Mini se vierdeurvuurpyle kan aanhou én uithou

Foto: Mini Countryman JCW.

Een van die beroemdste name in die motorwêreld is John Cooper. Hy het die Formule 1-wêreld op sy kop gedraai toe hy die enjin in sy renmotors agtertoe geskuif het. Cooper het in ʼn stadium sy hande op ʼn Mini gekry. Só is die Mini Cooper gebore. Daai tjorrie het ook daarna ʼn klomp wedrenne gewen.

Nadat BMW vir Mini oorgekoop het, het Michael Cooper, John se seun, ʼn gaatjie in die mark gesien vir ʼn warm Mini, nes soos daai wat sy pa gemaak het. Hy het toe die maatskappy John Cooper Works gestig.

Om vir jou ʼn idee te gee hoe warm: Die jongste JCW Mini Countryman en Clubman het ʼn vuurvretende 2.0 viersilinderturbopetrolenjin wat ʼn behoorlike 225 kW en 450 Nm lewer. Dit is die sterkste Mini’s in die vervaardiger se geskiedenis van 60 jaar. Die enigste manier hoe die JCW met daai hoeveelheid krag kan regkom is te danke aan BMW se 8-spoed sport-outomatiese ratkas en ʼn meganiese beperkte-glipewenaar voor- en vierwielaandrywing. Die JCW Clubman kan hol van stilstand tot 100 km/h in 4,9 sekondes en die Countryman in 5,1 sekondes voordat hulle albei kan aanhou tot ʼn indrukwekkende 250 km/h.

Die binneruim van die Countryman en Clubman is eg Mini, behalwe vir die feit dat albei modelle tog prakties is. ʼn Mens kry steeds puik bougehalte en ʼn verstommende opsielys om van die kies sodat jy jou eie Mini kan verpersoonlik nes jy hom wil hê. Die Clubman is my gunsteling. Dit voel nes ʼn Mini, maar het ses deure. Vier vir passasiers en twee agter vir die kattebak.

Dit bring my by die een eienskap wat ʼn Mini definieer – maar dit gaan nou té ver. ʼn Mini is veronderstel om soos ʼn knortjor te voel. Dit beteken dat die karretjie verskriklik rats moet wees met uitermatige direkte stuurgevoel en terugvoer. In beginsel is dit puik. Mini het dit ongelukkig nou ʼn treetjie te ver geneem. Die sinergie tussen die ewenaar, vierwielaandrying, runflat bande en 19” wiele is net te veel en die Mini voel benoud, nie rats nie. ʼn Mens kan dan nie ʼn bergpas met egalige insette aandurf nie, want elke hobbeltjie beïnvloed die stuurwiel en dan spring die Mini heen en weer. Die stuurwiel se sensitiwiteit moet so 20% minder gemaak word, dán sal alles weer amper piekfyn wees.

Indien Mini hul nuwer warm modelle kan kry om minder wrinkrag-stuur te hê, sal dit ʼn reuseverbetering wees. Selfs met die vierwielaangedrewe modelle, indien jy die versneller plant trek die stuurwiel heen en weer in jou hande en dit is ietwat van ʼn takie om die JCW in ʼn reguit lyn te laat versnel.

Die JCW is steeds maklik om op te som. Die Mini’s is pragtig gebou en die ontwerp vars, met ʼn nostalgiese element. Ek hou daarvan. Die JCW-enjins is verstommend sterk en die 8-spoed ratkas puik. Ek hou net nie van die stuur nie.

Die reeks lyk só:

Mini John Cooper Works ALL4 Clubman225 kW/ 450 Nm7.7 ℓ/ 100 km4.9 sek250 km/hR647 566
Mini John Cooper Works ALL4 Countryman225 kW/ 450 Nm7.9 ℓ/ 100 km5.1 sek250 km/hR714 072

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/ onbeperkte km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris Ws ·

Die naam MIni is misleidend.Waarom hy nie ‘n BMW Mini of what ever genoem word nie weet nugter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.