Motorfietse: 2017 se hoogtepunte

Die Kawasaki Z 1000 SX (Foto: Brian Cheyne)

Met die nuwe jaar wat met skoon bladsye oop voor my lê, het ek gaan dink oor verlede jaar se fietse. 2017 was ʼn ryk jaar vir motorfietse en soms knyp ek myself nog oor wat ek kon meemaak. Ek het gaan terugdink aan die stuk of 40 fietse wat ek in 2017 gery het en so ʼn paar uitgelig wat vir my uitgestaan het.

Die Triumph Bonneville T120 (Foto: Brian Cheyne)

Die hele Triumph Bonneville- reeks

Triumph betree nou onseker tye want die verspreidingsregte is van die huidige verspreiders weggeneem, en as Triumph nie gou ʼn ander verspreider kry nie gaan ons dalk teen einde Februarie nie meer Triumphs te koop sien in Suid-Afrika nie. Dit sal jammer wees, want die Bonnevilles het ʼn unieke karakter en hoewel nie almal saamstem oor hoe hulle lyk nie, bly dit nou maar een maal lekker fietse om te ry.

Die Indian Scout Sixty en die BMW310R

Hierdie twee fietse was vir my die verrassings van 2017. Die klein BMW is ʼn juweel van ʼn fiets, en ek kan hom nie genoeg aanbeveel nie. Vir so ʼn klein fietsie het hy baie woema, en ek sal maklik my eie geldjies uitgee op so een. Die eerste klomp wat geland het, het nog kwaliteits-jakkalsies wat pla, so wag maar ʼn rukkie totdat BMW alles uitgesorteer het. Die Indian het al my verwagtinge oortref. Dis een van daardie fietse wat ʼn sekere verwagting by jou skep as jy hom sien, maar as jy hom ry, verras hy jou op alle terreine. Selfs die prys was ʼn verrassing.

Die Harley Davidson Breakout (Foto: Brian Cheyne)

Harley-Davidson

Ek het ʼn Harley-Davidson Street Glide van Oos-Londen tot in Pretoria gery in een dag, en my oë het oopgegaan vir die Harley-kultuur. Later die jaar was ek saam Barcelona toe waar Harley-Davidson sy nuwe Softail-reeks bekendgestel het. Die fiets wat my met die grootse glimlag gelaat het, was sonder twyfel die Breakout. Harley-Davidson is besig om hulself te herontdek, en ek wag ywerig op die nuwe modelle.

Die Ural (Foto: Brian Cheyne)

Ural

Seker die grootste pretdag van 2017 was op ʼn Ural met ʼn syspan. Dit is ʼn koddige kombinasie en ou tegnologie, maar vir die afstand wat ek afgelê het, maklik die grootste glimlag-per-kilometer ooit!

Kawasaki se Z1000SX

Hierdie was nou een fiets wat ek ernstig sou oorweeg. Gemaklike, soliede verrigting en ʼn prys wat nie jou oë laat traan nie.

Die Ducati Multistrada 1200S (Foto: Brian Cheyne)

Ducati Multistrada 1200 S

Verreweg die hoogtepunt van my jaar was die Ducati Multistrada. Dit bly steeds, vir my lengte en behoeftes, die perfekte fiets. Ek wil hierdie jaar die kleiner 950 kry en dalk verander my opinie tog nog.

Nou kyk ons na 2018, en met net 52 weke in die jaar gaan dit maar moeilik wees om by alles uit te kom. Een fietsie waarna ek baie uitsien is die BMW 310 GS. Ek weet sommer hy gaan gewild wees hier. Later die jaar behoort ons ook die BMW 850 GS plaaslik te kry. Dan is daar nog Africa Bike Week en die South African Bike Festival, so as jou voorkeur tweewiele is, hou maar styf vas, hierdie gaan ʼn groot jaar wees!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.