Motor van die Jaar 2014

Porsche Cayman S Foto: autoguide.com

Porsche Cayman S Foto: autoguide.com

Teen hierdie tyd is dit reeds wyd en syd bekend dat die stalmaat van verlede jaar se wenner – die Porsche Boxster – vanjaar die titel verower het.

Die Porsche Cayman S – staaldakboetie van die afslaandak Boxster – het in ‘n uiters taai kompetisie daarin geslaag om net-net sy neus by die eindstreep voor te kry teen die Volkswagen Golf 7 1.4 TSi 90 kW. Klaarblyklik was die Golf egter nie dramaties genoeg vir die beoordelaars wat sy uiterlike voorkoms betref nie.

Die Audi A3 Sport, met dieselfde enjin as die Golf, maar met handskakeling, was ook een van die uitblinkers en het amper met die topprys weggestap.

Een van my persoonlike gunstelinge, die Lexus IS350 F-Sport, het onverklaarbaar ietwat teruggesak op die finale puntetabel. Van die jurielede het klaarblyklik geglo die binneruim (en veral die instrumentpaneel) is glo verouderd en nie byderwets genoeg nie.

Soos die Lexus was die Mercedes-Benz A45 AMG ook een van my gunstelinge – veral wanneer hierdie motor se verstommende enjin in aanmerking geneem word. Hierdie 2-liter turbo (petrol) is tans sekerlik die modernste en mees gevorderde 4-silinder op die mark. Om 265 kW op te tower is ‘n ongelooflike ingenieursprestasie, maar die prys (in die orde van R640 000) en sy groot dors, het die AMG waarskynlik die titel gekos.

Peugeot se 208 GTi het dapper probeer, maar was duidelik ietwat lig vir ‘n kompetisie van hierdie aard. Dieselfde het gegeld vir die astrante klein Renault Clio 4 met sy indrukwekkende 3-silinder eenliter. My persoonlike probleem met hierdie deelnemer was die ietwat irriterende windgesuis rondom die kantspieëls teen so stadig as 90 km/h. Nogtans het die Renault baie punte gekry vir sy dinamiese werkverrigting uit die 66 kW enjin en sy uiters mededingende prys van slegs R190 000.

Een van die teleurstellings van vanjaar se kompetisie was die Jaguar F-Type. Hierdie deelnemer het geskitter in die afdeling vir krag, versnelling en algemene sportiewe hantering, maar die doodskoot was die feit dat die ontwerpers ‘vergeet’ het om vir pakplek voorsiening te maak! Dit bring mee dat die Jaguar nie eers beskou kan word as ‘n naweek-wegbreekvoertuig nie.

Ek het ook verwag dat nog een van my gunstelinge – die Volvo V40 – beter sou vaar, maar daar is gevoel dat die turbodieselenjin darem te grof klink vir sommige beoordelaars se smaak, terwyl die draaisirkel ook nie van die beste is nie. Nogtans beskou ek die Volvo V40 as een van die stylvolste en modernste op die pad, met ‘n rigtinggewende aantal veiligheidskenmerke wat selfs ‘n revolusionêre lugsak vir voetgangers insluit.

Opsommend – met hierdie oorwinning word Porsche slegs die tweede vervaardiger om twee jaar opeenvolgend met die prys weg te stap. Die vorige handelsmerk wat hierdie prestasie behaal het was Opel – wat dit in 1994 en 1995 vermag het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

So het die motor van die jaar nou ontaard in ‘n sportmotor van die jaar kompetisie?
Moenie ‘n fout maak nie, daai Cayman S is ‘n baie mooi kar. As My vriend my nou net vir ‘n “spin” wil vat :-(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.