Motorbedryf begin weer wiele aan die rol kry

Foto: Pixabay

Junie was die eerste volledige maand van handel dryf vir die motorbedryf sedert die begin van die afsonderingstydperk.

Al het die vonke nie gespat nie, is daar meer as 30 000 voertuie verkoop. Dit is egter ʼn daling van 30,7% in verkope teenoor Junie verlede jaar.

Wesbank sê dat hy ʼn tendens sien dat meer mense voordeel probeer trek uit die laer rentekoerse en hul kredietooreenkomste vasmaak.

Die motorvervaardigers het ʼn onbegonne taak wat voorlê. Jaar op jaar is die passasiersmark reeds 34,8% agter, die ligtehandelsvoertuigmark 42,6% agter, middelslaghandelsvoertuie 32,1% en swaardiensvoertuie 28,3%.

Die topdrie‑handelsmerke in die passasiersegment is Toyota eerste met 8 442 plaaslike verkope en 3 298 uitvoere, Volkswagen met 4 448 plaaslike verkope en 4 731 uitvoere en Hyundai met 2 457 plaaslike verkope.

Die topdrie-modelle in die passasier- en ligtehandelsegmente is almal plaaslik vervaardigde voertuie, wat sal help om die ekonomie aan die gang te skop soos Volkswagen, Toyota, Isuzu en Ford werk om hul fabrieke weer op volle kapasiteit te kry.

Volkswagen se Polo en Polo Vivo was die twee gewildste passasiersvoertuie in Junie. Daar is 1 403 Polo’s en 1 129 Polo Vivo’s verkoop, gevolg deur 961 Toyota Fortuners. In die ligtehandelsvoertuigsegment was die Toyota Hilux die topverkoper met 3 131 bakkies wat verkkop is, gevolg deur Isuzu se D-Max met 1 668 verkope en Ford se Ranger met 1 242 bakkies wat verkoop is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.