Mini se nuwe Countryman gaan op reis

(Foto: Verskaf)

As ʼn mens sê jy gaan iewers met ʼn Mini, dink jy dalk dadelik aan ʼn piepklein, ongemaklike en stamperige klein buksie met padhouvermoë, wat só klou dat jou eie sproete om ʼn draai afval. Met die Countryman spesifiek is net een gedeelte in die kol: Die padhouvermoë.

Die res is ietwat van ʼn verrassing.

Mini se Countryman word op BMW se X1-platform gebou. Dit is ʼn ware vyfsitplekvoertuig met ʼn billike kattebak. Ons het onlangs by BMW se xDrive-park in Waterfall bymekaar gekom om die pad te vat – sowat duisend kilometer ver en drie na vier mense per voertuig, terwyl ons gewoonlik twee-twee reis.

Ek sluit dus aan by drie ander kollegas. Almal se bagasie gelaai, stuur ons die Countryman rigting noord tot by die N4, dan oos verby eMalahleni tot by Belfast, Dullstroom, Mashishing (Lydenburg), Sabie, Graskop en toe uiteindelik na die Makalali- private wildreservaat waar ons oornag.

Vir ons voertuig het die reis daarheen sonder voorval verloop, maar dieselfde kon nie van almal gesê word nie. Die paaie in Mpumalanga – veral Mashishing – is verstommend sleg. Laeprofielbande en enorme slaggate is nie maats nie, maar dankie tog vir Lavesh Bennie van BMW wat duisende kilometer afgelê het om seker te maak geen joernalis word agtergelaat nie.

(Foto: Verskaf)

Ons was op dag een in die Mini Cooper S Countryman. Hy word deur ʼn 2.0-viersilinderturbopetrol aangedryf met 141 kW en 280 Nm. Die enjin is gepaard aan Mini se nuwe 7-spoed-dubbelkoppellaarratkas. Werkverrigting is heel sportief: Nul tot 100 km/h duik op in 7,5 sekondes en die Mini haal voluit 226 km/h.

Dit is egter nie waar die Mini uitblink nie. Padhouvermoë is enige Mini se troefkaart.

Op van ons land se beste paaie (afgesien van die slaggate), staan die Countryman kop en skouers bo die meeste ander uit in die padhouvermoë-afdeling. ʼn Mens kan met dié klein sportnutsvoertuig enige bergpas aandurf asof dit ʼn sportmotor is wat onder jou bas sit.

Op dag twee moes ek sommige van die Kaapstadse joernaliste terugneem lughawe toe voordat ek die Mini moes terugbesorg. Hierdie keer was die wiele die doodgewone intree-Cooper-weergawe met sy 1.5-driesilinderturbopetrolenjin; 100 kW en 220 Nm is aan die orde van die dag met dieselfde 7-spoed-ratkas.

Dit is beslis nie ʼn blitsbuksie soos die S nie, maar hy toer heeltemal lekker vir diegene wat nie jaagduiwels is nie.

Dit is maklik om die Mini Cooper en Cooper S Countryman op te som.

Dit is gesinsbuksies vir dié wat lief is vir die handelsmerk, maar meer ruimte nodig het. Die voertuig spog met rateltaai bougehalte en goeie werkverrigting. As jy ʼn Mini-liefhebber is, kyk gerus – jy sal nie spyt wees nie.

Die reeks lyk só:

MINI Cooper Countryman100 kW/220 Nm6,3 ℓ/100 km9,7 sek

203 km/h

R599 624
MINI Cooper S Countryman141 kW/280 Nm6,7 ℓ/100 km7,5 sek

226 km/h

R631 004
MINI John Cooper Works All4 Countryman225 kW/450 Nm7,6 ℓ/100 km5,1 sek

250 km/h

R810 040

Die reeks word deur MINI se 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan gedek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Die Goodwoodianer ·

Sub-R600 000 vir ñ Mini? Ek sal eerder ñ goed-opgepasde / gerestoureerde 1977 Mini 1275cc koop teen tussen R45000 en R75000. Pragtige klein voertuie. Al hierdie nuwe goed is opgeblaasde plastiek op wiele. Ek kom heel duidelik vanuit die verkeerde generasie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.