Mercedes-Benz se indrukwekkende reeks sportnutsvoertuie

Deur Liana Reiners

Dit was speeltyd by die Zwartkops-renbaan toe Mercedes-Benz verlede week ʼn groep motorjoernaliste die geleentheid gegee het om op ʼn glybaan en ʼn kort 4×4-baan in van sy nuutste sportnutsvoertuie rond te kerjakker. Dié reeks bestaan nou uit die GLA, GLB, GLC, GLC-koepee, GLE, GLE-koepee, GLS en G-Klas. Die Mercedes-Maybach GLS sal later sy opwagting maak.

Hoewel die meeste mense Mercedes-Benz waarskynlik met luukse passasiersmotors vereenselwig, het dié Duitse vervaardiger ʼn lang geskiedenis in die mark vir sportnutsvoertuie. Om die waarheid te sê, die legendariese G-Klas is al sedert die 1970’s beskikbaar.

Ter herdenking van die G-Klas se 40ste verjaarsdag het Mercedes-Benz verlede jaar onder meer die eksklusiewe G 400 d 4MATIC bekendgestel. Die vuurwa is nou plaaslik beskikbaar en spog met ʼn 2 925 cc-, sessilinder-turbodieselenjin wat 243 kW en ʼn indrukwekkende 700 Nm tussen 1 200 en 3 200 r/min uitskop. Versnelling van 0-100 km/h neem 6,4 sekondes en die topspoed is ʼn allemintige 210 km/h. Dis glad nie te versmaai in ʼn voertuig so groot soos die G-Klas nie.

Hoewel hulle almal met dieselfde enjin toegerus is, is daar ʼn paar G-Klas-modelle om van te kies. Daar is natuurlik ʼn AMG, wat onder meer met 20-duim-allooiwiele en eksklusiewe AMG-ontwerpkenmerke spog.

Die G-klas lyk só:

Mercedes-Benz G400d Stronger Than Time243 kW/700 Nm9.6 ℓ/100 kmR2 892 840

Mercedes-Benz het ook van die geleentheid by Zwartkops gebruik gemaak om sy grootste en mees luukse sportnutsvoertuig bekend te stel. Die nuwe GLS is groter as sy voorganger en bied dus meer ruimte, maar hy is nog net so gemaklik en maklik hanteerbaar soos altyd. En moenie geflous word deur die aantreklike ontwerp nie; die GLS is ʼn heel behendige veldvoertuig ook. Die kort 4×4-baan het gewys presies waartoe hierdie nuweling in staat is.

Twee variante van die GLS is plaaslik beskikbaar: die GLS 400d 4Matic en die GLS 580 4Matic. Laasgenoemde spog met ʼn geëlektrifiseerde V8-petrolenjin met ʼn ingeboude 48 V- elektriese stelsel en ʼn geïntegreerde aanskakel-opwekker.

Die enjin van die GLS 580 4MATIC-model skop 360 kW en 700 Nm uit en daar is ʼn tydelike ekstra 16 kW en 250 Nm beskikbaar deur die sogenaamde EQ Boost. Die GLS 400 d 4MATIC se enjin lewer 243 kW en 700 Nm.

Albei modelle is toegerus met Mercedes-Benz se 9G-TRONIC- outomatiese ratkas.

Die GLS-reeks lyk só:

Mercedes-Benz GLS400d 4Matic243 kW/700 Nm7.9 ℓ/100 kmR1 854 840
Mercedes-Benz GLS580 4Matic360 kW/700 Nm7.9 ℓ/100 kmR2 045 160

Nog ʼn nuweling in die Mercedes-Benz-stal wat by Zwartkops deur sy passies gesit is, is die GLB. Hy val dalk in die marksegment vir kompakte sportnutsvoertuie, maar hierdie ryding is pure perd en is selfs opsioneel beskikbaar met sewe sitplekke in plaas van die standaardvyf.

Verdere hoogtepunte in die twee modelle wat plaaslik beskikbaar is, sluit in die nuutste hulpstelsels, ʼn gesofistikeerde inligting-/vermaakstelsel bekend as MBUX en moderne viersilinder-petrol- en dieselenjins wat met meer krag en laer brandstofverbruik spog.

In ʼn gekombineerde siklus wissel die brandstofverbruik van die GLB 250 van 7.1 tot 7.4  ℓ /100 km, terwyl die GLB 220d 4MATIC tussen 5.1 en 5.4 ℓ/100 km gebruik. Die GLB 220d 4MATIC is toegerus met permanente vierwielaandrywing en ʼn veldrypakket, wat beteken dat hy oor rowwer terrein sy man kan staan.

Die GLB-reeks lyk só:

Mercedes-Benz GLB250165 kW/350 Nm7.4 ℓ/100 kmR839 760
Mercedes-Benz GLB220d 4Matic140 kW/400 Nm5.5 ℓ/100 kmR846 880

Die baba in Mercedes-Benz se familie van sportnutsvoertuie is die nuwe GLA.

Hierdie buksie is 10 cm hoër, 4 cm wyer en ʼn skrale 1,5 cm korter as sy voorganger en bied nie net meer beenspasie vir die agterste passasiers nie, maar ook meer pakplek in die bagasieruim. ʼn Rits gevorderde hulpstelsels maak die GLA ook veiliger as tevore.

Twee modelle – die GLA 200 en die GLA 200d – is in Suid-Afrika beskikbaar. Die GLA 200 se 1 332 cc-petrolenjin lewer 120 kW en 250 Nm, terwyl die GLA 200d se 1 950 cc-dieselenjin 110 kW en 320 Nm uitskop. Albei enjins is gemoderniseer om te verseker dat hulle kraglewering en brandstofverbruik beter is as vantevore.

Die GLA-reeks lyk só:

Mercedes-Benz GLA200120 kW/250 Nm6 ℓ/100 kmR679 040
Mercedes-Benz GLA200d110 kW/320 Nm5.1 ℓ/100 kmR714 560

Die Mercedes-Benz-model wat egter die motorjoernaliste behoorlik aan die gons gehad het, was die GLE-koepee.

Dit is ʼn besonder aantreklike voertuig en ʼn perfekte kombinasie van luuksheid, elegansie en tegnologie. Boonop lyk hy pure sportnutsvoertuig, al dra hy ʼn koepee-baadjie.

Aanvanklik is net die GLE 400 d 4MATIC Sports-koepee plaaslik beskikbaar. Dié model spog met ʼn kragtige 3.0 ℓ-, sessilinder-dieselenjin wat 243 kW en 700 Nm lewer en hy versnel van 0-100 km/h in 5,7 sekondes.

Die GLE-koepee lyk só:

Mercedes-Benz GLE400d 4Matic243 kW/700 Nm7.5 ℓ/100 kmR1 827 800

Soos reeds genoem, bestaan Mercedes-Benz se reeks sportnutsvoertuie nou uit nege modelle wat wissel van kompak tot groot. Daar is iets om so te sê elke smaak en aanwending te pas. Dis geen wonder dat ʼn derde van Mercedes-Benz se verkope wêreldwyd in dié marksegment val nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.