Maroela Motors-padtoets: Suzuki Vitara 1.6 GL+ ʼn ware gesinsrakker

Die Suzuki Vitara 1.6 GL+ (Foto: Suzuki)

Die Suzuki Vitara 1.6 GL+ (Foto: Suzuki)

Ek het nie geweet dat die maatskappy Suzuki al in 1909 gestig is nie. In Suid-Afrika word Suzuki-motors as ʼn “kleiner” handelsmerk beskou – maar as jy dink aan die vuurvretende motorfietse wat hulle al jare lank maak, dan laat dit jou dink. Suzuki is ook onlangs gekies as Suid-Afrika se motorhandelsmerk van die jaar deur Cars se lesers. Toe nie so klein nie, nè?

Ook nie so klein nie is die Suzuki Vitara. ʼn Nuwe rigting teenoor die vorige 4×4 Vitaras van die 90’s, maar nou eerder ʼn luikrug/sportnutskruismodel met sitplek vir vyf mense en ʼn behoorlike kattebak. Ek is nie die nuwe Vitara se grootste liefhebber vanuit ʼn ontwerpoogpunt nie, daar is vir my bietjie te veel aan die gang daar – maar hoe sê die Engelse? Beauty is in the eye of the beholder … of hoe?

Die Suzuki Vitara 1.6 GL+ (Foto: Suzuki)

Die Suzuki Vitara 1.6 GL+ (Foto: Suzuki)

Die binneruim voel dadelik lekker ruim en sonder te veel fieterjasies. Duursame plastiek is aan die orde van die dag, maar in die prysklas kan ʼn mens nie meer verwag nie. Die sitplekke is lekker groot en gemaklik. Ek hou ook van die duursame swart bekleedsel. ʼn Mens raak taamlik vinnig gemaklik en gewoond aan die Vitara se proporsies. Al die gewone luukshede is ook daar om jou daaglikse reise met die gesin ʼn plesier te maak. Van ʼn lekker klankstelsel tot klimaat en spoedbeheer sowel as Bluetooth en die hele spektrum veiligheidstelsels.

Die lekkerste deel van die Vitara vir my is die atmosferiese 1.6 liter-viersilinderenjin onder die kap. Wat my betref, doen Suzuki ʼn paar dinge baie goed. Klein karretjies en enjins. Ek het al voorheen geskryf oor moderne turboaangejaagde enjins wat te doeltreffend is. Deesdae raak enjins maklik eentonig. Dit is nie die geval met dié 1.6 nie. Hy trek goed genoeg op lae toere – en is dan indrukwekkend lig op brandstof soos ʼn mens deur die dorp en spitsverkeer kruip.

Die Suzuki Vitara 1.6 GL+ (Foto: Suzuki)

Die Suzuki Vitara 1.6 GL+ (Foto: Suzuki)

As jy haastig raak, skakel ʼn paar ratte terug en moenie bang wees om die toerenaald hard te druk nie … nader aan die rooilyn is waar Suzuki se atmosferiese enjins hulle kouse optel en hol. Ek is oortuig dat die Vitara se 1.6-viersilinder ligter sal wees op brandstof op lae spoed en hoë spoed teenoor ʼn gelykstaande 1.2-turbo soos in baie ander handelsmerkprodukte te vinde is.

Die Vitara het lekker grondvryhoogte, is regtig lekker ruim vir vyf en sal ʼn redelike hoeveelheid bagasie kan insluk. Boonop is die Vitara ekonomies en glad nie duur nie. Cars, joernaliste en die publiek het hom ook onlangs gekies as hul kompakte gesinsvoertuig van die jaar. Én Suzuki is motorhandelsmerk van die jaar. Kan ʼn mens verkeerd kies?

Die reeks lyk so:

Vitara 1.6 GL86 kW/151 Nm5.8 l/100 kmR267 900
Vitara 1.6 GL+86 kW/151 Nm5.8 l/100 kmR303 900
Vitara 1.6 GL+ outo86 kW/151 Nm6 l/100 kmR321 900
Vitara 1.6 GL= AllGrip86 kW/151 Nm5.8 l/100 kmR327 900
Vitara 1.6 GLX outo86 kW/151 Nm6 l/100 kmR337 900
Vitara 1.6 GLX AllGrip86 kW/151 Nm6.2 l/100 kmR356 900

Die reeks word gedek deur Suzuki se 3 jaar/100 000 km-waarborg en  4 jaar/60 000 km-diensplan. Diensintervalle is elke 15 000 km.

Die kompetisie lyk so:

Hyundai Creta 1.6 Executive90 kW/150 Nm7.9 l/100 km5 jaar/150 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

7 jaar/200 000 km- dryfstelselwaarborg

R319 900
Nissan Qashqai 1.2T Acenta85 kW/190 Nm6.2 l/100 km6 jaar/150 000 km- waarborg

3 jaar/90 000 km- diensplan

R349 900
Mitsubishi ASX 2.0 GL110 kW/197 Nm7.5 l/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R364 900

Die splinternuwe Hyundai Creta is die naaste mededinger in terme van grootte, prys en enjin. Die Hyundai-waarborg is onweerlegbaar. Tussen die twee dink ek dit gaan pure smaak wees waar jou geld heen sal gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Piet Pompies ·

Die sukses van ‘n motor vervaardiger word bepaal deur sy naverkope diens, ongelukkig was my ervaring met ‘n Suzuki agentskap en Suzuki SA van so ‘n aard dat ek nie ooit weer met hulle sal besigheid doen.

Gideon ·

Piet ek ook ook dieselfde se van GM (Chevrolet), Renault en Hyundai uit persoonlike ervaring. Terwyl alles normaal en reg verloop met die voertuie is alles oulik en vriendelik, maar sodra dinge verkeerd loop en hulle hul verpligtinge moet nakom verander die houding blitsvinnig!

SkarrelKind ·

Ek dink ‘n mens kan dit dalk van baie ander make ook sê. Dit hang seker maar af van situasie tot situasie. My ma se nuwe Celero het gelol en hulle het dit by haar huis kom uitsorteer. Dan is daar mense wat dink hulle koop ‘n BMW vir gewaarborgde naverkope diens, wat ook al met slegte diens te doene gekry het. So wat maak mens?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.