So dan en wan kom daar iets besonders. In die geval van die splinternuwe Volkswagen Tiguan, is dít so ʼn “iets”. Neem al jou persepsies oor kompak-sportnutsvoertuie en vergeet daarvan. Dié Tiguan het so pas die reëlboek herskryf.
Ek was nie die grootste liefhebber van die vorige Tiguan nie. Die binneruim was effens klein, en hulle was beslis nie sonder fabrieksfoute nie. Volkswagen werk al ʼn geruime tyd aan die nuwe Tiguan en ‘n mens kan dit sien. Ons het die Tiguan 1.4 TSI Comfortline getoets en hy was toegerus met ʼn redelike lys opsionele ekstras.
Die nuwe Tiguan volg VW se nuwe ontwerpstyl. Die meeste mense is gaande daaroor, ek sukkel nog bietjie om daaraan gewoond te raak. Ek kan nie presies sê wat dit is wat my pla nie, maar iets aan die voorkant lyk vir my nie reg nie. Die proporsies van die res van die motor is wel perfek. Aan die binneruim is waar dit begin spesiaal raak.
Volkswagen het in die afgelope 10 jaar, volgens my – die perfekte bestuursposisie bemeester. Ek kan my boude ʼn bietjie laer maak as my knieë, die stuurwiel kan lekker ver uittrek en die rathefboom lê perfek waar my hand hom soek. Volkswagen het met dié Tiguan regtig hard gewerk aan watse materiale gebruik is. Die gehalte van die binneruim is net in ʼn ander liga teen sy mededingers. Hoewel die swart dakvoering die kajuit ietwat donker laat voel, is daar ʼn reusesondak wat oopgemaak kan word.
Die Tiguan het die opsionele DynAudio-klankpakket. Dit is vir my wel ʼn vereiste. Gepaard met die Apple CarPlay word jou motor ʼn nie-so-klankdigte kamer waar jy na jou musiek kan luister teen ʼn volume wat selfs die kwartels sal laat hoor. Volume is nie DynAudio se enigste truuk nie. Die klankgehalte is asemrowend. Ek hou van my musiek … en hierdie stelsel speel dit so duidelik dat ek gereeld die hoendervleis uit my nek moes vryf. Daar is veiligheidsmaatreëls in oorvloed en talle liggies wat flikker indien daar ʼn motor in jou blindekol wegkruip, of uit jou baan uit dwaal.
Die enjin in ons toetsmotor was die 92 kW 1.4 liter turbo-aangedrewe petrolweergawe. Hy bied ook 200 Nm wringkrag. Hierdie enjin laat die Tiguan glad nie soos ʼn vuurpyl voel nie, maar daar is oorgenoeg sous vir alledaagse rondrits, en bied dan goeie brandstofverbruik. Indien jy die stratosfeer wil bekruip, sal jy wel na die 2.0 TSI moet kyk – hy brul met 162 kW en 350 Nm – maar sal uit die aard van die saak baie dors wees. Die ses-gang-handrat verwissel glad en akkuraat ratte. Al wat pla tot jy hom gewoond raak, is die koppelaar. Dit is wel iets wat ek onthou van die vorige Tiguan. Die koppelaar vat nie vir my lekker eweredig nie, so ʼn mens trek weg met ʼn konstante ruk-en-pluk, maar dit raak beter ná so ʼn paar dae en ʼn paar vloekwoorde.
Hoewel die Tiguan op reuse 19″-tekkies loop, is sy ritgehalte indrukwekkend goed. Daar is so te sê geen bakrol nie, maar die vering is nie hard nie. Die kajuit is ook indrukwekkend klankdig en ergonomies uitgelê. Die sitplekke sit heerlik en ʼn mens se lyf raak nie sommer gou moeg nie.
