Motorverkope: Groot skommelinge onder top-10-vervaardigers

Die nuwe Volkswagen Polo Vivo (Foto: Volkswagen)

Te midde van beter as verwagte voertuigverkope in Junie vanjaar – 1 346 eenhede (3%) meer vir ’n totaal van 46 678 – was daar redelik dramatiese skommelinge onder die sogenaamde toptien-invoerders/vervaardigers.

Die beste vertoning was deur die passasiersafdeling waar 29 886 nuwe voertuie verkoop is wat op ’n verbetering van 4,4% (1 261 eenhede) neerkom. Die ligte handelsafdelingskomponent, daarenteen, het ietwat teruggesak vir ’n totaal van 14 261 eenhede – 58 minder as in Junie verlede jaar.

Onder die toptien was Toyota oudergewoonte baas met ’n allemintige totaal van 11 824 – selfs beter as Mei se 10 688-verkope. Merkwaardig het Hilux met 3 936 verkope kort duskant die vierduisend-merk gedraai. Ander Toyota-presteerders was Corolla/Auris/Quest (1 226), Fortuner met 1 190 verkope, Etios (977), Yaris op 885 en RAV met 753 voertuie wat nuwe base gekry het.

Volkswagen bly steeds in die tweede plek met ’n totaal van 6 524 – ietwat beter as Mei se 6 514 totaal en die wete dat Polo Vivo (2 285) steeds die topverkoper-passasiersmotor is, gevolg deur die nuwe Polo (1 844). Ondanks ’n goeie vertoning deur Tiguan (518), kan hierdie uitstekende produk maar net nie vorder teen Toyota se RAV nie – om nie eens te praat nie van Amarok wat op 314 verkope minder as tien persent van Hilux se prestasie verteenwoordig.

Die nuwe Volkswagen Polo Comfortline (Foto: Volkswagen)

Die grootste verrassing is egter die stryd om die derde plek. Reeds in Mei was die skrif aan die muur toe Ford se 4 164 totaal net ’n kortkop voor Nissan se 4 100-verkope was. Vandeesmaand was die mense van Rosslyn se 4 977 totaal meer as genoeg om Ford se 4 064 te troef.

Nissan se presteerders was steeds sy bakkies met NP200 op 1 847 verkope, en NP300 op 783 eenhede. Ander Nissan-sterre was X-Trail met 508 verkope en Datsun GO op 466.

In die vierde plek lek Ford wonde terwyl die bedryf ook peins oor die skielike vertrek van sy vorige bedryfshoof, dr. Casper Kruger. Ford se Ranger, soos in die verlede, help om die syfers blink te vryf met ’n totaal van 2 667 verkope, terwyl ander uitblinkers bestaan het uit Everest (406), Fiesta op 346 verkope en EcoSport op ’n beskeie 221 totaal.

Hyundai beklee steeds die vyfde plek met 3 108 verkope – aangehelp deur Grand i10 op 933, Creta op 597 verkope en i20 op 579 eenhede wat nuwe tuistes gevind het. Hou gerus ’n ogie op die H100-bakkie wat met 212 verkope binnekort by Mahindra Scorpio Pik Up (232) verby behoort te beweeg.

Vir Renault was Junie ook ’n goeie maand, want sy 2 475 totaal teenoor Mei se 1 781-verkope het die vervaardiger van die sewende tot die sesde plek opgeskuif. En dit ten koste van Mercedes-Benz (2 070). Renault se topverkopers was Kwid (1 023), Sandero II op 937 verkope en Clio IV op 216 eenhede verkoop.

Die Renault Kwid. Foto: Verskaf

Kort op die hakke van Mercedes-Benz, wat nie individuele modelverkope deurgee nie, is Isuzu met ’n agtste plek onder die toptien en ’n totaal van 1 964. Vanselfsprekend kan hierdie prestasie gekoppel word aan die groep se KB-bakkiereeks.

BMW vroetel steeds rond in negende algeheel met ’n telling van 1 714 verkope – gerugsteun deur die 3-Reeks se 530 verkope en 293 verkope vir die X3.

In die laaste plek, soos in Mei vanjaar, is KIA se 1 409 verkope darem beter as die 1 276 voertuie wat in Mei vanjaar verkoop is. Weer eens was dit Picanto (764) en Rio met 315 verkope wat die knoop deurgehaak het. Marksentiment begin blykbaar daarop dui dat KIA se nutsvoertuie – Sportage en Sorento – hulself uit die mark begin prys, met gepaardgaande swak verkope.

Onder die vervaardigers wat buite die hoëvolume-segment val, bly Mazda darem bo die duisendverkope-kerf (1067) danksy CX-5 op 427 verkope en Mazda3 se heel skaflike 254 eenhede wat na nuwe eienaars gegaan het.

Volvo, wat in die jongste verlede altyd gespook het om 200 voertuie in ’n maand te verkoop, verdien applous vir Junie se 301. Hierdie verbetering kan toegeskryf word aan die impak (101 verkope) van die briljante nuwe XC40, goeie ondersteuning met 83 verkope deur XC60, en 21 kopers wat vir die XC90 gestem het. Dit moet nou vir Volvo Suid-Afrika baie duidelik wees dat kopers toenemend hulle sportnutsvoertuie verkies.

Die nuwe Toyota Fortuner (Foto: Toyota)

Jaguar/Land Rover staan steeds redelik sterk in die mark met totale verkope van 486 eenhede waarvan 123 voertuie die Jaguar-embleem vertoon. Dis steeds aansienlik beter as Toyota se Lexus-reeks wat net 56 verkope kon aanteken.

In die über-luukse kategorie vertoon Porsche steeds skitterend met 97 verkope (hoofsaaklik Cayenne op 41 en 911 met 33 nuwe eienaars).

In hierdie dunlug-omgewing vertoon Bentley (6), Ferrari (6) en Maserati (ook 6) heel stabiel, terwyl Lamborghini nie laat weet het of hulle iemand oortuig het om wiele by hulle aan te skaf nie. Audi se R8, wat ook in hierdie groep tuishoort, het ietwat teleurgestel met net twee voertuie wat nuwe tuistes gevind het.

Intussen dui Naamsa aan dat robuuste internasionale sakevertroue ons uitvoere behoort te stimuleer – mits die dreigende proteksionisme onder beheer gebring kan word – en mits politici tot hulle sinne kom.

Toptien-passasiermotors

  1. Volkswagen Polo Vivo: 2 285
  2. Volkswagen Polo: 1 844
  3. Toyota Corolla/Auris/Quest: 1 226
  4. Toyota Fortuner: 1 190
  5. Renault Kwid: 1 023
  6. Toyota Etios: 997
  7. Renault Sandero: 937
  8. Hyundai Grand i10: 933
  9. Toyota Yaris: 885
  10. Toyota RAV: 753

Toptien- ligte handelsvoertuie

  1. Toyota Hilux: 3 936
  2. Ford Ranger: 2 613
  3. Nissan NP200: 1 847
  4. Toyota Quantum: 1 376
  5. Isuzu KB: 1 372
  6. Nissan NP300: 783
  7. Volkswagen Amarok: 314
  8. Mahindra Scorpio Pik Up: 232
  9. Hyundai H100: 212
  10. GWM Steed: 174

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Vierde paragraaf, Volkswagen se syfers. Jul het dit dalk omgeruil want 6514 is nie beter as Mei se 6524 nie. Dit is minder.

Cyril Blackburn ·

Dagsê Eish
Dankie vir jou kommentaar! Die syfers was inderdaad omgeruil – ons vra om verskoning. Die artikel is reeds gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.