Maroela Motors-padtoets: Volvo veiliger as ooit tevore

Volvo V40 T5 Momentum Geartronic (Foto: Volvo)

Volvo V40 T5 Momentum Geartronic (Foto: Volvo)

Maroela Motors toetsbestuur die Volvo V40 T5 Momentum Geartronic.

Vandat ek ʼn klein tjokker was, is Volvo sinoniem met veiligheid. Ons het vir lank nie Volvo’s hier in Suid-Afrika gekry nie, maar ek is baie dankbaar dat hulle terug is. Ek onthou hoe verlief ek op die Volvo 850 was. Ek’t gedink die vierkantige ontwerp was briljant. Toe maak hulle die 850-renmotor. Ek het daarna altyd ʼn stasiewa wat sy sokkies só kon optrek, begeer.

Ek het intussen bietjie groter geword, en is nou ʼn pa van drie kindertjies. Alhoewel ek van vinnig ry hou – tot my vrou se oneindige irritasie – is dit vir my baie belangriker dat my kinders veilig vervoer kan word. Volvo het ʼn nuwe doelwit wat hulle teen 2020 wil bereik: die program se naam is Vision 2020. Volvo sê dat daar geen sterftes of ernstige beserings in botsings met ʼn Volvo ná 2020 sal plaasvind nie.

Dit is ʼn indrukwekkende eis om te stel. Ek sal ook vir jou sê dat ek glo hulle het al yslike vordering gemaak op pad na hierdie mylpaal. Laat ek verduidelik: die Volvo V40 wat ons getoets het, het my verlede week van ʼn botsing gespaar. Die V40 het die opsionele Driver Support Pack geïnstalleer wat onder andere BLIS (Blind Spot Information System), CTA (Cross Traffic Alert, Driver Alert System, Active High Beam, Lane Keeping Aid, Adaptive Cruise Control, Pedestrian Detection en Rear parking camera insluit.

Volvo V40 T5 Momentum Geartronic (Foto: Volvo)

Volvo V40 T5 Momentum Geartronic (Foto: Volvo)

Ek is van my huis in Montana, Pretoria na die Gospel Skouspel in die ooste van Pretoria op pad. Ek het skaars by die N1 aangesluit toe ʼn ander motor teen meer as dubbel my snelheid van ver links heeltemal na regs verby my skiet. Ek het die BLIS-liggie gesien flikker, maar toe is die motor reeds op my. Voor ek nog kon reageer, het die V40 so 1,5 m regs gepluk uit die ander motor se pad uit. As die Volvo nie self uitgeswaai het nie – sou ons gebots het. Ek het 90 km/h gery en ek skat die ander motor so 160 km/h – indien nie meer nie. Ek dink nie dit sou ʼn groot ongeluk gewees het nie – maar ek wil nie graag teen 90 km/h in die middelbaan van die N1 tol nie. Dankie, Volvo. Daai een sal ek nooit vergeet nie.

Die V40 is ook ʼn aantreklike motor. Hy val so halfpad tussen ʼn luikrug en ʼn stasiewa. Nie te klein nie, maar ook nie te groot nie. Sy lyne is stylvol en gesofistikeerd. Die kajuit binne is meer van dieselfde. Die kajuit is ergonomies uitgelê en daar is nie ʼn harde plastiekpaneel in sig nie. Volvo het oor die jare aan die resep gewerk, en dit lyk netjies en pas by die motor se karakter. Ek is ook te dankbaar dat daar ʼn paneelbord is met knoppies vir die draadloos, navigasie, telefoon, lugversorging ensovoorts. Ek is nie mal oor ʼn raakskermsisteem nie.  Die V40 is ook toegerus met die opsionele Techno Pack. Dit sluit in verhitte voorsitplekke, digitale instrumente, LED-ligte met Active Bending, navigasie, sleutellose toegang, ʼn goeie klankstelsel met agt luidsprekers, DVD, USB, Bluetooth, AUX, stembeheer en internet.

Volvo V40 T5 Momentum Geartronic (Foto: Volvo)

Volvo V40 T5 Momentum Geartronic (Foto: Volvo)

Hierdie twee pakkette waarmee die V40 toegerus is, is die bykomende R57 000 werd. Dit maak die V40 gemakliker en veiliger. Ons het die T5-weergawe getoets. Die twee liter vier silinder turbo kragbron onder die kap lewer 180kW teen 5 500 toere en 350Nm wringkrag tussen 1 500 en 4 800 r/min. Met die 8-gang outokas en daai wringkrag voel die Volvo nooit stadig of lui nie. Die T5 haal 0 – 100km/h binne 6,9 sekondes en hy sal aanhou draf tot 240 km/h. Ek sal byvoeg – as jy deurlopend al die krag gebruik, kan hierdie turbo-enjin dors raak, maar op die oop pad teen ʼn konstante 120 km/h is hy indrukwekkend lig.

