Mazda 3 kon die sedan gered het

Foto: Brendon Staniforth

Dit is geen geheim dat sedanmotors nie meer gewild is nie. Mediumgrootte sedanmotors waarmee ons grootgeword het, soos die Jetta, bestaan nie eers meer nie. Daar is maar ʼn paar rolspelers oor – in ʼn segment wat eens op ʼn tyd by verre die grootste van almal was.

Daar is onlangs twee nuwe sedans bekendgestel en ek kan nie help om te dink dat indien ons dié twee 10 jaar terug gehad het, sedanmotors meer gewild sou gebly het nie. Ek praat van die nuwe Corolla waaroor jy hier meer kan lees en dan dié uiters pragtige Mazda 3.

Foto: Brendon Staniforth

Die luikrugweergawe van die Mazda 3 het die 2020-Wêreldmotorontwerp van die Jaar opgeraap. Ek persoonlik hou meer van die sedan.

Die ontwerp volg Mazda se Kodo-ontwerpstyl. Die proporsies is mooi, en die Mazda 3 het effe gegroei en is beslis nie meer só kompak nie. Die toetsmotor wat by die huis opgedaag het, was ook in die mooiste rooi wat ek in jare gesien het.

Die binneruim van die Mazda voel voorwaar luuks. Die sitplekke en paneelbord is met ʼn mooi swart leer oorgetrek – en die elektries verstelbare sitplek is in ʼn japtrap gemaklik. Die stuurwiel kan mooi vir reik verstel word.

Foto: Brendon Staniforth

Die instrumente het ʼn bittermooi skoonskrif, en die inligtingstelsel werk puik. Dit bied nou ook Apple CarPlay en Android Auto – ʼn groot aanwins vir Mazda. Die sogenaamde “heads-up display” (HUD) bied vir ʼn mens die belangrike inligting wat jy nodig het sodat jy jou oë op die pad kan hou.

Verder is daar elke denkbare luuksheid in die binneruim. Spoed- en klimaatbeheer, ʼn magdom lugsakke, ʼn Bose-klankstelsel, die HUD en outomatiese ligte en ruitveërs is maar net ʼn paar van die funksies in ʼn baie omvattende spesifikasielys.

Foto: Verskaf

Die enjin het baie mense in rep en roer. Dit is steeds ʼn atmosferiese 2.0-viersilinderpetrolenjin. Ek hoor almal uitroep: “Waar’s die turbo’s?!” Kom ek stel dit só: Dié 2.0 bied 121 kW en 213 Nm; nie te versmaai nie. Ja, dit sal beslis nie die vinnigste vuurpyl wees van 0 – 100 km/h nie, maar dis eerder die algehele pakket wat saak maak. Die 2.0 is ook fantasties lig op brandstof. Ek het 9,1 ℓ/100 km gehandhaaf in stadsverkeer. Mazda maak aanspraak op ʼn gemiddelde syfer van 6,2 ℓ/100 km, wat  ek glo heeltemal moontlik is.

Foto: Verskaf

Op die pad ontdek ek die Mazda se enigste kwaal. In die onlangse Corolla-toets het ek opgemerk hoe sag sy rit is. Albei loop op 18”-wiele. Die Mazda se rit is onnodig hard. Ek dog eers dat die bande te hard gepomp is, maar na ek dit nagegaan het, is dit binne die spesifikasie. Die Mazda het daai ou kenmerkende gevoel van “hy loop op ʼn laeprofielband”. Verder is die padhouvermoë in die kol vir dié grootte sedanmotor.

Dit is bitter maklik om die Mazda 3 2.0-Astina op te som. Dis ʼn fantastiese voertuig. Dit bied puik waarde en meer luuksheid en kattebakruimte as van sy sportnutsmaatjies vir minder geld. Mazda se eie CX-5 met dieselfde enjin is R50 000 duurder. Die Mazda 3 en die Toyota Corolla is wat sedanmotors tien jaar terug moes gewees het. Dit is bittermooi.

Die reeks lyk só:

Mazda 3 1.5 Active88 kW/153 Nm5,9 ℓ/100 kmR366 100
Mazda 3 1.5 Dynamic88 kW/153 Nm5,9 ℓ/100 kmR380 600
Mazda 3 1.5 Dynamic outo88 kW/153 Nm5,9 ℓ/100 kmR393 600
Mazda 3 1.5 Individual88 kW/153 Nm5,9 ℓ/100 kmR428 800
Mazda 3 1.5 Individual outo88 kW/153 Nm5,9 ℓ/100 kmR441 800
Mazda 3 2.0 Astina121 kW/213 Nm6,3 ℓ/100 kmR485 000

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/onbeperkte km-waarborg en -diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Toyota Corolla 2.0 XR outo125 kW/200 Nm6 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

6-dienste-diensplan

R433 700
Honda Civic 1.8 Elegance104 kW/174 Nm6,3 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R441 800

Tussen dié mededingers is die Corolla my gunsteling. Die Mazda voel luukser, maar die Toyota is goedkoper en ry baie sagter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

Ek persoonlik hou van sedan motors, maar verstaan hoekom die gemiddelde koper eerder na SUV gaan soek.
1. In die stad voel jy veiliger tussen die taxi’s as jy hulle in die oë kan kyk.
2. 10 tot 15 jaar terug se SUV was basies bakkies met ‘n permanente canopies. Vandag is dit sportiewe motors.
3. ‘n SUV bied meer, almal wil graag op ‘n plaas gaan kuier en koop SUV’s met grond paaie in gedagte. Die staan bietjie hoër in sy sokkies om nie krappe op te doen op slegte grond paaie nie. Al kom bitter min ooit op ‘n grondpad.
4. Jou uitsig in ‘n SUV is net soveel beter.
5. Ons het in SA nog redelik baie plek vir parkering ens. en ons paaie is breed. In Europa is dit natuurlik ‘n ander storie.
Maar SUV’s het ook swakker punte:
1. Brandstof verbruik.
2. Versekering pryse.
3. Risiko’s vir kapings.

Dan die grootste punt van SUV’s. Hulle laat jou spesiaal voel, al is daar 8 uit 10 van die selfde model op die pad.

Eltan ·

Ek self ry die nuwe Mazda 3 vir so 2 maande nou al.
Puik motor en was verras met sy luuksheid in die binneruim.
Instrument paneel het werklik n goeie uitleg.
Puik brandstof verbruik ook.
Maar ja…sou graag n turbo wou gesien het want hy is bietjie lui met wegtrek en jy moet die toere bietjie laat trek voor hy begin hol..
10/10 vir die auto hold assist feature..wat die remme hou totdat jy koppelaar beheer het…my vorige voertuig n polo tsi het dieselfde gehad maar slegs die remme gehou vir so 3 sekondes voordat hy los.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.