Mites rondom die Duitse Autobahn-padstelsel

Foto geneem naby Ayres Rock in die sogenaamde Red Centre en is spesifiek opgerig vir Amerikaanse en Duitse toeriste wat hulle aan die verkeerde kant van die pad bevind. Foto: Bernard K Hellberg

Foto geneem naby Ayres Rock in die sogenaamde Red Centre en is spesifiek opgerig vir Amerikaanse en Duitse toeriste wat hulle aan die verkeerde kant van die pad bevind. Foto: Bernard K Hellberg

Daar word dikwels beweer dat Nazi-diktator Adolf Hitler vir die bou van die Duitse Autobahn-padstelsel verantwoordelik was.

Die waarheid lyk egter ietwat anders deurdat die destydse burgemeester van Keulen en latere Bondskanselier, Konrad Adenauer, reeds in 1932 ‘n pad tussen Keulen en Bonn – die sogenaamde A555 – laat bou het.

Later sou die Nazi’s ‘vaderskap’ van die projek opeis en daar bestaan verskeie foto’s van Hitler, met ‘n graaf in die hand, by die beginpunt van nog ‘n gedeelte van die Autobahn-netwerk.

Hoe dit ookal sy, vir Suid-Afrikaners, soos vir talle ander buitelanders, het die Autobahn ‘n unieke bekoring – veral danksy die mite dat daar geen snelheidsperke geld nie.

Tans bestaan die stelsel uit ‘n minimum van twee tot vier bane in elke rigting met aansluitingsbane. Die twee strome verkeer word fisies uitmekaar gehou deur dubbele botsversperrings in die middel.

Aangesien die Autobahn-stelsel oor verskeie dekades heen ontwikkel is, gaan uitbreiding en voortdurende opgradering onverpoosd voort. Slegs topgehalte bolaag – wat vriesbestand is – word gebruik, en daar is geen dramatiese op- en afdraendes soos hier by ons nie. Trouens, op verskeie plekke op die A9 tussen Berlyn en Stuttgart is daar dramatiese boogbrûe oor valleie om die pad gelyk te hou.

Die negatiewe hiervan is egter dat sigversperrings aangebring word sodat motoriste hul oë op die pad moet hou – eerder as om die prentjiemooi dorpies doer onder in die vallei te bewonder. Teen 200 kilometer per uur (en selfs nog hoër) maak dit sekerlik sin om eerder die pad dop te hou.

Benewens die hoë snelhede bly verkeersdigtheid een van die Autobahn se groot probleme. Alhoewel vragmotorverkeer oor naweke drasties afneem, bly hier vragmotors gewoonlik in die regter (stadige) baan waar ek al konvooie van tot 153 voertuie gesien het wat almal teen 80 km/h ry – met ‘n behoorlike volgafstand.

Die grootste Autobahn-mite is egter die onbeperkte Geschwindigkeit, oftewel spoedgrens. Dikwels is daar ‘n Stau, wat ons sommer ‘n traffic jam noem. Wanneer dit gebeur, dui elektroniese oorhoofse inligtingskerms ‘n laer snelheid aan. En hierdie laer snelheid is nie bloot net ‘n hoflike versoek nie.

Gewoonlik begin dit by ‘n afskaal tot 130 km/h en dan stapsgewys laer todat die Stau opgelos is en die motoriste weer koers kry.

‘n Goue reël op die Autobahn is dat niemand in die vinnige baan bly nie. Sodra daar verbygesteek is, word na regs oorbeweeg na die toepaslike stadiger baan. Dis iets wat dom Suid-Afrikaners gerus kan onthou wanneer hulle die R21 tussen Pretoria en die lughawe aandurf.

Ander Autobahn-reëls wat nie onderhandelbaar is nie, is die gebruik van toeters of flitsende ligte. Al wat die Duitsers kan doen is om so na moontlik aan die stadige verkeer voor hom te ry sodat die boodskap tuisgebring kan word dat iemand wil verbysteek.

Suid-Afrikaanse motoriste kan hulle maar net verwonder aan die paddissipline in Duitsland, asook die wetsgehoorsaamheid. Dink ook gerus daaraan dat daar tans in the omgewing van 14 000 kilometers van hierdie superpaaie is.

Bygesê, wanneer daar wel ‘n botsing op die Autobahn is, is dit gewoonlik ‘n katastrofe van epiese omvang.

En vir die Duitsers wat so graag teen verstommende snelhede ry – en hier ek bieg dat selfs ‘n Ford Fiesta 1.5 turbodiesel 175 km/h kan haal – is daar ‘n land soos Australië waar niemand ooit vinniger as 120 km/h ry nie.

En hierdied einste Duitsers word pertinent daaraan herinner – wanneer hulle ‘n land soos Australië besoek, dat ander mense dalkies aan die anderkant van die pad ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae