Maroela Motors: Toyota Etios Sprint – suksesvolle plastiese sjirurgie?

Etios Sprint

Etios Sprint

Die suksesvolle Toyota Etios het sopas bietjie plastiese sjirurgie ondergaan. Die nuwe model word as die Toyota Etios Sprint bekendgestel. Die Sprint-weergawe vervang die Xs model wat tot dusver beskikbaar was.

Maroela Media was by die plaaslike bekendstelling.

ʼn Nuwe, meer sportiewe voorste buffer wat geïntegreerde misligte huisves, gee die eerste aanduiding dat die Sprint die mooiste van die drie modelle is in sedan- of luikrugbakwerk. Die 15” Sierwiele rond ook die pakket mooi af en verander die Etios se aangesig van goedkoop ryding na intreevlak gesinsmotor.

Daar is steeds drie Etios-modelle beskikbaar. Intreemodel Xi wat nie die nuwe buffer en sierwiele geniet nie maar eerder ʼn waarde-vir-geld-opsie bly. Die tweede model is die Sprint en dan die derde stalmaat is die Etios Cross. Die Cross is slegs beskikbaar in luikrugbakwerk.

Etios Sprint

Etios Sprint

Al drie modelle heers oor dieselfde onderstel, vering en enjin. Die 1.5 liter viersilindermasjien is lekker gretig en voel baie meer as wat die 66kW en 132Nm op papier aandui. Tussen Grahamstad en Oos-Londen op interessante paaie, ʼn 100 km vanaf die lughawe met 60 minute om te gaan voor die vlug opstyg huiswaarts, kan ʼn Etios Sprint sy stewels vasmaak en hol – glo my. Senuwees saam vasgegespe op ʼn vliegtuig – net-net betyds.

ʼn Opvallende eienskap van die Etios is hoe goed hy geveer is. Die rofste paaie is teen interessante spoed aangedurf en daar is bitter min wat die Etios irriteer in terme van sy vering. Hobbeltjies en slaggate steur nie die Etios nie en dit maak van dié voertuig ʼn aangename maat op die langpad. Ons het ongeveer 400 km afgelê met die Etios in die sedan en die luikrug en beide is aangenaam gemaklik en stilering is heel goed vir die klas motor.

Etios Sprint

Etios Sprint

Die luikrug is ʼn goeie opsie vir ʼn eerste voertuig of vir ʼn jonger teikenmark, maar die sedan met sy reuse kattebak is perfek vir ʼn gesin. Die gesin word veilig gehou deur ʼn bestuurder- en passasierlugsak asook ABS en remkragverdeling, styftrekkers en lasbeperkers op die gordels en ISOFIX. Daar is ʼn lekker klankstelsel met vier luidsprekers, CD speler, USB-poort, Aux en Bluetooth.

So, om op te som: die Etios is ʼn groter klas voertuig beskikbaar teen intreemodel pryse. Die bestuursposisie is nie vir my perfek nie – maar mens raak gewoond daaraan. Die monteringspunt van die voorste sitplekgordels is vir my bestuursmaat effe hoog en indien jy redelik kort is gaan die gordel jou in die nek karnuffel, maar – as jy ʼn lekker groter motor wil koop op ʼn begroting, is daar min wat met die Etios kan meeding.

Die reeks lyk so:

etios

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/ 30 000 km-diensplan en 3 jaar/100 000 km-waarborg. Diensintervalle is elke 10 000 km.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tienkie ·

Het my etios al 4jaar en nog nie een dag spyt dat ek hom gekoop het nie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.