Mercedes-Benz A45 AMG

Mercedes-Benz A45 AMG

Mercedes-Benz se gespierde (en duur) A45 AMG
Foto: QuickPic

Wat doen ‘n vervaardiger soos Mercedes-Benz wanneer hulle sien die mededingers neem groot happe uit die warm luikrug- (hot hatch) marksegment?

Hulle doen wat Mercedes goed mee is en bou ‘n voertuig wat nie net kan meeding nie, maar wat toegerus is met die kragtigste 2-liter produksie-enjin wat tans beskikbaar is. Hiervoor het hulle die kundigheid van hulle motorsportfiliaal, AMG, ingespan om ‘n handgeboude 2-liter turbo wat 265 kW die lig te laat sien.

Dit is elke vervaardiger se droom om te streef na die ontwerp van ‘n enjin wat 100 kW per liter kan optower, maar Mercedes het oudergewoonte groot gegaan en 133 kW/liter uit hierdie verstommende ingenieursprestasie gehaal.

Liefhebbers van die A-klas, veral die onlangs herontwerpte model wat heeltemal wegbeweeg het van die regop ‘bussie’, sal verstom staan oor hierdie gespierde model wat lag-lag 250km/h sal haal. Hierdie snelheid word elektronies beperk, want die AMG sal waarskynlik selfs tot nóg vinniger in staat wees. Vanselfsprekend is dit nie ‘n snelheid wat op die oop pad aangedurf moet word nie.

Om al hierdie krag doeltreffend op die pad te hou, word Mercedes-Benz se 4-wielaandrywing (4 Motion) gebruik.

Al hierdie heerlike bestanddele is egter nie goedkoop nie, en die A45 AMG se kleinhandelsprys is in die omgewing van R600 000.

Hiervoor kry jy die wêreld se kragtigste 2-liter produksie-enjin, verstommende brandstofverbruik van 6.9 liter/100km vervaardigersaanspraak), en ‘n briljante 7-gang dubbelkoppelaar outomatiese ratkas. Onder gewone omstandighede is die AMG voorwielaangedrewe, maar wanneer dinge glibberig begin word, skakel die stelsel na die agterwiele oor vir doeltreffende padklouvermoë. Dit gebeur egter net wanneer die voorwiele begin tol.

Al hierdie krag benodig ook gesofistikeerde vering en hier word die bekende en betroubare MacPherson-stelsel gebruik. Agter is daar multi-skakels, soos by duur sportmotors, maar wat hierdie ontwerp nog meer merkwaardig maak is die feit dat hierdie A45 meer soepel en gemaklik op die pad en baan voel as die standaard A 250.

Om die eksklusiwiteitsgedagte nog verder uit te dra is die stikwerk op die leerbekleedsel in rooi, asook die luginlate en die sitplekgordels. My gevoel is egter dat die gebruik van koolstofvesel in die kajuit ietwat oorweldigend is. Hierteenoor is dit moontlik om ‘n volmaakte stuurposisie in te neem en alles pas net reg vir die bestuurder.

In die warm luikrug-marksegment is Mercedes-Benz se A45 AMG tans koning, en mededingers soos Peugeot se 208 GTi, Volkswagen se Golf 7 GTi en selfs die parmantige klein Suzuki Swift Sport staan maar ver agter in die tou wanneer dit by brute krag kom. Trouens, die A45 se 0-100 km versnelling is 4.6 sekondes. Dis die soort syfers waar net die grootmenere soos Porsche en Ferrari saamgesels.

Wanneer jy die dag vir jou hierdie unieke A-klas AMG aanskaf, koop jy nie net ‘n voertuig wat sekerlik die opwindendste in sy klas is nie, maar word jy deel van 46 jaar se spesialis-kundigheid deur die mense van Affalterbach – diegene wat in ‘n klein dorpie naby Stuttgart onder die AMG-naam Mercedes-Benz se reputasie as die vervaardigers van outoppie-motors dramaties nekomgedraai het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.