MotoGP
Die 9de ronde van die MotoGP-wêreldkampioenskap is Sondag 15 Julie in Duitsland op die Sachenring gehou. Hierdie baan is die gunstelingjagveld vir die huidige voorloper op die punteleer, Marc Marquez (Repsol Honda). Alhoewel Jorge Lorenzo (Ducati) aanvanklik voorgeloop het, het Marquez in ronde twaalf by sy landgenoot Lorenzo verbygeskuif.
As Marquez ’n oop baan voor hom het, is daar min wat hom stuit. Marquez het sy negende oorwinning in soveel jaar op die Sachenring behaal met Valentino Rossi (Movistar Yamaha) in die tweede plek. Rossi se spanmaat, Maverick Vinales, het die laaste podiumplek verower. Marquez is nou 46 punte voor Rossi in die kampioenskap.
Die Spaanse ryer Dani Pedrosa (Repsol Honda) het hier in Duitsland sy MotoGP-uittrede aangekondig. Hy word volgende jaar vervang deur Jorge Lorenzo, en alhoewel hy verskeie aanbiedinge gehad het, het Pedrosa gesê dat die vonk vir hom uit die sport is en dat hy aan ander prioriteite in sy lewe wil aandag gee. Pedrosa het tot op hede 54 oorwinnings en drie wêreldkampioenskappe behaal.
Moto2
Suid-Afrika se Brad Binder het die naweek sy kontrak met die Moto2-span Red Bull KTM Ajo hernu en hulle daarvoor bedank met ’n sege in die wedren. Dit was sy heel eerste sege in hierdie klas. Binder self was verbaas, want volgens hom was sy agterband goed verweer teen die tyd dat hy by Joan Mir (Marc VDS) verby is om die voortou te neem in die wedren. Hy kon die wedren goed beheer en die oorwinning plaas hom nou sesde op die punteleer, 57 punte agter die voorloper, Pecco Bagnaia (SKY Racing Team VR46). Nog ’n Suid-Afrikaner, Steven Odendaal (NTS RW Racing), het 18de geëindig.
Moto3
Jorge Martin (Del Conca Gresini) het sy voortou in die kampioenskap met sy oorwinnng verstewig. Sy naaste teenstander, Marco Bezzecchi (Redox PruestelGP), was tweede. Die Brit, John McPhee (CIP), was derde. Brad Binder se broer, Darryn, moes uitsit ná ’n operasie aan sy skouer.
Al die ryers in MotoGP gaan nou op ’n welverdiende somer breek, en die aksie hervat weer op 5 Augustus op Brno in die Tsjeggiese Republiek.
Vir meer inligting : www.motogp.com
Hy het baie mooi gery ! Baie geluk Brad
Was ‘n goeie wedren en hoogtyd dat al sy harde werk beloon word. Ek hoop hierdie is die eerste van baie..! Wonderlik om SA se vlag heel bo te sien waai op internationale vlak..!