Motorfietse: 2018 se hoogtepunte en ʼn blik op 2019

Die Triump 1200 Scrambler.

Hierdie tyd van die jaar is ons Facebook‑blaaie vol rapporte en mense wat trots is op die jaar se prestasies. Oral is daar kindertjies wat benoud uitsien na wat vir 2019 voorlê.

As ek terugkyk op my jaar en motorfietse, dan sien ek met opgewondenheid uit na 2019, en sit tevrede en kyk terug na die jaar wat verby is. Twee persoonlike hoogtepunte staan vir my uit hierdie jaar. Die eerste was toe ek die Binder-broers ontmoet het. Nederig maar uiters kompeterend. Die tweede was dat ek kon deel wees van die ongelooflike storie van die blinde motorfietsryer, Jacob Kruger.

Seker die beste nuus vir plaaslike motorfietsryers was Triumph se hertoetrede tot die Suid-Afrikaanse mark. Na ʼn tydperk van onsekerheid is die nuwe verspreiders aangewys en ʼn uitgebreide modelreeks bekend gestel. Ons het al die nuwe modelle gaan ry by die bekendstelling. Een model wat my beïndruk het, was die 1050cc Speed Triple. Triumph verwag vir 2019 heelwat nuwe en opgekikkerde modelle. Bo-aan my lys vir 2019 is sekerlik die nuwe 1200 Scrambler.

BMW se 400 CX bromponie.

BMW het die jaar afgeskop met hulle G 310 GS, en alhoewel die klein buksie nie eintlik gebou is vir grondpad nie, het ons meer grondpad met hom gery as met die 750/850 GS se bekendstelling. 2019 gaan ʼn jaar van groot verwagtinge wees vir BMW. Hulle het twee baie belangrike modelle wat kom: die R 1250 GS en die nuwe S 1000 RR. Die RR maak nou sy stem dik op die World Superbike‑kampioenskap, en baie rus op die nuweling se skouers. Met ʼn ryer van Tom Sykes se kaliber nou in die span, hoop ek regtig dat hulle ʼn stappie nader aan die podium kan gee. Die 1250 GS word vroeg in die nuwe jaar plaaslik bekend gestel. BMW bring ook hulle nuwe 400 CX‑bromponie hierheen.

KTM het ʼn besondere jaar gehad. Met vier modelle in die avontuursegment, het hulle verkoopsyfers mooi geklim. Die nuwe 790 Duke is bekend gestel en is seker die mees volledige pakket vir my persoonlike behoeftes. Waarna ons egter almal uitsien, is die 790 R Adventure. Hierdie fiets beloof om ons stofpadryers se harte te verbly en behoort teen Mei 2019 hier bekend gestel te word.

Die Indian 1200 FTR

Die Japanse vervaardigers was maar stil hierdie jaar, en dit is maar dieselfde storie vir volgende jaar. Yamaha terg nou al jare met beloftes van ʼn 700cc Tenere, maar of dit in 2019 ʼn werklikheid gaan word, bly ʼn ope vraag. Honda het ook hulle Africa Twin effens opgesmuk met nuwe verf en klein verbeterings. Suzuki se opkomende Katana is seker die beste Japanse vooruitsig vir die nuwe jaar.

Ducati het ook net verbeteringe aangekondig, maar as ek ʼn kans kry om die nuwe Panigale V4 R te ry, sal my jaar seker volledig wees. Die Panigale V4 was aangewys as die motorfiets van die jaar vir 2018, en dit was ʼn belewenis om hierdie fiets te ry.

Harley-Davidson het onderneem om 100 nuwe modelle teen die einde van 2027 bekend te stel, so ek verwag ʼn paar nuwe modelle uit Milwaukee. Die ander Amerikaanse vervaardiger, Indian, het hulle FTR bekend gestel, en hopelik sal die fiets plaaslik in 2019 beskikbaar wees.

As motorfietsgeesdriftige is daar nie ʼn tekort aan nuwe modelle op die horison nie. Ek is reg vir 2019!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.