Ritgehalte op die 18 duim wiele kan bietjie hard voorkom, maar dit raak nie ondeund nie. Die harder vering en groter bande laat die Volvo ook lekker vas op die pad voorkom. Die stuurwiel is ook akkuraat, so die V40 kan mooi presies geplaas word waar jy hom wil hê.

Van die spanlede het ook ʼn beurt gekry om met die Volvo rond te rits. Adele meen as die V40 T5 ʼn man was, het sy hom nou gevra om te trou. Sy het veilig gevoel in die motor veral toe sy saans alleen moes bestuur. Die motor is vir haar baie mooi sonder om wintie voor te kom. Die V40 is effe groter as wat Adele nodig het, maar sy het dit vinnig gewoond geraak en was verbaas deur die outomatiese ratkas, al verkies sy self ʼn handrat.

Volvo V40 T5 Momentum Geartronic (Foto: Volvo)

Volvo V40 T5 Momentum Geartronic (Foto: Volvo)

Nico voel die krag van die T5 is die lekkerste kenmerk van die V40. Hy was ook beïndruk deur die luukse kajuit en truuks. Die V40 is vir hom ook baie mooi. Hy voel wel ʼn mens sal aan al die veiligheidsgoedjies moet gewoond raak en heel moontlik groot skrik as die motor skielik self rem of uitswaai. (Dit is wel waar, my hart het amper gaan staan toe die Volvo uitswaai vir die motor wat my sou stamp.)

Annelize het heeltemal veilig gevoel in die motor. Sy voel die V40 bestuur soos ʼn droom en het genoeg bagasieruimte vir skooltasse. Sy voel ook al die klein truuks maak mens se lewe makliker en veiliger. Sy soek so ʼn V40 van haar eie, al is dit vir haar nie die mooiste motor ooit nie.

Om op te som: Die Volvo V40 T5 Momentum Geartronic is ʼn indrukwekkende motor. Ek self sou eerder ʼn dieselmodel kies – ek het nie al daai krag nodig nie en beter dieselverbruik is altyd welkom. Die 8-spoed outokas is ʼn droom en wissel ratte sonder enige geruk en -pluk. Mens voel regtig veilig in die motor en ry met so simpel glimlag terwyl jy dink al die ander mense op die pad het die verkeerde motors gekoop.

Prys soos getoets, R519 050. Die V40 word gedek deur ʼn vyf jaar/100 000 km-waarborg en vyf jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die reeks lyk so:

V40 T3112kW/ 250Nm5.5l/100kmR338 498
V40 D288kW/ 280Nm3.4l/100kmR351 100
V40 T4140kW/ 300Nm5.5l/100kmR400 998
V40 D3110kW/ 320Nm4.0l/100kmR432 400
V40 D4140kW/ 400Nm4.2l/100kmR442 400
V40 T5180kW/ 350Nm5.9l/100kmR461 638

Brandstofverbruiksyfers is verskaf deur Volvo en word bepaal deur die NEDC-laboratoriumtoetse. Hierdie syfers is bitter moeilik om in die werklikheid te haal. Alle modelle het verskeie weergawes en die intreemodel is gelys.

Die kompetisie lyk so:

BMW 125i M Sport sports-auto165kW/ 310Nm5.7l/100km2 jaar/onbeperkte km waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R502 340
Mercedes-Benz A250 Sport160kW/ 350Nm6.2l/100km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R528 522
Audi A3 1.8T SE auto132kW/ 250Nm5.6l/100km1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R452 500
Volkswagen Golf GTi auto162kW/ 350Nm6.4l/100km3 jaar/120 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R481 500

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

W ·

As die ander voertuig van links af, regs geswaai het om verby te kom, dan beteken dit jy was in die verkeerde baan. Hou links en gaan regs verby. Maar almal voeter mos in die middel en regterkantste bane rond!

Paul ·

Moenie 90km/h ry in die middelbaan op ‘n 120km/h snelweg nie! As jy by ‘n 120km/h snelweg aansluit, sit voet in die hoek sodat jy, teen die tyd dat jy aansluit by die res van die verkeer, reeds teen 120km/h beweeg. Dis basiese padveiligheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.