Motors en bakkies meer betroubaar

Foto: Alpha M Garage (amg-gsf.com)

Foto: Alpha M Garage (amg-gsf.com)

Marknavorsingsmaatskappy Ipsos – wat hom toespits op die motorbedryf en jaarliks verslag doen oor die gehaltevlakke van nuwe motors (op basis van aantal foute per 100 voertuie verkoop/gediens), het in sy 2014-verslag aangedui dat gehaltevlakke aansienlik gestyg het.

Trouens, die 2014 Ipsos-verslag was besonder gunstig vir die wêreld se oudste motorvervaardiger, Mercedes-Benz. Laasgenoemde het in die afdeling vir luukse motors uitsonderlik presteer met die E-klas wat ʼn verstommende telling van net 10 probleme per 100 voertuie (PP100) aangeteken het, gevolg deur die C-klas koepee (14) en die C-klas (petrol) ook op 14.

In die afdeling vir ‘gewone’ motors – ook bekend as die hoë volume segment – was Mazda baas met ʼn telling van 24. Benewens Mazda, wat ook die 2013-wenner was, het die silwer toekenning gegaan na Toyota (28) en Opel op 29 PP100. Die gesamentlike 3e plek is toegeken aan Chevrolet (35), Ford (37) en Volkswagen, ook 37.

Wat die toekenning nog meer uitsonderlik maak is dat die meeste probleme gewentel het rondom minder kritieke aspekte soos windgesuis, rammels (rattles) en af en toe elektriese probleme. Ernstige meganiese foute was skaars.

In die ligte handelsvoertuigkategorie (bakkies) was Toyota baas met ʼn telling van 39, wat bestaan het uit die beste een-ton enkelkajuit (39), die beste een-ton dubbelkajuit algeheel (39) en die beste plaaslike vervaardigingsaanleg vir ligte handelsvoertuie (38).

Volkswagen (44) was algeheel tweede, terwyl Chevrolet (51) en Nissan (54) die derde plek verower het. In die afdeling vir dubbelkajuit-bakkies was Nissan (59) die naaswenner, gevolg deur Ford met die derde prys op 63 probleme/100 voertuie.

In die enkelkajuit-afdeling het Ford (45) en Isuzu (48) in Toyota se nek geblaas as mede-naaswenners, maar daar was geen toekennings in die bronsafdeling nie. Wat die vervaardigingsaanlegte betref, was Chevrolet/Isuzu (54) tweede, gevolg deur Ford/Mazda se Silverton-aanleg derde op 61.

In die kategorie vir individuele modelle, het die Toyota Hilux enkelkajuit (petrol) uitgeblink met ʼn briljante telling van 18, met die Ford Ranger enkelkajuit (petrol) ook indrukwekkend op 27.

Volkswagen se ligte handelsvoertuigafdeling kan ook heel tevrede voel met hulle produkte se prestasies. Die Amarok diesel dubbelkajuit het geskitter met 38, die petrol-dubbelkajuit het 50 aangeteken, terwyl die diesel enkelkajuit slegs 56 foute/100 voertuie gehad het. Selfs die bakkie aan die onderpunt van die bevinding – die Mazda BT-50 diesel dubbelkajuit – het ʼn telling van 75 behaal. In leketaal is dit slegs ¾ probleem per nuwe voertuig.

(Maroela Media se lesers sal weet dat hierdie navorsing deur Ipsos by wyse van telefoniese gesprekke gedoen word – gewoonlik binne enkele weke na die aankoop van ʼn nuwe voertuig of nadat ʼn voertuig gediens is.)

In die afdeling vir dienstevredenheid (passasiersmotors) het die goue toekennings gegaan na Audi en Lexus, gevolg deur silwer vir Chevrolet, Mercedes-Benz, Nissan en Volkswagen. Die gesamentlike derde plek (brons) is verower deur BMW, Opel en Toyota.

Klaarblyklik was die diensondervinding vir die eienaars van ligte handelsvoertuie ook ʼn prettige affêre. Hier het Chevrolet, Isuzu, Nissan, Toyota en Volkswagen almal goud gekry, terwyl Ford/Mazda die tweede plek (silwer) gevul het.

Opsommend kan dus gesê word dat vanjaar se toekennings aan die onderskeie vervaardigers daarop dui dat die bedryf moeite doen om sy diensgehalte voortdurend te verbeter – met die kliënt wat uiteindelik die voordeel trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

johan ·

Dagse

n Interessante verskynsel globaal is die amalgamering van fabrikate.Onderdele vir verskillende fabrikate
word deesdae onder een dak vervaardig.Die meeste motor onderdele word in China en Korea vervaardig
en word deur alle fabrikate gebruik . In S A gebruik die meeste fabrikate een transmissie vervaardiger
en een komponent vervaardiger vir baie verskillende onderdele,dus deur te se ek ry Duits ,Frans of Japanees is vinnig besig om te verdwyn!

MOOI RY

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.