Moderne Mini nou elektries

Indien jy al ʼn moderne Mini onder hande gehad het, sal jy dit net op een manier kan opsom… opwindend. Die piepklein buksies boks ver bó hul gewigsklas. Dit is een van die min suksesvolle nostalgiese herlewingsprojekte.

Baie mense sal die bestuurservaring van ʼn Mini in Ingels opsom as electrifying en nou is die Mini werklik electrified! Welkom aan die splinternuwe Mini Cooper SE. Dié Mini is ʼn battery-aangedrewe elektriese voertuig.

Daar is ʼn paar goed wat vir my beïndruk van die SE. Eerstens – dis net ʼn Mini. Dit lyk nie soos ʼn vlieënde piering nie. Dis ʼn doodgewone tjor; mense wat dus nie weet waarvoor om te kyk nie, sal nie eers weet jou tjorrie ry met elektrisiteit nie. Tweedens is die fantastiese karakter waarvoor Mini bekend is, steeds daar. Elektriese voertuie het oombliklike krag, en trek soos ʼn vuurpyl.

Ek het ʼn 80 km-roete met die Mini in Johannesburg gery – ʼn mengsel van snelweg en stadsverkeer. Ek het 16 kWh per 100 km gehandhaaf – lekker lig vir ʼn elektriese voertuig. Dit beteken dat ek in werklikheid 203 km sal kan ry met die Mini; dan is hy heeltemal pap.

Die laai-infrastruktuur in Suid-Afrika is beslis besig om teen ʼn goeie pas te vorder. Ek sou kon argumenteer dat indien ʼn mens baie versigtig is, dit nou moontlik sou wees om met dié einste Mini Kaapstad te kon haal van Johannesburg af. ʼn Mens kan op vinnige DC-laaiers 80% haal in 35 minute op ʼn 50 kW-laaier. Daar is by verskeie BMW-, Nissan-, Porsche- en Jaguar Land Rover-handelaars laaiers. ʼn Mens sal wel moet seker maak dat jy die regte kaart vir elkeen het. Gridcars se netwerk lyk ook al fantasties.

Verder is die ontwerp en die binneruim pure Mini. Die ritgehalte is vir my effe beter in die SE omdat hy so amper 300 kg swaarder is as ʼn gewone Cooper S. Die SE bied 135 kW en 270 Nm. Van 0-100 km/h neem 7,3 sekondes en hy is elektronies beperk tot 150 km/h. Mini maak aanspraak op ʼn reikafstand van 217 km onder optimale omstandighede.

Mini bied altyd puik bougehalte en ʼn bitter sterk spesifikasievlak. Die Harman Kardon-klankstelsel in die Mini is uit die boonste rakke en ʼn mens kan jou musiek terdeë geniet omdat die tjorrie so stil is.

Dit is maklik om die Mini op te som. Dis ʼn fantastiese, stylvolle stadskarretjie. Die feit dat hy elektries is, neem die Mini na die volgende fase van sy lewensiklus. Ek is gek oor die tegnologie. Dit is ʼn jammerte dat die elektriese voertuie duur is in Suid-Afrika, maar daai blaam lê ons ongelukkig op die regering se stoep.

Die reeks lyk só:

Mini Cooper SE S135 kW/270 Nm17 kWh/100 kmR642 000
Mini Cooper SE L135 kW/270 Nm17 kWh/100 kmR722 000

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-voertuig- en 8 jaar/100 000 km-battery-waarborg sowel as ʼn 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die Mini SE sal binnekort in vertoonlokale beskikbaar wees, en sal dán ook Suid-Afrika se bekostigbaarste elektriese voertuig wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae