Motoriste gewaarsku oor karstoeltjies vir kinders

Argieffoto. (Pixabay)

Argieffoto. (Pixabay)

Hoewel kinders wat hul karstoeltjies ontgroei het, maar nog te klein is om volwasse sitplekgordels in voertuie te gebruik, volgens wet steeds behoorlik vasgegespe moet word, toon onlangse studies dat dit dikwels nié die geval is nie.

Kinderveiligheidsnavorsing deur die Automobiel Assosiasie van Suid-Afrika (AA) wat verlede jaar gedoen is, dui aan dat ʼn kwart van motoriste erken dat hulle glad nie hul kinders onder die ouderdom van 12 jaar vasgespe nie.

Die AA meen dié statistiek is uiters kommerwekkend aangesien dit lewensgevaarlik kan wees om kinders, of die kind nou voor of agter in die voertuig sit, nie vas te gespe nie. “Studie op studie het getoon dat kinders wat nie behoorlik vasgemaak is nie, en wat in padongelukke betrokke is, selfs teen ʼn lae spoed, ʼn groter kans het om ernstig beseer te word of te sterf,” het die AA in ʼn mediaverklaring laat hoor.

In die geval waar kinders te groot is vir ʼn karstoeltjie, maar te klein vir volwasse sitplekgordels, moet daar gebruik gemaak word van versterkte stoeltjies (“booster seats”), wat gepas is vir die kind se grootte en gewig. “Jy stel ʼn kind se lewe in gevaar deur met hom in ʼn voertuig te reis sonder dat hy vasgegespe is,” voeg die AA by.

Die AA sê daar is vyf belangrike reëls wat motoriste moet toepas wanneer hulle met kinders reis:

  • Stel ʼn voorbeeld deur altyd jou eie sitplekgordel te gebruik.
  • Kies die regte karstoeltjie vir jou baba of jong kind.
  • Maak seker die stoel is behoorlik in die motor vasgemaak.
  • Gordel jou kind behoorlik in die karstoeltjie vas.
  • Verstel die harnasse soos wat die kind groei en pas die harnasse aan tussen die somer en winter aangesien hul kleredrag dan verskil.

Om ouers en voogde by te staan om die regte keuse oor karstoeltjies te maak, het die AA die uitslae van die omvattende verbruikerstoetse, wat deur die Duitse Automobielklub (ADAC) gedoen is, gepubliseer.

Dié uitslae verskaf inligting oor baie van die karstoeltjies wat in Suid-Afrika beskikbaar is en hoe dit gevaar het tydens veiligheidstoetse. Dit dien as ʼn nuttige riglyn vir voornemende kopers. Die belangrikste wenk wanneer ʼn karstoeljie aangekoop word, is egter om jou voertuig en jou kind na die winkel te neem en verskeie modelle te toets voordat ʼn besluit geneem word.

‘Dit sal nie met my gebeur nie’

Argieffoto. (Pixabay)

Argieffoto. (Pixabay)

Die AA sê daar is ongelukkig die persepsie onder baie motoriste dat hulle glo hulle is uitstekende bestuurders en dat hul passasiers nie vasgegespe hoef te wees nie aangesien “hulle nooit in ʼn ongeluk betrokke sal wees nie”.

“Mense oorskat hul bestuursvaardighede wat op die ou einde nie bepaal of hul wel in ʼn ongeluk betrokke gaan wees of nie. Baie goeie bestuurders is die slagoffers van ander mense se roekelose padgebruik en presies om dié rede moet elke noodsaaklike stap gedoen word om jou en jou passasiers se veiligheid te verseker.”

Huidige wetgewing vereis dat kinders tot op die ouderdom van drie jaar vasgegespe moet wees in ʼn karstoeltjie wanneer daar gereis word. Die AA sê dat dit nie voldoende is vir ʼn volwassene om die kind in die voorste sitplek van die voertuig vas te hou wanneer die voertuig op die pad is nie.

“ʼn Kind van 10 kg wat betrokke is in ʼn ongeluk teen 60 km/h, sal as’t ware 600 kg weeg op die oomblik van impak. Met daardie gewig sal niemand dit kan verhoed dat ʼn kind deur die voorruit vlieg nie. Mense wat met kinders op hul skote sit terwyl hul bestuur, selfs al is hul self vasgegespe, is roekeloos en onverantwoordelik en moet onmiddellik hierdie gevaarlike praktyk staak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Ronel ·

My kinders het tot op die ouderdom van 7 in ‘n stoeltjie gesit, of dit nou babastoeltjie was of net die booster, hulle was daarin EN behoorlik vasgemaak ook. En nou nog dra hulle en ek veiligheidsgordels. My oudste is 15 en jongste 12. Dit het gebeur dat hulle weier om vasgemaak te word, maar dan het die wiele ook stilgestaan. So maklik soos dit. Ek verpes dit as ek verby mense ry en die kind hang soos ‘n vink tussen die sitplekke.

