petrolenjin. Die enjin bied 63 kW en 110 Nm. Die Jimny is ook nie ʼn groot brandstofvraat nie. Die enjin trek heeltemal aanvaarbaar vir gewone vordering. Indien jy aan pylvakrenne wil deelneem, is die Jimny ook nie vir jou nie. Die Jimny is een van daai veelsydige motortjies. Hy kan ʼn hond uit die bos uit gaan haal, lekker rustig in die dorp rondploeter terwyl hy oulik en stylvol lyk. Ja, die tegnologie begin nou lank-in-die-tand raak – maar nog heeltemal bekwaam, al is hy 19 jaar oud!

Die reeks lyk so:

Jimny 1.3 4×463 kW/110 Nm7.2 l/100 kmR256 900
Jimny 1.3 4×4 outo62 kW/130 Nm7.6 l/100 kmR274 900

Die reeks word gedek deur Suzuki se 3 jaar/100 000 km-waarborg en 4 jaar/60 000 km-diensplan. Diensintervalle is elke 15 000 km.

Die kompetisie lyk so:

Jeep Wrangler 3.6 Rubicon209 kW/347 Nm11.6 l/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R618 900
Mitsubishi Pajero GLS SWB140 kW/441 Nm10.1 l/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R689 900

Dis die enigste twee ander ware kortasafstand-4×4-voertuie met laestrek beskikbaar in Suid-Afrika. Hoewel ek die twee lys, het die Jimny nie eintlik ʼn direkte mededinger nie en die twee wat gelys is, val in ʼn ander klas as die Jimny in terme van krag, grootte en veldryvernuf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oompie ·

Ek het ‘n groot 4 x 4 dubbelkajuit. Ek gaan nie die fabrikaat noem nie. In die veld in die sand skop die klein dingetjie die meeste “groot” bakkies se agterente. En veral in modder.

SkarrelKind ·

Oompie, ek het met een groot geword in die 80’s, toe hulle net uitgekom het, en daar is tot vandag toe min wat kersvashou by die trokkies – al wil baie mense dit nie hoor nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.