Maroela Motors-padtoets: Wind in die hare met die MINI Cooper Convertible Outo

Mini Cooper Convertible Foto: Mini

Mini Cooper Convertible Foto: Mini

Die vorige MINI wat ons by Maroela Media geniet het was die Clubman Cooper S. Daardie wa het die hele kantoor op hol gehad. Dit het behoorlik gegons oor die MINI wat ʼn paar rissies onder die enjinkap gehad het. Ek was nogal opgewonde om die gewone Cooper-sussie te toets met die nuwe 1.5 liter 3 silinder-masjien.

Ek is heel dankbaar dat die MINI Convertible eers in die lente by ons opgedaag het. Die MINI Convertible is ʼn baie klein buksie, maar soos ʼn Transformer, met die druk van ʼn knoppie, vou die dak homself mooi op en gaan lê agter op die MINI se stert. As die dak eers oop is, verander die ervaring heeltemal.

Die MINI is ʼn baie aantreklike motortjie. Netjies ontwerp, en meer netjies aanmekaar gesit. Die binneruim is klein, maar mens raak dit redelik vinnig gewoond. Die Convertible is definitief vir enkellopendes of ʼn paartjie, want dit maak die lewe met kinders uitdagend. Leerbekleedsel en ʼn indrukwekkende klankstelsel laat jou tuis voel binne die MINI. Weereens is harman/kardon se puik klankstelsel gebruik, en dit is ʼn opsionele ekstra wat ek beslis sal neem op my eie voertuig.

Mini Cooper Convertible Foto: Mini

Mini Cooper Convertible Foto: Mini

Die enjin/ratkas-kombinasie werk lekker saam. Die 1.5 liter 3 silinder-enjin stoot 100kW en 220Nm wringkrag. Dit is beslis indrukwekkend van net drie silinders, en hy brul effens deur die uitlaatpyp. MINI sê mens kan 5,3l/100 km in die gekombineerde siklus behaal – maar ons het gesukkel om onder 8l/100 km te kry. Teen ʼn streng 120 km/h op die snelweg is die MINI wel baie ekonomies.

Ritgehalte is waar dinge vir my bietjie skeefloop. Dit is nie ʼn slegte punt van die MINI spesifiek nie, maar alle afslaankapmotors. Sodra die dak verwyder word, moet die onderstel versterk word sodat die motor hom nie soos ʼn bak jellie gedra nie. Die MINI is vir my te hard geveer. Die stuurwiel is vir my ook te sensitief en laat die MINI aanvanklik benoud voel op die pad. Op gladde paaie voel mens wel nie die harde vering of oorsensitiewe stuurwiel nie. Wind en padgeraas in enige afslaankap is ook meer as in ʼn gewone motor, maar mens raak dit ook vinnig gewoond.

Mini Cooper Convertible Foto: Mini

Mini Cooper Convertible Foto: Mini

Susan van Maroela Media voel die MINI is ʼn lekker duur speelding. Sy het so drie ure met die MINI in spitsverkeer deurgebring en voel ook die MINI is te hard geveer en die sensitiewe stuurwiel het haar skouers die volgende dag seer gelaat. Sy voel as mens gerief en spasie benodig, is die MINI nie vir jou nie. Die kattebak het haar wel verras en hoewel dit klein is, is dit groter as wat sy verwag het. ʼn Oulike funksie is dat die kattebak nie sluit tensy jy met die sleutel aan jou wegloop van die motor af nie – so mens kan nie die sleutel in die kattebak toesluit nie. Nogal oulik as mens nie fokus op praktiese dinge, soos sleutels bêre, terwyl jy net met die dak oop en die wind in jou hare wil rits nie.

Annelize het haar hart en siel verloor op die MINI Clubman wat ons onlangs getoets het. Toe sy hoor daar kom nog ʼn MINI, het sy my amper ge-Springbok-duik om die sleutels te kry. Sy vrek oor die MINI’s. Dit is vir haar baie mooi ontwerp en luuks. Sy het die Convertible regtig geniet, maar ongelukkig as ʼn mamma van drie kinders, is daar nie genoeg plek vir al die kinders en hul bagasie nie. Sy wil wel baie, baie graag ʼn Clubman hê.

Om op te som is die MINI Convertible ʼn lekker speelding. Hy is prettig as die weer dit toelaat en sy enjin is entoesiasties. Vir diegene wie se lewenstyl dit toelaat, geniet elke oomblik, voor dit tyd is vir kinders.

Die reeks lyk so:

MINI Convertible Cooper100kW/ 220Nm5.1l/100 kmR389 000
MINI Convertible Cooper Outo100kW/ 220Nm5.3l/100 kmR407 000
MINI Convertible Cooper S141kW/ 280Nm6.2l/100 kmR457 000
MINI Convertible Cooper S Outo141kW/ 280Nm5.8l/100 kmR475 000
MINI Convertible Cooper S Sports Outo141kW/ 280Nm5.8l/100 kmR482 100

Die MINI reeks word deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg gedek asook ʼn 5 jaar/100 000 km-instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Audi A3 Cabriolet 1.4 TFSI Outo92kW/ 200Nm5.1l/100km1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km-instandhoudingsplan

R527 500
BMW 220i Convertible Sport Outo135kW/ 270Nm5.7l/100km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- instandhoudingsplan

R568 254
Mazda MX-5 2.0 Roadster Coupe118kW/ 200Nm6.7l/100km3 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/onbeperkte km-diensplan

R441 700

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.