Tersis ·

Dit is nie minder as reg vir die kinders se veiligheid nie. Maar een vraag, wat gaan gedoen word aan die Taxi’s.

Christien ·

Ek het altyd my kinders vasgemaak in karstoeltjies. Hulle is nou tieners, en weet, die wiele rol nie as die sitplekgordels nie vasgemaak is nie. Indien jy ALTYD jou kinders in karstoeltjies vasmaak, weet die kind nie van beter nie én sal hul nie huil as hul vasgemaak moet word nie. Laat jou kind vir 5 min huil as wat jy vir altyd met die seer in jou hart moet saamleef, want as ek maar net…

Diereliefhebber ·

Dieselfde reël behoort te geld vir troeteldiere, by name honde, maar ek het ook al apies gesien, wat op Oubaas se skoot sit terwyl hy bestuur. Ek dink nie ‘n karstoeltjie is hier die oplossing nie, maar die agtersitplek wel. In Europa verlaat ‘n baba nie die hospitaal sonder ‘n karstoeltjie nie. (Onthou prins William toe hy George en Kate gaan haal het?) Niemand word verskoon nie.

ChristaC ·

My seun het een oggend weggetrek by die huis toe hy hoor “Pappa jy my nie vasgemaak”. Die kleintjie het self geweet hy moet vasgemaak wees en pappa het vergeet. Hy was bitter dankbaar vir die ou klein mense wat weet wat reg is.

Malanie Burger ·

Dit maak my WOEDEND as ek ‘n persoon sien wat vasgegespe is maar sy/haar kinders staan tussen die twee voorste sitplekke, of op die voorste sitplek, en is nie vasgegespe nie!!! Daar moet sommer HELSE boetes vir hierdie onverskillige mense gegee word….. duidelik is hulle nie gepla of hulle kinders iets oorkom sou hulle in ‘n ongeluk kom nie….

Lorinda Gerber ·

Ek voel baie sterk oor hierdie saak. As ouers nie hulle kinders vasgespe nie, moet hulle aangekla word van poging tot moord/ten minste kinder mishandeling. Ek verpleeg en het gesien hoe `n 3 jarige dogtertjie breindood verklaar word. Sy het voor langs haar Ma gesit en haar kop het die ‘dash board’ getref … Daagliks sien ek mense in voertuie met kindertjies wat in die voertuie staan. Ek word woedend as ek dit sien.

anoniem ·

Ek is self n ma van twee,en hulle word ook vasgemaak in n karstoeltjie,maar net vir interressantheid,hoe het ons ouers ons om vadernaam groot gekry?????want in daai tyd was daar nie sulke goed nie,en ons was by in n kar waar gerook is,en ons het onder die tafels geslaap wanneer hulle gaan dans het…..

Ook Anoniem ·

Verskil tussen vandag en ons ouers se tyd, is dat ons ouers se motors ordentlike gebou was. As hulle in ‘n ongelukkie gekom het, mos die panele met lood reg gemaak word. Vandag se motors noem ons sommer Coke-blikkies. Die geringste stampie en die paneel moet vervang word.

IK ·

Dit was die goeie ou tyd. Geen taxis, minder verkeer, geen gekoopte lisensies, geen K53, ordentlike verkeerstekens en BAIE spietkops.

Sê maar net 1 ·

Daar was minder motors en padverbruikers op die pad, en dan ook minder padvarke. Ek dink ook die gemiddelde persoon se ik was hoër as die gemiddelde persoon op straat s’n vandag. En soos iemand sê die motors was sterker gebou.
Nog ‘n punt, die mense qas meer wetsgehoorsaam as vandag. Daar was gevolge vir onverskilige padverbruik, nie soos vandag waar wetteloosheid aan die orde van die dag is nie.
Dis hoe ons ouers ons veilig groot gekry het sonder ‘n motorstoeltjie

Milwa ·

Ek stem saam dat dieselfde reel moet geld vir diere maar gaan soek nou iets om jou hond mee vas te gespe! Jy moet dit ten duurste op die internet gaan aankoop

Lalla ·

Glad nie duur nie. Ons Jack Russell het n hok wat op die agtersitplek pas wat vasgemaak word wat ek by Checkers gekoop het vir R129. Dis lekker groot hy kan selfs regop sit en staan en rondbeweeg. By PetWorld kry mens gespe’s wat by jou gordel houer indruk en aan jou hond se leiband vasmaak vir R99.

