Moolmanshoek – waar 4x4s en hulle base beproef word

Die uitdagende Langesnek-sandsteenformasies Foto: Bernard K Hellberg

Die uitdagende Langesnek-sandsteenformasies Foto: Bernard K Hellberg

Vir die meeste Hoëveld-toeriste begin en eindig ‘n besoek aan die Oos-Vrystaat in Clarens. Welwiswaar ‘n oulike klein dorpie wat van sy sjarme verloor het toe die eerste Pam Golding-reklameborde hul verskyning gemaak het. Desondanks is Clarens ‘n besoek en vertoef werd.

Maar dis die pad na Rosendal wat jou uiteindelik – sowat 45 kilometer anderkant Clarens – by Moolmanshoek sal uitbring. Hierdie private wildreservaat met sy eksklusiewe 16 kamers (almal met badkamer en suite) is die 4×4-entoesias se droom.

En wanneer jy jou kraan in die stad oopdraai en die melkerige, chloor-gegeurde water jou irriteer, waardeer dan gerus die smaaklike deur sandsteenformasies gefiltreerde fonteinwater wat gratis uit elke kraan stroom.

Vanweë sy ligging is Moolmanshoek ‘n koue plek in Julie. Met ons besoek was dit snags -2°C – volgens ons gashere glad nie koud nie, “want ‘n mens kry hier eers koud wanneer die kwik -10°C lees”. Gelukkig het alle beddens elektriese komberse, terwyl kaggels ‘n standaardkenmerk van die meeste kamers is.

Die amptelike gradering van Moolmanshoek word as 4-ster aangegee, maar die gehalte van die verblyf en die puik maaltye deur opgeleide sjefs hoort eerder in die 5-ster kategorie.

Vir die 4×4-kenner is daar kategorie 4 roetes (vyf is die maksimum) wat jou en jou voertuig voetjie-vir-voetjie oor skuins sandsteenformasies sal laat aankruip – tot by senutergende rotswande wat net aangedurf kan word wanneer ‘n kundige instrukteur presiese instruksies gee.

Die 10-kilometer Langesnek-roete neem tussen twee en drie ure – afhangende van die voertuig en bestuurder se vermoëns – en dis juis hier waar Maroela Motors onlangs deur GM se Isuzu-manne genooi is om hul voertuie te kom ervaar.

Tydens die rit van Pretoria na Moolmanshoek (vier ure) het die Isuzu ook gewys waarom dit so gewild is. Die dubbelkajuit se ritgemak is soortgelyk aan dié van ‘n passasiersmotor, terwyl die betroubare turbodiesel teen 120 km/h rustig voortluier teen slegs 2 100 omwentelinge per minuut – en dit terwyl brandstofverbruik (vier mense plus bagasie) op 7.7 liters/100 km te staan gekom het.

Moolmanshoek in die winter met die mini-Serengetivlakte in die voorgrond en die bekende Visierskerf-piek in die verte Foto: Bernard K Hellberg

Moolmanshoek in die winter met die mini-Serengetivlakte in die voorgrond en die bekende Visierskerf-piek in die verte Foto: Bernard K Hellberg

Om Langesnek mee aan te durf, het die keuse geval op die 130 kW 3-liter dubbelkajuit wat met lae strek (low range) en ewenaarsluit (diff lock) weer eens bewys het dat Isuzu se bakkies geen tree agteruit staan vir enige mededingers in die Suid-Afrikaanse mark nie. Trouens, die 2 400 meter hoë Langesnek was kinderspeletjies vir die Isuzu en selfs redelik onervare bestuurders het die roete suksesvol afgelê.

Maar Moolmanshoek is nie net vir die 4×4-entoesias nie. Die reservaat self bied veelvuldige ontspanningsmoontlikhede soos bergfietsry, staptogte en geleenthede vir entoesiastiese voëlkykers wat sal probeer om so veel as moontlik van die 250 spesies wat by Moolmanshoek voorkom, op hul lyste te kry.

Gelukkig is ons nou in die digitale era wat fotografie betref, want in die ou 35 mm filmdae sou enige fotograaf homself bankrot gekiek het aan rolle en rolle kleurfilm – dis wat Moolmanshoek se skoonheid aan ‘n mens doen.

‘n Unieke kenmerk van Moolmanshoek is ook die bekende Visierskerf-piek (2 407 m) en die ewe bekende “mini Serengeti” vlakte wat troppe swart wildebeeste, springbokke, blesbokke, elande en ander wild voorkom.

Met die Kersiefees wat in November in Ficksburg gehou word – sowat 38 kilometer van Moolmanshoek af – kan die reservaat met vrymoedigheid as ‘n oorblybestemming aanbeveel word.

Laaste woord:

Tydens ons besoek aan die reservaat, het ek op hierdie interessante brokkie geskiedenis (geraam in ons kamer) oor die oorsprong van die naam “Moolmanshoek” afgekom:

“By his Excellency, the Lieutenant-governor of the Orange River Colony, in the name and on behalf of His Majesty, Kind Edward the Seventh, by the Grace of God, of the United Kingdom of Great Britain, and Ireland and of the British Dominions beyond the seas, King, Defender of the Faith, Emperor of India.

I do hereby grant in perpetual quitrent, unto

Andries Johannes Moolman, farmer, a piece of land named Moolmanshoek district No 151, being the farm Moolmanshoek and Landdros Robertson No 217 situated in the district of Ficksburg in the Orange River Colony in extent 2058 morgen and 192 square roods as defined in the diagram of survey dated Feby 1904….”

(Dis nou die einste Edward by wie se begrafnis in 1910 al die keisers, konings, tsars en staatshoofde van Europa byeen was voordat hulle mekaar vier jaar later aan die keel gegryp het met die begin van die Eerste Wêreldoorlog).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.