Merc se GLS: Dit werk, dit pla

Die Mercedes-Benz GLS. (Foto: Verskaf)

Mercedes-Benz is ʼn handelsmerk wat tans op al hul silinders vuur… of só het ek gedink. Daar is werklik nie veel in hul produkaanbieding wat vervelig is nie. Já, ek dink wel hulle het té veel bakstyle en opsies beskikbaar… maar dit is die rigting waarin almal beweeg.

Ons het onlangs ʼn week met Mercedes-Benz se deftigste sportnuts deurgebring… die enorme GLS. Die ontwerp is vir my netjies, en groot. Ek hou van groot, ruim rygoed – en my vrou nóg meer. Daar is sewe sitplekke én ʼn redelike stukkie kattebak as die derde ry sitplekke oopgevou is… maar die binneruim stel my egter teleur. Mercedes-Benz het een generasie terug vir my van die mooiste binneruime gehad.

Kyk hoe vergelyk die S-klas sedan met die S-klas sportnuts se binneruim:

As ʼn mens na die twee foto’s kyk lyk die GLS se binneruim ʼn bietjie vervelig. Ek is nie oortuig deur die reghoekige lugopenings nie, en ook daai vreemde dwars latte op die paneelbord. Verder is die binneruim heel gemaklik en al die sitplekke elektries verstelbaar, selfs die tweede en die derde rye.

Die GLS het ʼn indrukwekkende veiligheidspesifikasie met nege lugsakke, ABS met EBD, remhulp, stabiliteit- en vastrapbeheer so wel as botsingwaarskuwing, baanbeheer en Mercedes-Benz se Drive Pilot-stelsel wat self die baan sal hou op ʼn snelweg terwyl jy net liggies aan die stuurwiel vashou.

Dit bring my by die GLS se beste, en tweede slegste punt. Die GLS 400d word aangedryf deur Mercedes-Benz se turboaangejaagde 2,9 inlynsessilinder dieselenjin. Die 243 kW en 700 Nm wat hy bied is fantasties, én hy is behoorlik verfyn sodat daar nie allerhande aaklige dieselgeluide die kajuit binnekom nie… maar daar is egter een groot probleem. Die 400d enjin is bitter swaar op brandstof. Mercedes-Benz beweer ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 7,9 ℓ/ 100 km wat hulle in ʼn laboratorium bereik, maar in die werklikheid is 10 ℓ/ 100 km op die oop pad en 16 ℓ/ 100 km in die dorp die beste wat jy gaan bereik… vir ʼn diesel is dit glad nie goed nie.

Op die pad is waar ek die GLS se swakste punt ontdek het. Aanvanklik het ek gedink die GLS se rit is uiters sleg weens bande wat 3,2 bar gepomp is, maar nadat ek dit afgeblaas het na die voorgestelde 2,1 bar het die GLS steeds redelik hard gery. Indien die teer sleg raak, is die GLS glad nie tevrede nie. Dit, op ʼn sportnuts wat veronderstel is om die S-klas se ewenaar te wees, is onaanvaarbaar. Die GLS hoef nie soos ʼn sportmotor te hanteer nie – dit kan hulle vir die AMG-modelle los, dié een moes lieflik soepel en sag ry.

Verder, behalwe vir die slegte rit, swak brandstofverbruik en ongeïnspireerde binneruim is die eksterieur ontwerp mooi, en die bougehalte uit die boonste gestoeltes.

Die reeks lyk só:

Mercedes-Benz GLS400d 4Matic243 kW/ 700 Nm7.9 ℓ/ 100 kmR1 787 840
Mercedes-Benz GLS580 4Matic360 kW/ 700 Nm10 ℓ/ 100 kmR1 971 160

Die reeks word deur ʼn 2 jaar/ onbeperkte km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudgsplan gedek.

Die kompetisie lyk só:

Audi Q7 45TDI Quattro183 kW/ 600 Nm6.3 ℓ/ 100 km1 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 136 500
Land Rover Defender P400 HSE294 kW/ 550 Nm9.9 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplanR1 405 978
Volvo XC90 T8 AWD R-Design300 kW/ 640 Nm2.1 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplanR1 422 500
Toyota Land Cruiser 200 4.5D-4D VX-R195 kW/ 650 Nm10.2 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

9 dienste diensplan

R1 540 300
BMW X7 xDrive30d M Sport195 kW/ 620 Nm7 ℓ/ 100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 811 958
Range Rover Vogue SDV8250 kW/ 740 Nm8.7 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km diensplan en  omvattende instandhoudingsplanR2 398 092

Tussen dié mededingers is die Audi ʼn ware winskoop. Die Defender het my hele hart gesteel en sal waarskynlik my keuse wees. Die Volvo kan elke minuut sy man staan teen die GLS, maar is ook net so swaar op brandstof. Daai 2,1 ℓ/ 100 km is in ʼn laboratorium gehaal en sal nooit in die werklikheid gesien word nie. Die X7 is die GLS se naaste mededinger, en is my keuse as ek streng tussen die twee moet kies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.