Johan de Beer ·

So, jy maak jou hond aan sy nek vas in geval van ‘n ongeluk? Is dit nie maar net om die hond weg te hou van die bestuurder af nie?

Danie ·

10 uit 10 vir al die vreeslike wetsgehoorsame mense. As julle nie wit velle gehad het nie, kon julle almal nou burgemeesters gewees het.

Michael Bouwer ·

Hmm, nee ek verstaan nie, hoe die kind van 10kg op 60km/h, 600kg weeg nie. Dit wil se die geforce is 60?? Whaaaaaat.

60km/h is 16.67m/s

Nou kom ons se in die botsing kom die kar tot n stilstant in 0.5 sekondes, dit wil se die versnelling is 33. 34 m/s^2, dit wil se die geforce is 3.4 wat se die kind weeg 3.4 keer sy eie gewig.

Francis ·

Hulle bereken nie die “g-force” hier nie, maar die momentum.
Dit word bepaal deur gewig en spoed te vermenigvuldig.

Michael Bouwer ·

So wat jy se is dis eintlik 600kgm/s, en nie 600kg nie?

Michael Bouwer ·

So wat jy se is dis eintlik 600kgkm/h, en nie 600kg nie?

Magda ·

Dis baie hartseer om te weet wie in SA die karstoeltjies wel gebruik, en ook wie se kinders word geleer om reg in ‘n kar te sit en nie die hele kar vol te dans wanneer mamma en pappa bestuur nie.Kinders gooi tantrums en dan word hulle gegee wat hulle wil hê, dit is die probleem. Ek sê nie ek is die perfekte mamma nie maar mens moet oor jou kind se veiligheid dink. Dit is jou verantwoordelikheid. Ook is daar gevalle wat ek van weet wat in my familie gebeur het waar die ongeluk te groot was en baba se nekkie is net daar af op impak maar sy was in ‘n karstoeltjie. Dis nie net die stoeltjie wat belangrik is nie maar die tipe kar wat belangrik is. Nie almal kan miljoen rand karre wat veiliger is as ander bekostig nie.

Help Asb ·

As ‘n nuwe ouer is daar soveel goed wat mens moet leer. Sal julle nie asseblief ‘n artikel plaas wat wys watse stoeltjie is gepas vir watse stadium nie? Daar is soveel verskillendes op die mark en mens het bitter min leiding van wat is reg, vir watse ouderdom, en wat is verkeerd.

Anette ·

Car seat support south africa op facebooj help baie!! Persoonlik gebruik my kind al van geboorte die joie stages wat gaan tot hy 7 is as ek reg onthou. Beste geld spandeer ooit!! Lyfie isheeltyd veilig en gemaklik al ry mens ver

Anette ·

Car seat support south africa op facebooj help baie!! Persoonlik gebruik my kind al van geboorte die joie stages wat gaan tot hy 7 is as ek reg onthou. Beste geld spandeer ooit!! Lyfie isheeltyd veilig en gemaklik al ry mens ver

Penellope Jones ·

Ek sien heelwat ouers waar Pa bestuur en kind sit voor op Ma se skoot.
Ek merk ook op dat kinders voor op die passasiersitplek regop staan(!) terwyl Mamma erens heen ry!

Anoniem ·

EK ONDERSTEUN KARSTOELTJIES AS VERPLIGTEND…WAAROM IS VEILIGHEIDS-GOEDELS VERPLIGTEND…MAAR NIE OP KINDERS WAT AGTER IN N MOTOR SIT NIE…N MA WAT MET HAAR KIND OP HAAR SKOOT SIT, BEHOORT N SWAAR BOETE TE KRY….REDE:- IN ONS FAMILIE IS N KIND VIR 23 JAAR GETREMD, NADAT HY DEUR DIE VENSTER GESLINGER IS, DEURDAT N ANDER MOTORIS N STOP-TEKEN VERONTAGSAAM HET.,, AANSKOU DIE HARTSEER, EN DAN SAL JULLE BESEF HOE NOODSAAKLIK N OORDENTLIKE KARTOELTJIE OF GORDEL IS..!

Johanna Botha ·

Het gister agter n ”ma” gery waar die kind tussen die 2 voorste sitplekke staan en die ma se rookdampe inasem …uiters onverantwoordelik ! Toe word die stompie ook nog by die venster uitgeskiet ! !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.