Motorverkope erg onder druk

Die Toyota Hilux. Foto: Verskaf

Nadat Oktober welkome groei in motorverkope opgelewer het, het November se syfers egter weer slegte nuus meegebring: Dié maand se verkope, gemeet teen dié van November 2017, dui op ʼn geleidelike agteruitgang.

Volgens Naamsa, die Nasionale Motorvervaardigersvereniging, het nuwe voertuie met ʼn totaal van 47 486 eenhede met 2 265 (4,6%) gedaal, terwyl passasiersmotors (31 054) ʼn afname van 1 764 eenhede (5,4%) getoon het. Dat die individuele kopers sukkel, word weerspieël in die berekening dat die verhuringsmark vir nagenoeg 23,9% van die verkope verantwoordelik was.

Verkope van ligte handelsvoertuie en bakkies (13 695) het met 891 eenhede (6,1%) afgeneem – ook ʼn slagoffer van dalende verbruikersvertroue en toenemende druk op die verbruiker se besteebare inkomste.

Onder die tien top-verkopers was Toyota steeds in die eerste plek op die podium, maar sy totaal van 10 904 was ʼn dramatiese 2 438 eenhede minder as in Oktober vanjaar. Toyota se top-verkoper, én die algehele top-verkoper, was weer eens Hilux (3 235) met goeie ondersteuning deur Corolla met 1 426 verkope, Quantum (1 694) en Fortuner met 886 verkope.

Die nuwe Volkswagen Polo Vivo (Foto: Volkswagen)

Die gebruiklike naaswenner, Volkswagen, het 8 503 verkope aangeteken danksy sy gereelde twee staatmakers, Polo (3 092) en Polo Vivo met 2 427 voertuie wat nuwe tuistes gevind het. Ander presteerders in die VW-stal was Golf 7 met 297 verkope, en die Audi-afdeling se indrukwekkende 798.

Ford (5 279) beklee soos gewoonlik die derde plek – aangehelp deur Ranger (2 506) – Figo met 1 195 verkope, en Fiesta met 980.

Die vierde plek behoort steeds aan Nissan (5 054) wat ʼn geringe verbetering is op die maatskappy se Oktober-syfers van 4 902. Nissan se sterre is NP200 met 1 698 eenhede, Almera (520), X-Trail (200), en NP300 met 761 verkope.

Daar is ʼn groot gaping tussen die eerste vier en Hyundai (2 508) in die vyfde plek ondanks ʼn afname van meer as 500 eenhede. Hyundai se Grand i10 het 786 verkope aangeteken – en dit nadat hierdie model die afgelope aantal maande gereeld die duisend eenhede-kerf behaal het.

Die Renault Kwid. Foto: Verskaf

Renault (2 159) het een plek opgeskuif tot die sesde plek danksy mooi prestasies deur Kwid (847), Sandero II op 554 verkope, en Clio IV op 310.

Intussen sal Isuzu met 1 805 verkope in die sewende plek besorg wees oor die meer as 600 eenhede wat hy verloor het – gemeet aan Oktober se 2 462 totaal. Met uitsondering van die MU-X is Isuzu, maar ʼn one trick pony by name die KB-bakkiereeks. Einste KB het net 815 kopers genoegsaam beïndruk, terwyl die nuwe naam – D-MAX – darem 603 kopers se aandag getrek het. Vanselfsprekend sal Isuzu hard daaraan werk om sy sesde plek terug te kry.

Mercedes-Benz (1 630) skuif een plek op tot agtste ondanks 300 minder verkope (teenoor Oktober).

KIA (1 505) is wankelrig in die negende plek en is net een van twee vervaardigers onder die tien top-verkopers wie se verkope verbeter het teenoor Oktober vanjaar. Sy topverkoper Picanto (567) is egter ʼn duisend-per-maand model en behoort derhalwe veel beter te doen. Ander presteerders in die KIA-stal was onder meer Rio (297) en die indrukwekkende Sportage wat 427 nuwe tuistes gevind het.

Soos die vorige maand bly BMW (1 305) in die laaste plek en, soos Mercedes-Benz word individuele modelverkope nie bekend gemaak nie.

Vanselfsprekend val talle vervaardigers/invoerders buite dié lysie, maar speel hulle nogtans ʼn belangrike rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Die Range Rover Velar (Foto: Range Rover)

In hierdie opsig is dit veral Jaguar/Land Rover (356) en Volvo (281) wat goed gevaar het, asook

Porsche (115) wat gereeld meer as 100 voertuie per maand van die hand sit.

Toyota se luukse handelsnaam – Lexus – het egter ʼn beskeie 69 eenhede verkoop, en is blykbaar nie in staat om Jaguar se 98 te troef nie.

In die über luukse segment behoort November aan Ferrari met 11 verkope, gevolg deur Maserati (5) en Bentley op vier. Audi se skitterende R8 het egter net een koper se hart gesteel.

Waarskynlik was November se verkope, skraal soos dit was, ʼn beklemmende voorteken van ʼn verswakkende mark waar die vraag na gebruikte motors reeds 69% van alle verkope beloop, en die spook van stygende rentekoerse om die draai lê en loer.

Die negende generasie Toyota Corolla (Foto: Toyota)

Top tien passasiersmotors

  1. Volkswagen Polo 3 092
  2. Volkswagen Polo Vivo 2 427
  3. Toyota Corolla/Auris/Quest 1 426
  4. Ford Figo 1 195
  5. Ford Fiesta 980
  6. Toyota Fortuner 886
  7. Renault Kwid 847
  8. Toyota Yaris 748
  9. Toyota Etios 731
  10. Hyundai Grand i10 726

DIe nuwe Ford Ranger Raptor (Foto: Verskaf)

Top tien ligte handelsvoertuie

  1. Toyota Hilux 3 235
  2. Ford Ranger 2 506
  3. Nissan NP200 1 698
  4. Toyota Quantum 1 694
  5. Isuzu KB 815
  6. Nissan NP300 761
  7. Isuzu D-Max 603
  8. Hyundai H100 298
  9. Volkswagen Amarok 273
  10. Nissan Hardbody 241

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Louis ·

Hoekom gebruik julle ‘n stok ou foto van die Corolla reeks wat al 11 jaar van die mark af is?

Lientjie ·

Wet nie hoe kan julle al die D-Max op sit nie. Dis nou eers2 weke op die handelaars se vloere!

Hennie ·

D-Max en KB is dieselfde bakkie, dit is hoekom dit op die lys is.

Johan ·

Onthou, mense koop Nissans omdat hulle MOET (agv. prys), nie omdat hulle WIL nie! En onthou dat die staat alte lief is vir oom Frikkie se bakkie, die NP200’s, en die “doodskis-op-wielle” NP300 Softbody.

Kyk dan eerder na die Navara (privaatkopers) wat slegs 140 eenhede (volgens Car) van die hand kon sit, en dit is wat Nissan se reputasie in SA is…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.