Om op te som sou ek sê die nuwe Tiguan is amper, amper perfek. Dit is regtig mooi (behalwe van voor – maar dit is net ek), die kajuit se truuks en luukshede is asemrowend en die afwerking ongeëwenaar in sy klas en hy prys nie sleg teen sy mededingers nie. Ek sou die 1.4 TSI outo koop, ongeveer R40 000 duurder en sy enjin bied 110 kW en 250 Nm. Jy is ook dan ontslae van die koppelaar-kwale. Die Tiguan is ook ʼn WesBank SA Motor van die Jaar-finalis …
So lyk die reeks:
Tiguan 1.4 TSI Trendline | 92 kW/200 Nm | 6.1 l/100 km | R379 900 |
Tiguan 1.4 TSI Comfortline | 92 kW/200 Nm | 6.1 l/100 km | R419 000 |
Tiguan 1.4 TSI Comfortline outo | 110 kW/250 Nm | 6.1 l/100 km | R457 680 |
Tiguan 2.0 TDI Comfortline | 81 kW/250 Nm | 5.4 l/100 km | R469 500 |
Tiguan 2.0 TSI 4Motion Highline | 162 kW/350 Nm | 7.8 l/100 km | R542 180 |
Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/120 000 km-waarborg en ʼn 5 jaar/90 000 km-diensplan met diensintervalle van 15 000 km.
So lyk die kompetisie:
BMW X1 sDrive 18i | 100 kW/220 Nm | 5.3 l/100 km | 2 jaar/onbeperkte km-waarborg 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan | R476 742 |
Ford Kuga 1.5T Trend | 110 kW/240 Nm | 6.6 l/100 km | 4 jaar/120 000 km- waarborg 4 jaar/80 000 km- diensplan | R412 900 |
Honda CR-V 2.0 Elegance | 114 kW/192 Nm | 7.7 l/100 km | 5 jaar/200 000 km- waarborg 5 jaar/ 90 000 km- diensplan | R447 900 |
Hyundai Tucson 2.0 Premium | 115 kW/196 Nm | 8.9 l/100 km | 5 jaar/150 000 km- waarborg 5 jaar/90 000 km- diensplan | R369 900 |
Kia Sportage 2.0 Ignite | 114 kW/192 Nm | 7.9 l/100 km | 5 jaar/ onbeperkte km-waarborg 5 jaar/90 000 km- diensplan | R369 990 |
Mazda CX-5 2.0 Dynamic | 121 kW/210 Nm | 6.4 l/100 km | 3 jaar/onbeperkte km-waarborg 3 jaar/onbeperkte km-diensplan | R377 700 |
Mercedes-Benz GLA 200 | 115 kW/250 Nm | 5.9 l/100 km | 2 jaar/onbeperkte km-waarborg 6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan | R458 666 |
Renault Kadjar 96kW TCe Dynamique | 96 kW/205 Nm | 5.7 l/100 km | 5 jaar/150 000 km- waarborg 5 jaar/90 000 km- diensplan | R389 900 |
Daar is letterlik honderde opsies in hierdie klas. Jy kan regtig besluit op presies watse enjin, brandstof, ratkas, voorwiel- of allewielaandrywing, spesifikasievlakke en nog meer. Maak ʼn kortlys en ry dié waarvan jy hou. Ek hou wel regtig baie van die Tiguan.
Middag Maroela,
Net n regstelling,
Die Hyundai Tucson kom met n 7 jaar/ 200 000km fabriekswaarborg
Dagsê Hyundai,
Baie dankie vir jou kommentaar. Hyundai sê: “Hyundai’s 5-year/150 000 km manufacturer’s warranty, enhanced by the additional, groundbreaking 7-years/200 000 km drivetrain warranty, comes standard with the Hyundai Tucson package, as well as roadside assistance for 5 years or 150 000 km.”
“Except for the Tucson 1.7 UII Executive Diesel, all Tucson derivatives come with a 5-year/90 000 km service plan included in the price. Service intervals are at 15 000 km.”
“The Tucson 1.7 UII Executive Diesel has 30 000 km service intervals, and comes with a 5-year/120 000 km service plan.”
Brendon
NMS Maroela Media
Hoop net die Diesel is meer omgewingsvriendelik em dat daar nie weer gekul was nie
Nee-wat, lelik.
Baie lelik.
Baie mooi voertuig!