Mitsubishi bemeester CVT met Eclipse Cross

Ek het onlangs drie kruismodelle met mekaar vergelyk. Die Eclipse Cross het koning gekraai oor die ander twee weens sy vierwielaandrywingstelsel en goeie prys. Ek het dié week ʼn ander Eclipse Cross onder hande gehad – en tussen hulle is hy steeds die baas van die plaas vir twee ander redes … sy enjin, en sy ratkas.

Die ontwerp is steeds netjies. Die toetsmodel was ʼn pragtige pêrelwit. Netjies. Die agterruit sal vir party baie vreemd wees, en dit kan die sig in die truspieëltjie belemmer, maar ʼn mens raak dit vinnig gewoond. Die binneruim is redelik netjies afgerond met billike materiale … maar dis by luukshede waar die Mitsubishi sy spiere begin bult.

Daar is leer bekleedsel, verhitte sitplekke voor, klimaat- en spoedbeheer en ʼn raakskerm-inligtingstelsel met Android Auto en Apple CarPlay. Outomatiese ligte en ruitveërs verseker dat ʼn mens net mooi op die pad voor jou kan fokus. Die enigste kwaal is dalk die vlak kattebak weens die volgrootte spaarwiel onder die vloer.

Dit bring my by dié Eclipse Cross se troefkaarte. Die nuwe 1,5 turboaangejaagde viersilinderpetrolenjin gepaard met die palwisseltransmissie is ʼn juweel. Die enjin bied 110 kW en 250 Nm – indrukwekkend vir ʼn 1,5. Die kragsyfers is wel nie die hele prentjie nie. ʼn CVT met ʼn atmosferiese enjin het die gawe om vreeslik in die toerestrek rond te soek soos ʼn mens jou insette op die versneller verander.

As jy hom trap, dan klim die omwentelinge tot heel bó – en die klink amper altyd aardig. Die nuwe Eclipse Cross doen dit glad nie. As ʼn mens rustig rondploeter dan bly die toere onder 2 000 r/min, en soos ʼn mens harder versnel klim dit effens tot mooi in die wringkragband en mens kry so lekker elastiese versnelling sonder enige aardige geraas. Een van die bestes wat ek al teëgekom het. 0 – 100 km/h neem ʼn ratse 8,9 sekondes, en as ʼn mens nie jaag nie kan die Mitsubishi 7,7 ℓ/ 100 km handhaaf.

Op die pad toer die Eclipse Cross heel lekker. Sy rit kan effe hard raak, maar dit verminder weer bakrol en verbeter padhouvermoë – maar ek sou beslis ʼn effe sagter vering verkies. Die Eclipse Cross spog met sewe lugsakke, ABS en EBD sowel as stabiliteitsbeheer.

Dit is baie maklik om die Eclipse Cross op te som. Dis ʼn gemaklike buksie wat beter grondvryhoogte bied as ʼn luikrug, en is kenmerkend ʼn kruismodel – iets waarna heelwat mense op soek is. Die enjin en ratkas kombinasie is regtig indrukwekkend, en tussen sy mededingers billik geprys.

Die reeks lyk só:

Mitsubishi Eclipse Cross 2.0 GLS110 kW/ 198 Nm7,9 ℓ/ 100 kmR419 995
Mitsubishi Eclipse Cross 2.0 GLS AWD110 kW/ 198 Nm8,1 ℓ/ 100 kmR459 995
Mitsubishi Eclipse Cross 1.5T GLS110 kW/ 250 Nm7,7 ℓ/ 100 kmR469 995

Die reeks word gedek deur ‘n 3 jaar/ 100 000 km waarborg en 5 jaar/ 90 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Suzuki Vitara 1.4T GLX outo103 kW/ 220 Nm5,9 ℓ/ 100 km5 jaar/ 200 000 km waarborg

4 jaar/ 60 000 km diensplan

R416 900
Honda HR-V 1.8 Elegance105 kW/ 172 Nm6,8 ℓ/ 100 km5 jaar/ 200 000 km waarborg

4 jaar/ 60 000 km diensplan

R472 500
Nissan Qashqai 1.2T Tekna85 kW/ 165 Nm6,2 ℓ/ 100 km6 jaar/ 150 000 km waarborg

3 jaar/ 90 000 km diensplan

R488 600

Tussen die mededingers het almal hul sterkpunte. Die Vitara is ʼn ware winskoop – maar die Eclipse se enjin en ratkas kombinasie is bobaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wielspore ·

Ek sien Toyota het sy Corolla Cross in Thailand bekend gestel en met dieselfde asem word genoem dat dit dalk die geheime voertuig is wat Toyota SA binnekort gaan vervaardig. Dit wil voorkom of die voertuig in lyn is met die VW T Roc en ek dink hierdie nuwe model van Toyota gaan behoorlik die moersleutel in die ratkas gooi.
Lekker ry!

Johan ·

Nogal interessant dat Mitsubishi’s so baie, en gereelde dekking kry in Maroela Media… (In gedagte geneem dat Mitsubishi geensins meer ‘n noemenswaardige rolspeler in die SA mark is nie!)
Ja, Mitshibishi se voertuie is van hoogstaande gehalte, lieflik om te bestuur, innoverend en baie betroubaar, MAAR:
-Die swak nuwe verkope, en vrot inruilwaardes van ALLE Mitsubishi voertuie dui dui dat iets groot fout is!
-Die fout sou wees hul piepklein handelaarsnetwerk, en soms met bevraagtekenbare klientediens…
-Dan ook natuurlik Mitshibishi se belaglike duur onderdele!!! ‘n Onderdeel soos ‘n “airflow mass sensor” op ‘n Colt 2000i kos R12 500-00 by Mitsubishi agente – en daars geen voorraad in SA nie (ook geen “pirate” onderdeel beskikbaar nie), terwyl dieselfde onderdeel op ‘n Hilux 2.0 VVT slegs R3400-00 kos – en die onderdeel is onmiddelik beskikbaar by Toyota agentskap. Hoe op aarde kan Mitshibishi amper 4X die prys van Toyota vra?!!! Dis malligheid…
Dus, vermy liefs!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.