Ek het onlangs in ʼn artikel gepraat van voertuie wat nie iets spesifiek beter doen as hul mededingers nie. Gelukkig het Mercedes-Benz nie daardie probleem met hul opgeknapte GLC nie. Kom ek verduidelik hoekom.
Ontwerp
Ek is nie ʼn voorstander van die vreemde koepee-sportnutsvoertuig-ontwerp nie. Ek sien nie die sin daarvan om die veelsydigheid in te boet ter wille van die ontwerp nie; maar sjoe, die GLC koepee in sy donker grys verf met sy allemintige 20 duim-bande is darem asemrowend mooi. Die nuwe LED-ligte voor en agter lyk ook briljant in die nag.
Binneruim
Verbasend genoeg is dit die meer konserwatiewe benadering in die binneruim wat my beïndruk. Daar is ʼn doodgewone spoedmeter en toereteller, ʼn aanraakskerm vir die inligtingstelsel met knoppies vir die klimaatbeheer, en dit werk fantasties. Ja, die koepee-ontwerp maak die agterruit bitter klein en belemmer sig in die truspieëltjie. Die leerafwerking is puik kwaliteit, nes ʼn mens verwag van Mercedes-Benz, en die bougehalte baie goed.
Enjin
Sjoe… wat ʼn enjin. Viersilinderdieselenjins het die gawe om verskriklik grof te wees en hul kraglewering is amper nooit baie liniêr nie. Dit kom gewoonlik in een reusesprong iewers by 2 500 r/min. Dit is glad nie die geval met Mercedes se splinternuwe 300d-enjin nie. Die kragband voel 3 500 r/min breed van 1 500 tot 5 000 r/min. Vyfduisend in ʼn diesel! Die 300d bied 180 kW en 500 Nm. Mercedes-Benz maak aanspraak op ʼn brandstofverbruiksyfer van 5,9 ℓ/ 100 km. Ons het tydens die toets 8,2 gehandhaaf – maar dit is ʼn werklike syfer, en ons was nie baie sag op die GLC ná ons ontdek het watse goudmyn onder die kap skuil nie. Van 0 tot 100 km/h neem 6,5 sekondes en hy sal aanhou draf tot 231 km/h. Dit is 6,5 sekondes in ʼn diesel sportnuts… fantasties!
Ritgehalte en padhouvermoë
Die ritgehalte in die GLC is puik op mooi paaie, maar as die teer goor raak, begin die tamaai 20”-bande ʼn bietjie sukkel. Ek sal die Merc wel vergewe, want hy lyk fantasties met sy groot tekkies op. Die padhouvermoë is nog ʼn eureka-oomblik. Die GLC kan toer soos ʼn rustige gesinsmotor – maar sjoe, as jy hom in Sport Plus sit, klou hy soos ʼn neet, én sy enjin en ratkas se programmering verander die GLC in ʼn sportmotor.
Opsomming
Ek moet hier eintlik vir Merc om verskoning vra. Ek het ʼn tydjie terug ʼn GLC 43 AMG gehad en dit was fantasties. Toe hulle nou vir my sê ʼn viersilinderdiesel is op pad toe dog ek… ai. Maar kom ek stel dit só: Die 300d in die GLC is moontlik die beste viersilinderdieselenjin wat ek al ooit gery het… punt. Dit is die eerste diesel wat ʼn paar persoonlikhede het, hy kan toer, maar as jy hom trap, gaan daar ʼn bom af wat die horison verorber sonder om jou hele salaris in brandstof in te sluk. Dis fantasties. Indien jy in die mark is, en die geld het, moet beslis nie die GLC miskyk nie. Ek sal wel die gewone GLC koop – nie die koepee nie en ʼn vrag vol geld bespaar, maar daar is mense wat die ontwerp verkies bó die praktiese.
Die reeks lyk só:
Mercedes-Benz GLC 220 d 4Matic | 143 kW/400 Nm | 5,5 ℓ/100 km | R786 100 |
Mercedes-Benz GLC 300 d 4Matic | 180 kW/500 Nm | 5,9 ℓ/100 km | R825 100 |
Mercedes-Benz GLC 300 4Matic | 190 kW/370 Nm | 7,4 ℓ/100 km | R842 800 |
Mercedes-Benz GLC 220 d Coupé 4Matic | 143 kW/400 Nm | 5,5 ℓ/100 km | R929 600 |
Mercedes-Benz GLC 300 d Coupé 4Matic | 180 kW/500 Nm | 5,9 ℓ/100 km | R964 200 |
Mercedes-Benz GLC 300 Coupé 4Matic | 190 kW/370 Nm | 7,4 ℓ/100 km | R985 300 |
Die kompetisie lyk só:
Jaguar E-Pace D180 AWD R-Dynamic HSE | 132 kW/430 Nm | 5,6 ℓ/100 km | 5 jaar/100 000 km‑waarborg 5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan | R861 616 |
BMW X4 xDrive20d | 140 kW/400 Nm | 5,6 ℓ/100 km | 2 jaar/ onbeperkte km waarborg 5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan | R875 542 |
Porsche Macan | 185 kW/370 Nm | 8,9 ℓ/100 km | 2 jaar/onbeperkte km‑waarborg 3 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan | R869 000 |
BMW X4 M40d | 240 kW/680 Nm | 6,8 ℓ/100 km | 2 jaar/ onbeperkte km waarborg 5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan | R1 167 464 |
As ʼn mens na diesel kyk, het die GLC ʼn wye nis vir homself uitgekerf. Hy het beslis beter verrigting as al die viersilindervoertuie; die enigste een wat hom kan klop, is die M40d X4, wat jou baie meer uit die sak gaan jaag.