Maroela Motors-sleeptoets: Mitsubishi Pajero 5-deur 3,2DI-D GLS Legend II

Die Mitsubishi Pajero 5-deur 3,2DI-D GLS Legend II (Foto: Mitsubishi)

Die Mitsubishi Pajero 5-deur 3,2DI-D GLS Legend II (Foto: Mitsubishi)

Kort nadat ons met die kortasafstand Pajero in die modder gaan speel het, het die langasafstand Pajero Legend II by die kantoor opgedaag. Ek het toe reeds geweet wat die Pajero se veldryvermoë is, so die volgende stap was om my woonwa te sleep met die Pajero.

Ek het vir ons ʼn naweek bespreek by ATKV Klein-Kariba vroeg in November. Dit was die eerste keer dat ek met ʼn outomatiese voertuig my woonwa gesleep het en ek was redelik opgewonde om te sien waar die verskille lê. Ek sleep ʼn ou 1992 Sprite SuperSport en hy weeg, gelaai, net so skrams oor ʼn ton.

Die Pajero is mooi van buite en die 18” wiele rond die pakket mooi af. Subtiele rotsglyers staan ook nie uit soos ʼn tienerpuisie nie. Die Pajero se binneruim is die standaard swart leerbekleedsel met sewe sitplekke met ʼn reuse-sondak. Die agterste ry sitplekkies is maar rudimentêr en beslis nie vir volwasse lywe nie. Met dié sitplekke weggevou is daar indrukwekkende pakruimte in die kattebak vir al die pakkerasies. Daar is ʼn Rockford Fosgate “sub-woofer” in die kattebak en as jou klank nie reg ingestel is nie gaan jy beslis ʼn paar skewe kyke kry as jy deur die woonwapark ry met die gedoef-doef wat uit die vensters blêr.  

Die Mitsubishi Pajero 5-deur 3,2DI-D GLS Legend II (Foto: Mitsubishi)

Die Mitsubishi Pajero 5-deur 3,2DI-D GLS Legend II (Foto: Mitsubishi)

Die Pajero het ʼn sterk 3,2 liter viersilinder-dieselenjin wat 140 kW en 441 Nm wringkrag bied. Die enjin lewer sy krag deur ʼn vyfspoed outomatiese ratkas wat toegerus is met laestrek. Die Pajero het ook agter- en middel-ewenaarslotte. Ongelukkig is die krag slegs beskikbaar indien jy bereid is om baie diesel in te gooi.

Op die N1 van Montana in Bela-Bela se rigting het ons ʼn windjie teëgekom, reg van voor. Teen ʼn konstante sleepspoed van 110 km/h het die Pajero ʼn skrikwekkende 14,4 ℓ/100 km gebruik. Dié Pajero is ʼn gulsige dieselvraat. Op dieselfde roete, maar in die rigting van Pretoria, het ons dieselfde windjie gehad, maar van agter en die brandstofverbruik het verbeter na 13,2 ℓ/100 km teen dieselfde spoed.

Brandstofverbruik uitgesonder is die Pajero op ʼn langafstand ʼn heerlike sleepmotor. Daar is oorgenoeg krag met ʼn stabiele onderstel en vering. Die outomatiese ratkas soek ook nie heeltyd rond vir ratte nie soos party ander outomatiese ratkaste. Die binneruim is lekker groot en gemaklik vir die langpad, veral met die lugreëling vir die agterste passasiers wat ook ʼn bietjie koel lug kan geniet.

Die Mitsubishi Pajero 5-deur 3,2DI-D GLS Legend II (Foto: Mitsubishi)

Die Mitsubishi Pajero 5-deur 3,2DI-D GLS Legend II (Foto: Mitsubishi)

Die Pajero is ʼn veeldoelige gesinsmotor. Hy kan 3,3 ton sleep, het ʼn indrukwekkende veldryvermoë, sewe sitplekke en ʼn stylvolle ontwerp. Al wat effe teleurstel is die binneruim wat begin oud voel teenoor nuwer mededingers. In hierdie nis is daar nie honderde mededingers nie, maar ek weet wel van drie wat die lewe vir dié Pajero baie moeilik gaan maak: die nuwe Fortuner, Everest en Trailblazer. Dié mededingers kan nie geïgnoreer word nie. Hulle kos almal amper R200 000 minder as die Pajero. Waar die kortasafstand net een mededinger het in die Jeep Wrangler, raak dinge baie meer ingewikkeld by die langasafstand.

