Mazda in SA nou onafhanklik

Mazda3 Foto; Mazda

Mazda3 Foto: Mazda

Die onlangse ‘egskeiding’ tussen Ford en Mazda het klaarblyklik nuwe lewe geblaas in die vooruitsigte vir hierdie ikoniese Japanse vervaardiger.

Nie net het Mazda nou sy eie reuseperseel in Midrand nie, maar die onlangse bekendstelling van drie nuwe modelle – Mazda3, Mazda6 en CX-5 – het weer eens getoon waarom Mazda as handelsmerk so gewild is.

Volgens David Hughes, Mazda SA se besturende direkteur, sal Ford steeds voortgaan om die BT-50 by sy Silverton-aanleg te bou. Alle ander Mazdas sal egter regstreeks uit Japan ingevoer word.

Die CX-5-reeks bestaan uit ses modelle, en wissel van die 2-liter voorwielaandrywing met handrat tot die 2.2-liter DE Akera outomaties met 4-wielaandrywing.

Die ander (intreevlakmodel), die Mazda3, het eweneens beïndruk met sy goeie bougehalte, uitstekende padklouvermoë en hoë spesifikasievlakke wat Bluetooth en Bose-klankstelsel in die topmodel, die Astina, insluit. Laasgenoemde se navigasiestelsel word gerugsteun deurdat alle inligting op ‘n gewone SD-kaart beskikbaar is en dus sonder veel moeite opgegradeer kan word.

Soos in die verlede, word die Mazda6 steeds as die vlagskip beskou, en is hierdie model, ten opsigte van sy voorkoms, toerustingsvlakke en algemene padgedrag, ‘n stewige mededinger vir onder meer BMW se 3-reeks en selfs van Mercedes-Benz se intreevlak C-klas modelle – sonder om naastenby so duur soos sy Duitse mededingers te wees.

Die Mazda6-reeks bestaan uit ses modelle wat wissel van die 2-liter Active handrat, die 2-liter Active outomaties en twee 2.5-liter petrolmodelle – albei met outomatiese ratkaste maar verskillende spesifikasievlakke.

Hierna volg die twee diesels, albei met outomatiese ratkaste en 2.2-liter enjins.

Mazda CX5 Foto: Mazda

Mazda CX5 Foto: Mazda

Ondanks die verskil in prys oor die hele 3-modelspektrum, word elke Mazda gewaarborg vir 3 jaar met onbeperkte afstand, ‘n 3-jaar diensplan, 3 jaar padhulp en ‘n 5 jaar roeswaarborg.

Met ‘n uitgebreide keuse van 19 modelle is Mazda doelbewus besig om homself as handelsmerk in eie reg te vestig.

As ‘n mens na die pryslyste kyk, is daar ‘n Mazda vir elke smaak en beursie. Pryse wissel tussen R232 900 vir die Mazda3 Original tot by R456 100 vir die Mazda CX-5 DE Akera met 4-wielaandrywing.

In die Mazda3-afdeling het die 1.6 Dynamic Auto teen R256 400 kop en skouers bo sy stalmaats uitgestaan, terwyl die 2.5 Dynamic auto in die 6-reeks goeie waarde vir geld bied teen R373 000. Weens Suid-Afrikaanse kopers se voorkeure vir sportnutsvoertuie (SUVs) sal die CX-5 waarskynlik binnekort die maatskappy se topverkoper wees – met die CX-5 2-liter Active Auto as eerste keuse teen ‘n bekostigbare R326 600.

Ten slotte

Die naam Mazda was nog altyd gewild in ons land vanweë die motors se betroubaarheid, moderne voorkoms en uitsonderlike padgedrag alhoewel verkopesyfers dit nie altyd weerspieël het nie. Noudat hierdie vervaardiger sy eie potjie gaan krap – met 50 handelaarskappe reeds landwyd in plek – behoort ons binnekort aansienlik verbeterde verkopesyfers te sien.

Die verkope in Augustus vanjaar was weliswaar 420 eenhede, maar daar moet in gedagte gehou word dat 348 die BT-50 bakkie verteenwoordig het.

David Hughes en sy span is optimisties dat hulle in die nabye toekoms maklik 700 eenhede per maand sal verkoop. Persoonlik glo ek die voertuie se gehalte is goed, die pryse redelik en hierdie teikens sal redelik maklik bereik kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Conrad ·

So het ek ook op n stadium n Mazda Bakkie gery en toe ek teruggaan om na n paar jaar dit interuil op n nuwe een, kry ek die verrassing van my lewe. Hulle bied my so n slegte prys aan op n inruil op n ander een, dat ek maar na n ander fabrikaat toe gegaan het. Hulle was bereid om my meer te gee. Baie vriendelik en hulpvaardig as jy koop, maar om jou by hulle te hou is n ander storie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.