Mitsubishi Outlander – groter en beter

Foto: Mitsubishi

Foto: Mitsubishi

Om een of ander rede verkoop Mitsubishi se 4×4-voertuie soms ‘n bietjie traag. Trouens, volgens die jongste Naamsa-syfers (National Association of Automobile Manufacturers) het slegs 37 Outlanders in Maart van eienaar verwissel. Dit was egter die model wat intussen vervang is deur ‘n groter en selfs nog stewiger nuwe generasie Outlander.

‘n Onlangse kort bekendstellingsrit het weer eens bewys gelewer dat die naam Outlander voortaan in grote getalle op ons paaie gesien gaan word. Dis nie om dowe neute nie dat Mitsubishi – met sy 12 oorwinnings in die uitmergelende  Dakar-ren – nog dekadeslank as die kampioen van die Dakar bekend sal staan.

In hierdie opsig is die nuwe Outlander ‘n kleinkind van die talle Dakar-wenners. Gehard, dog gemaklik in die beste tradisies van luukse passasiersmotors, bied die Outlander plek vir tot sewe insittendes, ‘n wakker 2.4-liter petrolenjin wat 123 kW en 222  Nm wringkrag optower, ‘n lekker hoë stuurposisie en die ideale sitplekhoogte vir in- en uitklim.  Die 18” allooiwiele en die volgrootte noodwiel is die ideale teenvoeter vir ons land se slaggate wat met stukkies teer aanmekaar gelas is.

Wat veiligheid betref, spog die nuwe Outlander met ‘n 5-stergradering in die Europese N-CAP sowel as die Australiese ANCAP-botstoetsprogramme.

Die Outlander het vroeg in 2013 ‘n volle modelverandering ondergaan, en in die lande waarin die Mitsubishi eerste bekend gestel is, was die verkope uitstekend. Die algeheel nuwe Outlander omvat klein verfrissings aan die ontwerp wat die nuweling groter en indrukwekkender laat voorkom. Die vermindering in lugweerstand dra ook by tot die (vervaardigersaanspraak) brandstofverbruik van 8.2 liter/100 km wanneer daar beskaafd en rustig gery word.

Maroela Motors se toetsmodel was die luukse  GLS Exceed wat in staat  is tot ‘n maksimum snelheid van 195 km/h en 750 kg kan sleep.

Iets wat nie noodwendig in almal se smaak val nie, die palwisselratkas (CVT), was egter ‘n plesier om te gebruik. Skakeling is blitssnel en daar is verskeie aandrywingskeuses. Dit sluit in 4WD, wat elektronies beheer word. In die ECO-modus gebruik die stelsel tweewieldryf (2WD) in normale bestuurstoestande, maar wanneer  een van die wiele begin gly op ‘n los of gladde oppervlak, word 4WD outomaties geskakel. Die stelsel het drie modusse, te wete 4WD ECO, 4WD AUTO en 4WD LOCK-UP.

Die stuurstelsel is ‘n tandstang-en-kleinrat-stelsel met elektriese kragstuurhulp. Die stuurwiel kan op en af én teleskopies verstel word.

Die nuwe Mitsubishi is besonder ruim en bied baie pakplek vir ‘n SNV in hierdie klas. As ‘n 7-sitplekker kan die tweede en derde rye platgeslaan word. Toegang tot die derde sitplekry is maklik danksy die eenvoudige vorentoevou-aksie van die agtersitplekke.

Maar die glanspunt van die jongte Outlander-modelreeks is die uitstekende vlak van die standaardtoerusting. Dit sluit in ‘n dubbelsone-, outomatiese lugversorgingstelsel, sleutellose bedryfstelsel, ‘n hoëgehalte-raakskermklankstelsel, snelheidsbeheer, veeldoelstuurwiel, spaantipe ratskakelstelsel, ‘n inligtingstelsel, parkeerafstandbeheer, Bluetooth met handvrye stembeheer vir ‘n selfoon, ‘n USB-sok en ‘n terugtrekbare dekseil vir die groot bagasieruim.

Sitplekke is met leeroorgetrek  (met verhitting vir die bestuurder en die voorste passasier),  en daar’s ook ‘n Rockford Fosgate-klankstelsel met nege luidsprekers, ‘n trukamera, glassondak en ‘n elektries beheerde bakklap..

Veiligheid was nog altyd ‘n belangrike oorweging vir Mitsubishi se ingenieurs, en hier blink die Outlander uit met sewe lugsakke, ABS-sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding (ERV), Aktiewe Stabiliteits- en Traksiebeheer (ASTC), wat remhulp (BA) en heuwelwegtrekhulp (HAS) insluit. Die Outlander word vervaardig aan die hand van Mitsubishi se befaamde RISE (Reinforced Impact Safety Evolution)-bakkonstruksie.

Volgens Wynand Pretorius, hoofbestuurder van Mitsubishi SA, sal nog weergawes  bekend gestel word sodra hulle vir ons streek beskikbaar word. Dit sluit dieselmodelle in en dalk ook  die wêreld se eerste produksie-inprophibried, wat die Japanse Motor van die Jaar-Innoveringstoekenning gewen het.

Die Mitsubishi Outlander GLS Exceed kos R429 900 is word gedek deur ‘n waarborg van 3 jaar/100 000km en ‘n diensplan van 5 jaar/90 000km.

Versiening is elke 15 000 km.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.