Die reeks lyk so:

Pajero SWB GLS140 kW/ 441 Nm10,1ℓ /100 kmR689 900
Pajero SWB Legend II140 kW/ 441 Nm10,1ℓ /100 kmR719 900
Pajero LWB GLS140 kW/ 441 Nm10,1ℓ /100 kmR769 900
Pajero LWB Exceed140 kW/ 441 Nm10,1ℓ /100 kmR789 900
Pajero LWB Legend II140 kW/ 441 Nm10,1 ℓ/100 kmR819 900

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk so:

ModelKragBrandstofverbruikWaarborgPrys
Chevrolet Trailblazer 2,8 4×4 LTZ144 kW/ 500 Nm9,5 ℓ/100 km5 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R613 200
Toyota Fortuner 2,8GD-6 4×4 outo130 kW/ 450 Nm8,5 ℓ/100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R614 800
Ford Everest 3,2 4WD XLT147 kW/ 470 Nm8,2 ℓ/100 km4 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 100 000 km diensplan

R634 900

As ons kyk na die duurder opsies:

ModelKragBrandstofverbruikWaarborgPrys
Toyota Land Cruiser Prado 3,0 VX120 kW/ 400Nm8,5 ℓ/100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R911 100
Jeep Grand Cherokee 3,0 CRD Limited179 kW/ 569Nm7,5 ℓ/100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

6 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R992 900
Land Rover Discovery SDV6 S183 kW/ 600Nm8,8 ℓ/100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 035 250

Die Pajero het altyd meer in die Grand Cherokee en Discovery se liga geval, maar sy ouderdom wys en die nuwe jongelinge soos die Fortuner en Everest het die Pajero ingehaal. Die ou hande soos die Grand Cherokee en Discovery het wel nou weer die Pajero in die stof gelaat. Twee van die duurder opsies het ook sessilinder-dieselenjins, en baie meer krag. Ek voel ook dat die sessilinderenjins op die oop pad ligter is as die viersilinderenjins. Hierdie keuse gaan moeilik wees en sal afhang van wat jy kan bekostig en waarvoor jy die motor wil gebruik. Persoonlik dink ek die Fortuner wen hierdie argument As my sakke diep genoeg was, dan is dit die Discovery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

peter ·

Jy koop nie diesel vrate as jy dit nie kan bekostig nie! Lank lewe die Pajero! JOu oulike oulike ding!

Ekwilibrium ·

Miskien is hy nie so vars soos die mededinging nie, maar ek ry ‘n ouer 3.2 diesel Pajero en sjoe, dis darem lekker… Betroubaar en uiters bekwaam in enige situasie.

Tonie ·

Die Pajero is darem heelwat groter as die goedkoper opsies met ‘n baie beter 4×4 stelsel. In ‘n onlangse toets in Wegsleep het die 2.8 Fortuner 13.2 l/100km gekry met n soortgelyke wa. Die Fortuner is kleiner, is dus net so ‘n groot suiplap en dit nogal met al die nuwe tegnologie. Die Discovery gaan sukkel om minder as 16 l/100km te gee en dan is dit met ‘n afdraande van voor en wind van agter, vra my ek weet (hy bly egter enige sleper se droom)

Pajero is oud maar nog lank nie koud!

Brendon ·

Dagsê Tonie,

Baie dankie vir jou kommentaar. Die Pajero is wel nie baie groter as die Fortuner nie. Slegs 105mm langer en 20mm breër. Albei het 7 sitplekke, en die Fortuner s’n selfs vir volwassenes. Die Fortuner het wel 44mm beter grondvryhoogte.

Sonder die karavaan het die Pajero 11.7l/100km gebied. Die Fortuner wat ons op toets gehad het oor 700km het 8.9l/100km gebied.

Lekker dag,
Brendon
NMS Maroela Media

Tonie ·

Party voertuie moet die “Moes” -toets slaag (nie almal ewe suksesvol nie) maar “Moese” moet die Pajero toets slaag .

Esther ·

Ek het nou al verskeie male saam mense gery in foruners en Pajero’s.
In alle gevalle was ons drie volwassenes agter in die motor.
Elke keer in die Fortuners het ek my kop teen die dak gestamp of teen die handvatsel met die hak vir klere.
Dit het egter nog nooit in die Pajero gebeur nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.